Monday, 25 January 2016

Politiek nie-korrekte Max bevestig vermoede

Die rassegevoeligheid van die dag noodsaak almal om met versigtigheid die aktuele vraag te stel óf die ANC die oplaaiende rassespanning   -   spoelende oor SA soos 'n emosionele tsunamigolf   -   blatant gaan uitbuit in aanloop tot die plaaslike verkiesing. Ek vermoed die waarskynlikheid daarvan is groot. Waarom? Jaag rasgepolariseerde gemoedere op, en kieserstemme word daarmee die ANC-kamp binnegejaag.

Deur groter bewusmaking van die nasionale rassebewussyn kan 'n ANC-gunstige voorverkiesingsklimaat geskep word. "Die mense is kwaad", 'n periodiek gerapporteerde frase, is welbekend. Daar is heelwat aanduidings dat daar diegene is wat baie kwaad is vir die ANC se swak dienslewering, herhaalde leë beloftes, teleurgestelde verwagtinge, nepotisme en korrupsie. Na 22 jaar is die ANC-rug ietwat teen die muur. 

Daar is egter 'n eenvoudige omkeerstrategie tot die ANC se beskikking. Verskuif die swaartepunt weg van dit wat mense kwaad maak na iets totaal anders. Die huidige nasionale rassekwessie leen homself hiertoe. Verskuif daarom die rasionele redes vir kwaadwees na die emosionaliteit van ras wat tegelyk nugtere kiesersoordeel kan vertroebel. Pres. Zuma se onlangse beskuldiging van wittes van gronddiefstal is 'n voorbeeld van so 'n verskuiwing. Raskohesie en  -solidariteit bevorder ANC-steun.

Vanselfsprekend sal die ANC enige so 'n moontlikheid ontken, dog uit ervaring weet ons wat ANC-selfverontskuldiging beteken. Max du Preez (DB,23.01)   -   dikwels geneig tot politieke korrektheid   -   ignoreer enige versigtigheid vir politieke korrektheid en antwoord soos volg op my versigtig aangevoorde vraag: "Die ANC en EFF...gaan ras, rassisme en vermeende rassisme skaamteloos gebruik om stemme vir die komende plaaslike verkiesing te werf." Hiermee bevestig Max my vermoede.




Friday, 15 January 2016

Kom ons verskil sonder om te beledig

Met haar duidelik rasonderskeidend, diskriminerend eensydige kommentaar   -   op mediaberiggewing oor die gedrag van twee opponerende ondersteunersgroepe tydens die verhoor van die vier valslik aangeklaagde Paryse boere (DB,13.01)   -   "...die Asterixe en Obelixe...wat elke keer 'n vierkleurvlag gryp en na hofsake soos dié hardloop...is hierdie soort narre...wat die vyandige vlam van 'ons' en 'hulle' wil laat aanhou brand", bederf Corrie van Rooyen (DB,14.01) haar andersins goeie brief.

Ek vind haar opmerkings in swak smaak en uiters onsensitief. Die "ons" na wie sy verwys is lede van die kwesbare plaasgemeenskappe wat wreed aangerand en vermoor word. Die "hulle" is diegene wat vir dié aanvalle en moorde verantwoordelik is. Sal Van Rooyen dit waag om na "hulle" óók as "narre" te verwys? Nee, sekerlik nie. Waarom dan diskrimineer?

Van Rooyen het sekerlik nie self dié hofgebeure meegemaak nie. Ernst Roets van Afriforum sê ANC-  en EFF-lede het verskeie rassistiese en haatspraak-uitsprake gemaak, en ook "Kill the boer" gesing. Dien dit dan nie as uitlokkende provokasie nie? Die vierkleurvlag simboliseer volkse Afrikaners se eeue-oue strewe na vryheid en onafhanklikheid. Misgun Van Rooyen diesulkes hierdie ideaal?

Moet die "Asterixe" en "Obelixe" hul gedrag aan Van Rooyen verantwoord, of aan die grondwet? En wat van "hulle" gedrag waaroor Van Rooyen swyg? Waarom dié eenogig-eensydige kritiek op 'n enkele party? Van Rooyen verwag seker nie 'n klop op die skouer van die ANC vir haar toedraai van "hulle" in watte nie? Kom ons wees verdraagsaam teenoor verskille, en sonder om mekaar te beledig.            (ngn)





Thursday, 14 January 2016

Jeffreys lewer nie 'n konstruktiewe bydrae nie

My lees van Henry Jeffreys se: "Almal moet help rassisme smoor" (DB,13.01), vertolk ek as van 'n subtiel-bydraend swart-wit polariserende aard   -   waarvolgens wittes duidelik groter blaam moet dra vir rassisme   -   eerder as 'n konstruktief-objektiewe soeke na 'n oplossing daarvoor.

