Tuesday, 29 April 2014

Petrus bevorder die saak van die ANC

Petrus verkwalik my (DB,29.04) vir my erkenning van goeie dienslewering deur plaaslike staatsamptenare op my tuisdorp. Hy sleep dié plaaslike erkenning die nasionale ANC-domein binne en beskuldig my dat ek 'n Zuma-ondersteuner geword het en suggereer beledigend dat ek iets onder die toonbank moes deurgegee het daarvoor. Is jou konteksteverskuiwing veroorloof, Petrus? Ek dink nie so nie.

Petrus het sigbaar 'n probleem met erkennende kredietverlening waar dit gepas toekom. Wanneer 'n kolwer uitgeboul word en hy daarna erkenning gee aan die bouler vir die afstuur van 'n uitstekende boulaflewering, of wanneer 'n rugbyspeler die hand reik na 'n speleropponent wat aan die verkeerde kant van die skrum lê om hom op te help, is dit dan aanduidings van pro-opponente gedrag, óf juis van sportiewe gedrag in goeie gees van die spel? Wanneer een van ons beroemde Boeregeneraals 'n gewonde gevange Britse generaal medies laat versorg en daarna terugstuur na sy mense, is dit verraad óf 'n handeling volgens die Geneefse Konvensie vir oorlogvoering?

Petrus toon duidelik 'n gebrek aan die noodsaaklike onderskeidingsvermoë wat vreedsame saambestaan van ons almal vereis, en, as gevolg daarvan, vervreem hy potensieel goeie vriende en geesgenote wat hulle saam met hom in die stryd teen die ANC bevind en maak hy diesulkes tot vyande.

Petrus, waak daarteen om nie jou gebalanseerde perspektief op die lewe te verloor nie. Die lewe behels mos darem baie méér as net die ANC. Ons moenie toelaat om te daal tot op die korrupte vlak van ons teenstanders nie, maar ons "hoër grond"-posisie behou. Ons moet waak dat ons nie onsself geestelik ontmagtigend verdeel en só in die hande van die ANC speel nie. Oorwin deur Britse Imperialisme het ons voorouers ook alles verloor, maar nie hul geloof in hulself, hul volk en hul God nie.

Petrus, met jou verdagmakende aanval, vanweë 'n perspektiefgebrek, op mede anti-ANC-gesindes bevorder jy juis die saak van die ANC.








Wednesday, 23 April 2014

Wengeld teen sonbrand op Kreta gebruik

Baie dankie aan Die Burger vir die R200 kontant ontvang vir my brief van 19 April. Dié weeklikse toekenning is reeds einde 2002 ingestel in die vorm van 'n R200-koopbewys aanvanklik deur Pick 'n Pay geborg. Met my brief, "Stop taalmuitery oor Afrikaans" (DB,04.11.02), was ek die heel eerste gelukkige ontvanger van dié koopbewys. Die Burger het moeite gedoen om dié toekenning by my NMMU-kantoor af te lewer, 'n geleentheidsfoto te neem, en dit op Vrydag 08.11.02 gepubliseer   -   'n stukkie wenbrief-geskiedenis.

Ek het destyds dié R200-koopbewys aan 'n behoeftige persoon geskenk (DB,14.11.02). Presies hóé ver 'n mens toe   -   kruideniersware-  óf brandstofgewys   -   met R200 sou kon kom, weet ek nie meer nie, maar ongetwyfeld verder as vandag met byna twaalf jaar van geakkumuleerde inflasie en Randwaardevermindering agter die rug.

Beslis geen ondankbare "gegewe-perd-in-die-bek-kyker nie", wonder ek of dit nie tyd geword het vir Die Burger om dit te oorweeg om sy weeklikse wenbedrag opwaarts aan te pas nie (slegs 'n wenk). Wat koerantlesers twaalf jaar gelede vir dié dagblad betaal het teenoor wat dit hulle vandag kos, kan dalk as riglyn hiervoor dien.

