Thursday, 25 June 2015

ANC moet dissiplinêre les geleer word

Dit kom die ANC duidelik kort aan die nodige dissipline wat van 'n verantwoordelike regerende party verwag kan word. Dit het weer eens aan die lig gekom met die Omar Al-Basjirvoorval.

'n Elementêre definisie van dissipline is om jou vrywillig  te onderwerp aan die spelreëls wat binne 'n bepaalde konteks geld waarvan jy deel is. Talle instansies beskik oor 'n gedragskode waarby gehou moet word. Verkeers-  en sportkontekste is nog voorbeelde waar oortreding van sodanige geldende spelreëls, vanweë ongedissiplineerdheid, tot straf, tug en selfs skorsing kan lei.

As mede-ondertekenaar van die ICC-spelreëls het die ANC-voormanne dié reëls oortree deur nie Omar Al-Basjir in hegtenis te neem nie. Die ANC-leierskap behoort minstens voor 'n tugkomitee van die ICC te verskyn om daarvoor verantwoording te doen.

Die ANC hou homself graag grootmeneer in die internasionale gemeenskap wanneer dit hom pas. Die dissiplinêr gebrekkige ANC-opportunisme tydens die Al-Basjirvoorval behoort nie ongestraf gelaat te word nie. Die ANC moet leer dat dit nie die stert is wat die hond swaai nie.

Dit is noodsaaklik dat die magsmonopoliserende en gesagsentraliserende ANC teruggebring word aarde toe deur die leierskap daarvan 'n dissiplinêre les te leer. Dit is nou die tyd en geleentheid daarvoor.






Saturday, 20 June 2015

Zuma SA se nr 1 blaamverskuiwingstrateeg

Blaamverskuiwing is tipies menslik. Vroeg reeds verskuif Adam die blaam na Eva en sy na die slang. Selfs kultuurgemeenskapppe word daardeur gekenmerk, sommige net meer as ander vir wie dit 'n tradisioneel aanvaarde praktyk is. Tydens hofsake word veral persone in die regsberoep hiervan bewus.

Met Zuma as hoofstrateeg het die ANC blaamverskuiwing tot suksesvolle strategie vervolmaak. Vir alles wat sedert 1994 verkeerd loop, word apartheid en kolonialisme blameer. Waarheid lê onbereikbaar verskuild agter die ANC-muur van ontkennende blaamverskuiwing.

Blaamverskuiwing, as alliansievennoot van korrupsie, wurg dié twee tesame alle geloofwaardigheid uit die ANC-waarheidsomgang. Dit blyk, onder meer, uit die volgende: Zuma beweer "Afrikane het in vrede met mekaar saamgeleef en pret gehad, maar toe kom die  'ander (wat) hy liewer nie by die naam gaan noem nie' " (DB,25.05). Die onontkenbaar grootskaalse bloedvergieting van die Zoeloeverlede loënstraf dié Zumastelling. Wat vir duisende angs en verskrikking moes gewees het, is vir Zuma "vrede" en "pret". Wat 'n leuenagtige blaamverskuiwing.

Vroeër reeds het Zuma die begin van SA se probleme na Jan van Riebeeck verskuif. Hieromtrent het die Vryheidsfront Plus 'n klag van haatspraak teen giggelende Zuma   -  wat dit as 'n groot grap beskou en waarvan waarskynlik dadels sal kom   -   by die MRK ingedien.

Bykomende hiertoe is die nimmereindigende gevalle van blaamverskuiwing na die amptenary wat, met "goue handdrukke" ten koste van belastingbetalersgeld, uit diens gestel word. Die jongste blaamverskuiwingsvoorbeeld is dié van Omar al-Basjir van die Soedan.

As blaamverskuiwer sonder enige gelyke, kom die titel van SA se nommer 1 blaamverskuiwingstrateeg ongetwyfeld Zuma toe.




Saturday, 13 June 2015

Petrus, wat ons saai, sal ons oes

Ek verwys na Petrus se brief: "As ek beledig het, vra ek verskoning" (DB,12.06). Hy vra my "nederig verskoning", dog aan die verkeerde adres gerig. Hiervoor moet hy hom eerder wend tot dié Christus vir wie hy so verkleinerend beskryf as "verlosser...fundamenteel fataal" en bevraagteken óf Hy "wel die werklike Christus was...nie eers sekerheid of Jesus Christus bestaan het", en geloof in Christus as 'n "verslawingsmiddel" beskryf (DB,03.06).

Sy verskoning ten spyt, en ten spyte van my "beswaar teen sy opmerkings oor die Godheid van Christus" (DB,08.06), gaan hy onversteurd voort met sy verkleinering van Christus se Goddelike karakter waarteen ek, weer eens, sterk beswaar maak.

Petrus sê: "My bewering was dat die Christelike godsdiens mensgemaak en mensgerig is...(en) niks beter nie as die oppervlakkige afgodsdiens van voorvaderaanbidding (nie)...Die godsdiens bevredig net lidmate se egosentriese emosionele behoeftes...dat dit nie 'n gewete het...(en) net daar (is) vir die egosentriese mens..."