Ter aanvang toon hy nugtere oordeel wanneer hy sê: "Kom ons erken dit maar...rassisme sal altyd met ons wees...dat die stryd teen rassisme in al sy vorms nooit sal ophou nie...Rassisme is... 'n menslike verskynsel en álle mense is daartoe in staat." Met die beantwoording van sy eie vraag: "Beteken dit dat ons aanvaar dat die rassiste altyd met ons sal wees...?" neig hy na 'n subjektief bevooroordeelde siening van wittes as oorsaak van rassisme. Ek verduidelik.

Jeffreys sê: "Suid-Afrika...van die landing van die eerste setlaars af, is gebore in rassisme." Sy direkte verbintenis van "setlaars" en "rassisme" is volkome in ooreenstemming met Zuma se vroeëre beskuldiging van Van Riebeeck van rassisme. Hy betrek ook biskop Desmond Tutu wat gesê het: "...swart Suid-Afrikaners het 'n verpligting om hul wit landgenote uit die moeras van rassisme te lei." Ook herformuleer hy 'n vroeëre stelling van wyle Steve Biko soos volg: "...swart man, jy moet jou (wit) landgenoot 'n hand gee om te ontsnap aan die greep van rassisme..." Sê dit dan nie veel van waar Jeffreys die rassisme-oorsaak soek nie?

Dan krabbel hy terug, nadat hy die rassisme-oorsaak uitgewys het, en haal 'n swart biskop aan wat gesê het: "...swart mense is nie in staat tot rassisme nie." Gelukkig aanvaar hy nie dié stelling nie. Wat anders is die xenofobiese aanvalle op buitelandse vreemdelinge in SA as swart etnies- rassistiese geweld?

Met sy oorwegend bevooroordeelde benadering tot rassisme lewer Jeffreys geen konstruktiewe bydrae tot die objektiewe oplossing van dié rasseprobleem nie.




Monday, 11 January 2016

Oor rassisme en menswaardigheidskending

Alhoewel daar 'n direkte oorsaak-gevolg-verband tussen rassistiese opmerkings en menswaardigheidskending bestaan, blyk dié verband egter nie simplisties te wees nie. Selfskending van die eie menswaardigheid mag daartoe aanleiding gee dat ander dalk daarop mag reageer. Is sulke oorsaak-geïnisieerde reaksies noodwendig altyd van "rassistiese" aard, of dikwels 'n geval van: "Shifting the blame is the name of the (racist) game"?

Die begrippe rassisme en menswaardigheid is beide moeilik definieerbaar. By gebrek aan 'n werkbare definisie bly rassisme 'n hoogs emosionele, subjektiewe, arbitrêre en omstrede aangeleentheid. Vir jou eie rasgenoot (intrarassig) kan jy presies dieselfde sê as vir die vreemde rasselid (interrassig). In die intrarassige geval is dit nie noodwendig rassisties nie, maar in die interrassige geval is dit wel. Opmerkings oor rassegrense in 'n veelrassig-multikulturele samelewing is derhalwe riskant.

Wat vir rassisme geld, geld eweneens ook grootliks vir menswaardigheid. Die idee van menswaardigheid ontstaan van binne die mensbeskoulike konteks soos dié van die Christendom, liberalisme, kommunisme, animisme en evolusionisme. Gemelde voorbeelde huldig elkeen 'n partikuliere menswaardigheidsbeskouing. Is 'n universeel interrassig-interkulturele menswaardigheidsmodel, wat alle bestaande individuele menswaardigheidsmodelle bevredigend kan akkommodeer, moontlik? Oorweeg maar net die menswaardigheidsverskille wat betref die behandeling van vroue.

Gedwonge multikulturalisme dwing rasse aan mekaar op wat tot polarisasie eerder as versoening kan lei. Ook ANC-wanbestuur skep rassekonflik en  -spanning bevorderlik vir die klimaatskepping van rassisme. Sommige Suid-Afrikaners openbaar 'n oordrewe rassensiwiteit soos Velaphi Khumalo wat graag alle wit mense dood wil sien (DB,08.01)   -   rassistiese haatspraak. Gaan sy kop ook rol onder die rassisme-guillotine soos dié van Sparrow en Hart?