Wat ons met die R200 gaan doen? Sonbrandolie koop vir ons (DV) in vooruitsiggestelde besoek aan die eiland Kreta gedurende die eersvolgende noordelike somer, 'n besoek vergesel van   -   en hoofsaaklik moontlik gemaak deur   -   ons twee oorsee-wonende seuns en hul gesinne. As bevoorregte ouers is ons egter pynlik bewus, saam met duisende ander ouers, dat baie van ons kinders én kleinkinders se voetspore nie meer op ons SA strande gevind word nie, maar wel op vreemde strande elders ter wêreld.      (ngn)




Monday, 21 April 2014

Dié kritiek is verfoeilik en dra niks by

Ek staan, soos Petrus (DB,21.04), ook geregverdig krities ingestel teenoor die ANC, daarvan getuig die talle briewe van my wat tevore reeds daaromtrent in Praat Saam gepubliseer is. Anders as Petrus, sien ek egter ook die positiewe raak in dienslewering   -   al is dit ook "in 'n gebied wat omtrent nooit donderweer kry nie"   -   en gee die nodige erkenning daaraan.

Dit is 'n algemeen positiewe lewensbeginsel dat, deur erkenning te gee aan daar waar dit verdien word, neig om deeglike werk en goeie prestasies voortgeset in die hand te werk. Laasgenoemde is ook 'n natuurlike sowel as noodsaaklike opvoedkundige beginsel wat positiewe vrugte afwerp, hetsy in skoolse onderwys, die huislike opvoeding of selfs ook in staatsinstellings. Volgehoue negatiewe kritiek   -  ook daar waar erkenning verdien word   -   werk kontra-produktief. Dit is presies waarmee Petrus homself besig hou in sy kritiek op my skrywe.

Ook die verbetering van dienslewering in ons staatsinstellings, is afhanklik van die toepassing van die algemeen menslike sowel as opvoedkundige beginsel van erkenning gee daar waar dit toekom. Laasgenoemde verbeter ook intermenslike verhoudings met die vooruitsig van verbeterde dienslewering. Die afwesigheid daarvan, soos duidelik die geval by Petrus is, werk presies die teenoorgestelde in die hand.

Net die blote suggesties van Petrus dat "dr. Breitenbach ook nou 'n Zuma-ondersteuner" is, my naam vermeld word in die konteks van "om by staatsdienstoonbanke ietsie onder daardie toonbanke aan te gee", en "tensy jy in 'n gees van sarkasme geskryf het", vind ek tegelyk verfoeilik én verwerplik en verdien die minagting wat dit toekom. Petrus   -  'n Bybelsbetekenisvolle naam   -   onthou gerus dat daar van Christus self ook gesê-vra is: Kan daar dan iets goeds uit Nasaret voortkom?  (ngn)




Tuesday, 15 April 2014

'n Grondwetlik geprogrammeerde president

Ek vind aansluiting by Nommer Een se herhaaldelik vertelde, dog hoogs ongeloofwaardige, "goeie storie"   -  myne egter geloofwaardig; dit berus op persoonlike ervaring waarvan ek eerstehands kan getuig.

Verjarende in Aprilmaand, besoek ek verlede Maandag die Departement van Binnelandse Sake op my tuisdorp om vir my nuwe ID-kaart aansoek te doen. Ek is aangenaam verras met die vriendelike wyse waarop die aansoekprosedure verduidelik word. Daar is vier punte om te besoek op dié aansoekroete.

Besoekpunt 1 is die kassiere. Daar vertoon ek my huidige ID-dokument. As senior burger hoef ek niks te betaal nie   -   'n "goeie storie". Besoekpunt 2 voorsien my van 'n nommer wat ek op die elektroniese flitsborde moet volg om, vervolgens, na besoekpunt 3 te beweeg vir fotoneming, en daarna na besoekpunt 4 vir vingerafdrukke neem. Hier word gesê dat ek binnekort 'n sms ter erkenning van my aansoek sal ontvang. Nog voordat ek dié lokaal verlaat, ontvang ek dié sms   -   'n "goeie storie". Vrydag, 96 uur later, ontvang ek 'n sms dat ek my ID-kaart kan gaan afhaal   -   inderdaad 'n "goeie storie".

Is dit nie 'n uitmuntende voorbeeld van puik dienslewering, en sal ons dan nie erkenning gee waar dit verdien word nie? Toegegee, dit is grootliks te danke aan 'n onlangs ingefasseerde nuwe elektroniese stelsel wat, so verneem ek, deur persone-in-opleiding beman word. Waarom kan ander staatsdepartemente dan ook nie deur dieselfde gehalte van dienslewering gekenmerk word nie? Is dit nie hoog tyd dat die "stort" op Nommer Een se kop verwyder en vervang word deur 'n rekenaar as simbool van sy grondwetlik-versoenbaar "geprogrammeerde" presidentskapsmetamorfose nie?










