Monday, 28 December 2015

Laat honger 'n mens jou respek verloor?

Byna 43 jaar gelede verloor ons ons eersteling vanweë nalatigheid van die hospitaalpersoneel. Geen eis of geldelike vergoeding sou vir dié traumatiese verlies kon vergoed nie. Sedertdien besoek ons die graffie met gereelde tussenposes. Die kers-  en nuwejaarseisoen is ook geleentheid daarvoor. 

Weerskante van die wit marmerbogie was daar blompotjies; onder die bogie self, 'n engelbeeldjie. Eers is die blomhouers; daarna die engeltjie verwyder (eufemisme vir steel). Aangrensend aan die begraafplaas is 'n bruin woonbuurt. Tot onlangs was dit 'n deurstaproete na dié woonbuurt. Onlangs is 'n hoë muur opgerig en, volgens hoorsê, twee kameras aangebring.

Tydens ons besoek van 'n dag of twee gelede sien ons hulle   -   toegerus met grawe, besems en water   -   sit in die skadu van 'n boom. Pas aangekom by die graffie, is twee van hulle onmiddellik by en begin, ongevraag, die graffie op 'n soliede blad, "skoonmaak".

Met groot moeite kry ek hulle so ver om hul werk te staak. Ek wys hulle op die doel van ons besoek: om in stilte, en sonder steurende inmenging, 'n paar minute van respekbetoning daar deur te bring.

Duidelik ingestel op die verdien van 'n fooi, was daar geen respek vir ons grafbesoek nie. Met versteurde gemoed en bedorwe besoek, laat ons blomme sonder om te vertoef. Ek stop hulle egter 'n paar Rand in die hand, want, is dit dalk werkloosheid en honger wat jouself, op 'n respeklose wyse, laat opdring aan ander?







Tuesday, 22 December 2015

Leer kind kersgeskenk-simboliek verstaan

Ons gee ons twee "plaaslike" kleinkinders (drie oorsee)   -   vyf en tien jaar onderskeidelik   -   die geleentheid om, beurtsgewys, tydens besoeke die tafelgebed te doen as deel van die noodsaaklik kinderlike leergebeure. Kom dit egter aan op kersliedere, sing hulle vir ons "Jingle Bells", "Rudolph the red nosed reindeer" en "We wish you a merry Christmas".

Dit is die liedjieskat wat, by gebrek aan voldoende blootstelling aan gepaste kersmusiek en  -sang, die sekulêre wêreld ons kinders graag met kersfees leer. Daar vind 'n toenemende klemverskuiwing plaas vanaf 'n toegewydheid aan die Kind in die krip na die simbole van kersvader, -bome en  -geskenke.

Waarheen, uiteindelik, lei dié toenemend getransformeerde kersfeesgees ons weerloos onskuldige jong kinders? William Booth bied 'n antwoord op dié vraag: "In answer to your inquiry, I consider that the chief dangers which confront the coming century will be religion without the Holy Ghost, Christianity without Christ, forgiveness without repentence, salvation without regeneration, politics without God, and heaven without hell"   -   so ook kersfees sonder Christus.

Leer kinders, in die ware kersfeesgees, dat ons geskenke aan mekaar bloot simbole ter herinnering is van die transendente God se geskenk aan ons, Sy seun, wat, almal wat Hom aanneem, vryspreek en die ewige lewe skenk   -   die heel kosbaarste geskenk wat die sterflike mens ooit kan ontvang.






Thursday, 17 December 2015

Geloftedag se Afrikaner hou koers-bakens

Geluk, en baie dankie, aan die Geloftefeeskomitee van Despatch vir 'n baie geslaagde aanbiedingsprogram van dié jaarlikse volksfees. Hulle het daarin geslaag om, in die persoon van dr.Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en spreker van formaat, hom vir die hou van die feesrede sowel as die Geloftediens te bekom.

