Gwede Mantashe se vergelyking van die ANC-alliansie met die Goddelike Drie-eenheid regverdig kritiek (DB,04.11). 'n Relevante vraag is egter of, veral, die kerk self in 'n onaanvegbare posisie verkeer om na buite te kritiseer terwyl dit self intern aan kritiek onderhewig is.
Ontbreek dit nie die kerk aan eerlike en noodsaaklike selfondersoekende kritiek nie? Soos voorheen lewer die kerk ook nou weer kritiek op godslasterlike opmerkings van buite die kerk wat ons - vanuit vorige ervarings - reeds wéét dat dit periodiek vir propagandistiese verkiesingsgewin misbruik word.
Daar is skerp gereageer vanuit die kerk op Mantashe se opmerkings, maar waarom vind ons nie dieselfde soort reaksie ook binne die kerk self oor ontwikkelende tendense daarbinne waaromtrent die kerk homself blootstel aan kritiek nie? Waarom nie die hand ook in eie kerklike boesem steek oor sy hantering van kwessies soos dié oor Satan, voorhuwelikse saamwoon, die gay-aangeleentheid, evolusie-invloede in die kerk, en onmin oor die Belharbelydenis en voorgenome kerklike eenwording nie?
Verwag die kerk dat Mantashe en die ANC positief op sy kritiek sal reageer? Reageer die kerk positief op interne kritiek teen homself ingebring? In aansluiting hierby sê Derek van Rensburg (BY,09.11) : "...kerke het hul geloofwaardigheid ingeboet en ons pak verniet die skuld op ateïste, skeptici, die media en ander buite-kerklike instansies." Wat kerklidmate en DA-ondersteuners tans met mekaar in gemeen het, is 'n gebrek aan vertroue in hul onderskeie leierskorpse.
'n Tydige en deeglike kerklik-kritiese selfondersoek het, in die lig van heersende kwessies in die kerk wat daartoe lei dat duisende lidmate die kerk verlaat - 'n lidmaatreaksie waarvoor die kerk aanspreeklikheid moet aanvaar vanweë sy hantering van sulke kwessies - dringend noodsaaklik geword. Die tyd vir die toepassing van kerklik-interne selfkritiek het aangebreek.
No comments:
Post a Comment