Thursday, 10 April 2014

Afrikaners,bruines skepties oor DA-steun

Die telefoon lui. 'n Onbekende Engelssprekende vrouestem vra of ek die DA ondersteun. Dis 'n vraag van hoogs persoonlike aard en ek beëindig die gesprek.

Daar is onsekere kiesers wat wroeg om vir watter party te stem. Onder hulle tel ook konserwatiewe Afrikaners. Die korrupte ANC is nie 'n opsie nie. In die lig van ANC-korrupsie, vermoed ek, is vele Afrikanerstemme vir die DA dan ook eerder anti-ANC- as pro-DA-stemme. 

Bied die DA vir die konserwatief-volksgeoriënteerde Afrikaner 'n realistiese toekomstuiste? Om S.A. te regeer, móét die DA die meerderheidstem verkry. Almal weet uit watter oord dié steun moet kom. Al sou dié meerderheid "gematig" wees   -   waaruit die toekomstige partyleierskap sal móét kom   -   leer Suid-Rhodesië ons dat Ian Smith met "gematigde" leiers soos 'n Ndabaningi Sithole en Abel Musorewa begin het, maar geëindig het met 'n Zimbabwiese Mugabe-diktatorskap. Kan ons die toekoms aan Afrika-"gematigdheid" toevertrou? Dié DA-roete lyk problematies.

Kan/Wil, vervolgens, die liberaal Engels-georiënteerde DA werklik die behoeftes en belange van konserwatiewe Afrikaners dien soos, byvoorbeeld, hom beywer vir die behoud van Afrikaans in universiteite en staatsinstellings? Is die DA daarmee te vertrou? Ek het my bedenkinge. Bevorder die prysgawe van konserwatiewe Afrikanerbelange nie juis die DA-liberalisme nie?

Waarom nie eerder die kieserskorps op 'n vrywillige keusegrondslag organiseer in belangegroepe/politieke partye wat gemeenskaplike waardes onderskryf, dieselfde behoeftes en toekomsvisie deel, en sluit dan samewerkende koalisie-vennootskappe en kom so in 'n regerende posisie nie? Jan du Toit (DB,08.04) sê in sy brief: "Mnr. Peter Marais waarsku dat die bruines hulle daarvan moet weerhou om vir...die DA of die ANC te stem." Eggo Marais se oproep nie presies dieselfde siening en bedenkinge vanuit bruin perspekrief nie?                       (ngn)






Monday, 7 April 2014

ANC/NP nié "dieselfde soort" bevryders

In sy "Oogklappe help SA nie uit gemors" (DB,04.04) sê Leopold Scholtz "dat die ANC in die oë van miljoene swart mense dieselfde soort bevrydingsbeweging as die Nasionale Party 'n eeu gelede vir talle Afrikaners was." Dat die ANC en NP "dieselfde soort bevrydingsbeweging" genoem kan word, bevraagteken ek ten sterkste. Voorbeelde waarna Scholtz verwys, versterk my oortuiging daaromtrent.

Scholtz sê dat as jy "na die ANC se geskiedenis voor 1990 kyk, is dit duidelik dat die SA Kommunistiese Party hom...oorheers en sy rigting bepaal het". Vir die NP (Afrikaners) was Kommunisme ideologiese vyand nommer een   -   beslis dus nie van "dieselfde soort" nie. Scholtz sê verder "die ANC het nie vir vandag se liberaal-demokratiese grondwet geveg nie, maar vir 'n Leninistiese eenparty-diktatuur"   -   ook van "dieselfde soort"? Verder het die ANC "uiters wreed teenoor andersdenkendes in eie kring opgetree en sy oorlog teen apartheid op 'n moreel bedenklike wyse, deur terreur, gevoer"   -   van "dieselfde soort"?

