Monday 18 November 2013

Oor AS-afgevaardigdes en AS-besluite

Lidmate wil weet hóé predikante-afgevaardigdes na 'n algemene sinode (AS) aangewys word. Is sulke afgevaardigdes waarlik verteenwoordigend van die meerderheidsoortuigings van ringspredikante,  -kerkrade en  -lidmate? Die potensiële bestaan van uiteenlopende oortuigings oor kerkaangeleenthede behoort tog seker in die AS-samestelling weerspieëling te vind? Raak dit dan nie die geldigheid van AS-besluite nie? Is AS-afgevaardigdes, daarom, tegelyk ook meerderheidsverteenwoordigers?

Lood Oliver (Kerkbode, 14.11) worstel met dieselfde vraag. Hy sê: "Argumentshalwe gaan daar een predikant uit 'n ring na die algemene sinode toe. Hy of sy gaan praat en stem namens sowat agt gemeentes. En in hierdie agt gemeentes is daar waarskynlik 'n hele aantal lidmate wat vir   -   en dalk meer wat téén   -   'n bepaalde saak is."

Vir so ver Oliver weet, vergewis predikante-afgevaardigdes hulself nie vooraf oor die meerderheidsgevoel van predikante en lidmate oor bepaalde sake nie. Afgevaardigdes praat en stem dan waarskynlik volgens persoonlike oortuigings. Vind afgevaardigde-deelname dus plaas in opdrag van ringspredikante,  -kerkrade en  -lidmate? Dieselfde vraag geld ook die kontekste van ringe en kerkrade, aldus Oliver.

Oliver wys ook op die jarelange spanning in die kerkreg tussen die afdwingbaarheid van AS-besluite op gemeentes enersyds, en andersyds dat kerkrade "baas op eie plaas' is. Ons weet reeds die kerkleierskap propageer 'n "nuwe" en "anderse denke" oor kerkaangeleenthede. Oliver sê dit raak die AS se "nuwe manier" van besluitneming: "Ons besluit sus en só   -   maar as jy nie daarmee gemaklik is nie, mág jy anders daaroor besluit." Dié keuse-karakter van AS-besluitneming word juis weerspieël in onlangse besluite oor Satan en Belhar.

Hóé kan 'n toegelate verskil in keusestellende besluitneming volgens 'n ja-én-nee benadering kerklidmate tot eensgesinde geloofseenheid in Christus saambind? Christus het gesê: Laat julle ja ja wees, en julle nee nee. Meer as dit gesê, kom van die Bose (Mat.5:37).                   (ngn)






2 comments:

  1. En dan is dit ook die vreemdste manier van stem Tommie: met die oplig van gekleurde kaarte? Waarom kan hul nie in die geheim stem nie? Voel party nie daardeur geintimideer nie en stem dan volgens groepsoortuiging? Hierdie AS het minder as 200 mense namens 'n kerk van by die miljoen besluit wat die pad vorentoe is!

    ReplyDelete
  2. Het hulle nie by die laaste sinode met sms'e gestem nie?

    ReplyDelete