Visueel toeligtend, het Langner tien hou koers-bakens aan feesgangers voorgehou. Piet Retief se manifes waarin die Afrikanerkarakter reeds na vore kom. Andries Pretorius as simbool van 'n vrye en onafhanklike volksbestaan. Thaba N'Chu waar die Trekkers se demokratiese ingesteldheid beslag gekry het. Hoewel vreedsaam ingestel, sou hulle by Vegkop verdedig dit wat vir hulle kosbaar was.

Die trek oor die Drakensberge na Natal simboliseer die skeiding tussen die verlede en 'n nuwe toekoms. Goeie verhoudinge was die grondslag vir grondonderhandelinge   -   allermins grondroof! 'n Versorgende gemeenskap kristalliseer na die Retief-  en daaropvolgende moorde. Bloedrivier vertel van 'n afhanklikheid van God   -    'n "kyk-op-en-vertel". Anna Steenkamp plant akkerboomsade van Wellington by Groenvlei, Lindley   -   "plant-met-geloof". Voorgeslagspore word bevestig, dog trap ook nuwe spore.

Indien volkse Afrikaners vandag binne die polities-korrekte nasionale landskap na medevolksgenote soek en kwalik meer kan vind, is 'n Geloftefees die plek waar diesulkes nog te vinde is. By hulle is daar nog 'n identiteitstrots en strewe na 'n  -behoud, verweef in 'n lotsverbonde behorendheid, te vind.




Thursday, 10 December 2015

Ondersoek psige vir taallojaliteit

Leopold Scholtz (DB,03.12) en Heindrich Wyngaard (DB,08.12)  skryf oor bruin mense wat nie, volgens verwagting, Afrikaans heelhartig ondersteun nie. Beide bied redes, en oplossings   -   boetedoening (Scholtz) en materiële kompensasie (Wyngaard)   -   daarvoor aan. Die vraag is óf hulle die primêre, of dalk eerder sekondêre, redes identifiseer.

Tesame met ons denke, intellektuele en skeppende vermoëns, psigiese vitaliteit en geheue   -   en nog meer   -   is ook taal 'n funksie van ons psige wat ons in staat stel om ons fisiese omgewing, sinvol kommunikerend naas ander, tot kulturele woonplek te omskep.

Indien taal dan 'n funksie van die psige is   -   en wêreldwyd kom daar 'n menigte van tale voor   -   beteken dit dat daar ook 'n aanienlike psige-verskeidenheid moet bestaan soos uitgedruk in 'n taleverskeidenheid. Kulturele-verskeidenheid, as "produkte" van psige-verskeidenheid, bevestig die voorafgaande.

Die Engelse, Duitse, Franse en Russiese nasionale psiges, saamgestel uit relatief homogene indiwiduele psiges, weerspieël onderskeibare tale en kulture as nie-identies. Waarom sal die psiges van bruin mense en Afrikaners nie ook van mekaar verskil, en ook neerslag vind in elkeen se ingesteldheid teenoor die Afrikaanse taal nie?

Khoitaalmense het hul taal sedert 1652 geleidelik verloor en vervang met Afrikaans soos, in hoofsaak, uit Nederlands ontwikkel. Is dié plaasvervangertaal vir Khoinasate 'n tipies psigies-eie taal? Laat bruin mense self oordeel. Nie-psigies-eie verengelsing was vir die ontwakende Afrikanervolkpsige 'n rede vir die Groot Trek.

Die taaltransformasiegolf, spoelende oor SA, is essensieel grondwetlik-ontoelaatbare aggressie van ANC-kant teen nie-Engelse moedertaalsprekers. Ons taleverskeidenheid is gesetel in ons psige-verskeidenheid wat die ANC wil transformeer tot 'n enkele ANC-verknegte psige. Om, daarom, Afrikaners en bruin mense se lojaliteit teenoor Afrikaans te probeer verklaar, verg, primêr, 'n ondersoek na die nie-identiese psiges van dié twee kultuurgroepe.                     (ngn)








Monday, 7 December 2015

Dié onderwysleier verdien ons waardering

Dankie aan "By/Die Burger" (05.12) vir erkenning verleen aan die onderwyspersoonlikhede Hennie Franzsen, Khaya Matiso en George Sonkwala wat, tydens die 1994--oorgang, 'n gefragmenteerde Oos-Kaapse Onderwysdepartement moes help konsolideer tot 'n enkele departement.