Van Mandela, spesifiek, sê Scholtz dat hy "nie die sondelose Messias was soos hy hom later bekend gestel het nie", en waar die NP-regering eers "na 30, 35 jaar aan die bewind korrup geword" het, was die ANC "al voor 1994 deurtrek van die korrupsie"   -   van "dieselfde soort"? Vir swartes om, volgens Scholtz, die ANC en NP as "dieselfde soort bevrydingsbeweging" aan mekaar gelyk te stel, is 'n blatante leuenagtige poging waaragter die ANC skuil om sy voortgesette kommunistiese agenda, misleidend en verdoeselend, te probeer regverdig.







Thursday, 3 April 2014

"Ou koeie"-opgrawing vertraag versoening

Ek verwys na twee sinne van J.du Toit se driesin-skrywe: "Ongelykheid in SA is geen toeval nie" (DB,03.04), waarvan die eerste lui: "Die 'ou koeie' wat dr.T.C.Breitenbach so graag begrawe wil sien, is nooit na behore omgesien nie." Laat ek eerlik erken dat ek nie mooi weet wat presies daarmee bedoel word nie. Afrikaanssprekendes wéét egter wat met "ou koeie" bedoel word en hoedat dit binne 'n velerlei van kontekste toepassing vind.  My briefopskrif: "Los die ou koeie ter wille van versoening" (DB,02.04), dui immers op die spesifieke konteks waarbinne dit gebruik is   -   geen maklike konteks om daarbinne toe te pas nie.

Almal van ons, insluitend Du Toit, grawe tog sekerlik sóms "ou koeie" uit die sloot. As konserwatiewe Afrikaners nooit die Engelse vergewe het vir nagenoeg 34 000 kampsterftes, asook verlies van hul republikeinse onafhanklikheid nie, sou waarskynlik géén Afrikaner ooit pragmaties vir die liberale Engels-georiënteerde DA gestem het nie.

My beroep op Johann Maarman was dat, indien hy dan "ou koeie" uit die "polisiesloot" móét opgrawe, hy dit wel mag doen, maar dan op " 'n grondslag van billikheid, regverdigheid en, veral, op 'n gebalanseerde wyse." Is laasgenoemde, as kriteria vir "ou koeie" opgrawe, asook die opoffering om "ou koeie" te laat rus ter wille van broodnodige versoening   -   want wat is die alternatief   -   dalk te veel gevra vir Du Toit?

Met Du Toit se laaste sin: "Ongelykheid in dié land is geen toeval nie", kan ek my mee vereenselwig. Hoe daaraan inhoud gegee en vertolkend mee omgegaan word, is egter allesbepalend. Om te begin by S.J.du Toit se gedig, "Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het", is dalk een goeie beginpunt.






Tuesday, 1 April 2014

As dit dan móét, behou tog net balans

Ongebalanseerd eensydige skrywes laat 'n wrang smaak in die mond, te meer as jy uit ervaring vooraf weet dat, om beswaar daarteen te maak, futiel is   -   en nou waarskynlik wéér. 'n Voorbeeld hiervan is Johann Maarman se "Trane dam weer op in Tutu se oë" (DB,31.03) waarin hy dit het oor die "Nkandlaskandaal aan die vlagpaal van apartheid." Hierin skets hy die "geestelikes in hul priesterlike gewaad op die trap van die St.Georges-katedraal...die 'Katedraal van die Mense' in Kaapstad" waartydens Zuma op plakkate gevra word om op vrae oor Nkandla te antwoord.

Maar dan steek Maarman by dié katedraaltrappe vas waar "nie te lank gelede nie" bloed gevloei; skuiling teen die polisie se swepe, knuppels, traangas, skokgranate, rubberkoeëls en "Purple Rain" gevind is; gebid is vir die ontbanning van organisasies en hul leiers, en Mandela vereer is. Wat hoop Maarman om hiermee te bereik, behalwe om 'n dooie perd te bly skop? Waarskynlik dieselfde as met sy "Die 'skop, skiet, bliksem' brigade" (DB,11.03.2013) waarin hy slegs op 'n enkele polisiewreedheid van die huidige SAPD wys met, daarteenoor, die name van tien slagoffers onder die vorige SAP-bedeling.

Ag, wil Maarman nie maar   -   ter wille van versoening   -   asseblief die ou koeie in die sloot begrawe laat nie, óf, indien hy dan wel vergelykings tussen die ou en die nuwe polisiebedeling móét tref, dat hy dit op 'n gelykwaardige grondslag van billikheid, regverdigheid en, veral, op 'n gebalanseerde wyse sal doen.