Petrus hou hom besig met 'n stiksienige "ontmaskeringspoging" van Christengelowiges en Christelike godsdiens. Waarom? Die Bybel self maak géén geheim daarvan om te onderskei tussen ware gelowiges en skyngelowiges nie. Petrus fokus op laasgenoemdes, maar skeer ook eersgenoemdes onder dieselfde kam. Dit sou Christene wel nog kon verduur én verdra, maar beslis nie die belastering van Christus, en sou die Christelike godsdiens "mensgemaak" en aan "voorvaderaanbidding" gelyk gestel word nie.

Met waarskuwende teregwysing as Bybelse opdrag aan Christengelowiges (Luk.17:3), wil ek, goedbedoeld, vir Petrus sê: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes (Gal.6:7). Dink goed hieroor na.                    (ngn)






Thursday, 4 June 2015

Petrus moet Christene om verskoning vra

Indien "Praat Saam" ruimte bied vir Petrus se "Christene het geen reg om so te kritiseer" (DB,03.06), kan verwag word om diegene wat van hom verskil se menings ook te akkommodeer.

Petrus sê die volgende: "Die geloof van  'een ware Christus as verlosser'  wat Christene bely, is net so fundamenteel fataal soos... nog 'n dogma soos 'n politieke dogma...(Dit is) nie eens duidelik of die Christus van die Protestantse Christendom wel die werklike Christus was (nie)...Daar is nie eers sekerheid of Jesus Christus bestaan het...nie. Vir die Christen wat dit blindelings volg, het dit dieselfde effek as 'n verslawingsmiddel..." Sover groter kritiek teen Christus as teen Christene, en waarom net teen "die Protestantse Christendom"?

In sy sms (DB,04.06) versoek Theo Scholtz die redakteur om "nie Petrus se snert te publiseer nie". Vir my lê dié skrywe op 'n veel dieper vlak as net snert. Indien Petrus dan móét kritiseer, kritiseer dan hulle wat hy "sogenaamde Christene" noem (ja, daar is wel diesulkes) as sondige wesens, maar moenie Christus self   -   'n sondeloos Goddelike Wese   -   daarby insluit nie. Ek maak ernstig beswaar teen Petrus se opmerkings oor die Godheid van Christus in wie my diepste geloofsoortuigings setel. Daarmee skend hy my reg tot vryheid van geloofsuitdrukking.

Met sy bewering dat Christene wat elke dag vleis op tafel het nie hul "godsdiens se etiese kodes gehoorsaam" nie, verraai Petrus sy tragiese onkunde dat die Ou Testamentiese seremoniële wette saam met Christus aan die kruis gespyker is.

Petrus moet daarteen waak om nie homself skuldig te maak aan dit waarvan hy ander beskuldig nie. Christus se hantering van die klipgooiers wat die owerspelige vrou wou stenig, getuig hiervan. Petrus is 'n verskoning aan Christene verskuldig.




Monday, 1 June 2015

In SA se belang om Zuma sy hofdag te gee

Met magsentralisering in homself vir persoonlike voordeel, is Zuma 'n meester. Hiervan is lojalis-minister Nathi Nhleko se kwytskelding van enige finansiële aanspreeklikheid vir sy Nkandla-woning die jongste voorbeeld van sulke bevoordeling (DB,29.05).

Zille, in haar: "Die ware Jacob" (DB,06.02.10), kwoteer 'n politieke "vennoot" wat sê: "Jacob Zuma het 'n mandaat van 11 miljoen mense om te doen wat hy (grondwet-negerend) wil." Die kommerwekkende Oudtshoornse ANC-weiering (DB,25.05) om die gesag demokraties af te staan, is 'n voorbeeld om "te maak soos hy wil".

Die ANC-vlag en  -kleure blyk vir Zuma en die ANC die nasionale simbole te verteenwoordig; die Vryheidsmanifes en Luthulihuis die nasionale gesagsinstellings, eerder as die Grondwet en die parlement; die staatskas die ANC-beursie; dat SA ANC-besit is, en nié die tydelike "bestuurder" daarvan nie.

Sedert Zuma in 2008 die presidentsamp aanvaar het, het SA reeds veertien plekke op die internasionale korrupsie-persepsieïndeks, persvryheidsindeks, geweldsindeks, indeks vir mislukkende state, en die innovasie-indeks teruggesak met, daarteenoor, die armoedevlak wat aansienlik gestyg het.

Kwalifiseer hy, in die lig hiervan, vir die titel van 'n ware demokratiese staatsman? Beslis nie! Kulturele verskille in ag genome, het Nommer Een vir vele SA'ners verleentheid nommer een geword. In 'n westerse demokrasie sou 'n mosie van wantroue hom waarskynlik lank reeds tot bedanking gedwing het.

Is dit bloot my verbeelding, of het Zuma 'n tyd gelede laat blyk dat hy graag sy dag in die hof sal wil hê? Indien wel, hoe gouer hoe beter in die lig van sovele aanklagte wat teen hom ingebring kan word. Sy hofdag kan net in ons demokrasie se belang wees.