Dit is met groot waardering   -   en aansienlike mate van nostalgie   -   dat ek Alvené Appollis se artikel daaromtrent gelees het. Van hierdie drie het ek mnr. Franzsen geken en by verskeie geleenthede samewerkend met hom geskakel.

Ek het Franzsen geken as 'n persoon, nie alleen aansienlik talentbegaafd met uitsonderlik dinamiese dryfkrag nie, maar ook bereid om sy kennis en ervaring vir die onderwys van alle Oos-Kaapse leerders beskikbaar te stel en passievol eerlik aan te wend; nié ter wille van aansien en gunsverwerwing by die nuwe ANC-funksionarisse nie.

Vir die doel van oorbrugging tussen teoretiese lesinglokaal en klaskamerpraktyk gedurende onderwysersopleiding, het Franzsen ontmoetingsgeleenthede tussen studente, onderwysers en skoolhoofde   -  op versoek van ons fakulteitsdepartement   -   gereël én suksesvol gefasiliteer. Hy sou geen geleentheid laat verbygaan waartydens hy kon bydra tot onderwysverbetering nie.

Ook in 'n nie-amptelike hoedanigheid het hy die kortstondig bestaande Afrikaanse Ouervereniging vir Christelike Opvoeding en Onderwys ondersteun. In 'n tyd van toenemende geloofskeptisisme, het hy nooit gehuiwer om van sy Christelike oortuigings te getuig nie.

Hy was die spreekwoordelik deernisvolle onderwys-"jintelman"; 'n vriend en raadgewer van die toegewyde leerkrag wie sy inspeksiebesoeke nooit hoef te gevrees het nie. Synde 'n gehaltemens, het hy gehalte-onderwys bevorder. Aan so 'n uitmuntende onderwysleier is ons groot dank en waardering verskuldig.






Thursday, 3 December 2015

Mag US simbool van taalgeregtigheid word

'n US-studenteraadslid bepleit, teleurstellend, op TV die verengelsing van die Matiekampus. Waarom dié selektief eensydige beeldsending as sou dié student se mening verteenwoordigend van alle Afrikaanssprekende US-studente wees?

In dieselfde Afrikaans-onvriendelike trant sê André le Roux in "Maandag Aktueel" (DB,30.11) dat "Afrikaans in die breë S.A. diskoers (anglisisme!) ...nie veel wyer strek as 'n selfkwetsende bekgeveg onder wit Afrikaners nie."

Tydens 'n onderhoud met US-rektor, prof. Wim de Villiers (Matieland, Jaargang 58, 2015), is Jan-Jan Joubert op soek na "die wese van die nuwe rektorsiel". Benewens sy uitmuntende prestasies as US-student, ervaar dié rektor jarelange blootstelling aan buitelandse Engelstalige universiteite soos Oxford, Harvard en Kentucky   -   en mees onlangs ook Ikeys.

As rektor wil hy "Stellenbosch diversifiseer sodat 50% van ons studente teen 2020 swart is" (tans 38%)   -   'n optimistiese langtermynkwota dat dit slegs by 50% sal bly? Hy is "ten gunste van studente-aktivisme", en was in sy "studentejare lid van 'n groep genaamd 'Stellenbosch moet oop!' " As studenteraadslid was hy een van "vier linkses in 'n studenteraad van dertien."

Joubert bied hiermee beslis insig in dié "nuwe rektorsiel". Hy verdien egter krediet vir sy aanvaarding van die US Raad se mosie oor taalinklusiwiteit waardeur Afrikaans hopelik tot sy reg sal kom, en die US Bestuurspan se taalplan van algehele verengelsing verwerp word.

Mag die US 'n navolgenswaardige voorbeeld en nasionale simbool van taalgeregtigheid word. Laat ons vertrou dat die rewolusionêre elemente nie met vandalisering van US-eiendom sal reageer nie, maar wel grondwetlik-demokratiese volwassenheid sal openbaar.