Die gevaar bestaan dat die meerderheidsgroep se rassisme-  en menswaardigheidsbeskouing op ongrondwetlik verabsoluterende wyse op alle minderheidsgroepe afgedwing kan word. Daarteen moet noulettend gewaak word.               (ngn)






Thursday, 7 January 2016

Rassisme, 'n sielkundige NDR-aanvalswapen

2016 begin met 'n rasseherrie en die voortgesette doelbewuste manipulering van rassisme wat, 
ironies,nog steeds ongedefinieerd bly (DB,06.01). Sedert 1994 is die ANC stelselmatig besig om   -    volgens die bloudruk van sy nasionale demokratiese rewolusie (NDR)   -   'n nasionale stande-indeling te ontwikkel: 'n primêre stand (onaantasbare meerderheid) en 'n sekondêre stand (kwesbare minderhede).

Dit verg geen ruimte-wetenskaplike kundigheid om te besef dat rassisme, as 'n kragtige wapen in die ANC se NDR-arsenaal, deur die onaantasbare meerderheid manipulerend aangewend word in 'n sielkundige terreurveldtog teen SA se minderheidsgroepe nie.

Rassisme-beskuldigings deur die primêre groep word omhul deur 'n wolk van kwasi-vroomheid, skynheiligheid en waarheidontkenning. Ek verdedig nie Penny Sparrow se verwysing na mense as ape nie, maar vind dit tog vreemd dat mense graag identifiseer met sekere dierlike eienskappe soos taaiheid (ratels), fluksheid (miere) en sterkte (leeus), maar dit onaanvaarbaar vind as hul menslik onaanvaarbare gedrag ooreenstem met dié van 'n dier van tipies soortgelyke swak gedrag.

Sparrow se opmerking kom vanuit die konteks van besoedeling. My eie ervaring daaromtrent: Hy gooi die leeg-geëte polystyrene bakkie by die motorvenster uit. Ek tel dit op, gee dit vir hom, en sê dit hoort in 'n vullishouer. Was my motief rassisties, of omgewingsopvoedend van aard? Was 'n opvallende gebrek aan omgewingsopvoeding nie dalk ook die essensie van Sparrow se opmerking eerder as rassisties nie?

Gemanipuleerde rassisme ingespan vir die doel van waarheidontkenning   -   'n voorbeeld: Die 1368 padsterftes die afgelope vakansieseisoen is 'n reële werklikheid. Sou ek dit waag vra dat dié syfer statisties volgens bevolkingsgroepe ontleed word ten einde te bepaal waar die grootste behoefte aan padgebruikopvoeding lê, sal ek gewis van rassisme beskuldig word. Dit is duidelik dat rasverdoeseling 'n veel hoër prioriteit as padsterftevoorkoming is. Voorbeelde waar rassisme werklikheid en waarheid manipulerend versmoor   -   waarin politieke korrektheid 'n kragtige vennoot daarvan is   -  kan vermenigvuldig word.




Monday, 4 January 2016

Veiliger tronkbestaan wag op Dalindyebo

Die tot 12 jaar tronkstraf-veroordeelde Temboe-koning, Buyelekhaya Dalindyebo (DB,30.12), stuur die gedagtes die verlede in op soek na potensieel soortgelyke gevalle van monarge wat tronkstraf opgelê is. Deur die loop van eeue was dergelike gevalle, veral in Engeland, nie vreemd nie.

Gedurende die 13de eeu is die Skotse koning, John de Balliol, deur die Engelse gevange gehou (1296-1299) en uiteindelik na Frankryk verban. Nog 'n Skotse koning, David II, word na 'n veldslag gevange geneem en aangehou (1346-1356). Na die betaling van 'n losprys word hy vrygelaat.

Die Franse koning, Johannes II, en sy seun word by Poitiers gevange geneem (1356) en eers losgelaat (1360) na die betaling van 'n losprys. Richard II van Engeland word in 1399 tronk toe gestuur, gedwing om te abdikeer en 'n jaar later vermoor.

Nog 'n Skotse koning, Jakobus I, word vir etlike jare deur die Engelse gevange gehou en eers na die betaling van 'n losprys, vrygelaat. As gevangene word Hendrik VI van Engeland in 1471 in die tronk vermoor. Edward V van Engeland word deur sy oom, Richard III, in die tronk gestop en, saam met sy broer, in 1483 vermoor.

Hendrik VIII van Engeland is berug vir die onthoofding van sy tweede vrou, Anne Boleyn (1536), sy vyfde vrou, Catherine Howard (1542), asook Thomas Cromwell (1540). Soms is die koppe van sulke onthoofdes   -   as waarskuwende afskrikmiddel   -   op pale langs besige verkeersroetes aangebring.

In kontras met bogemelde gevalle hoef die Temboe-koning darem seker nie vir sy lewe in die tronk te vrees nie. Ook 'n losprys is nie ter sprake nie. In teenstelling met 'n klapperhaarmat op harde sement en melk- en suikerlose slap mieliepap van etlike dekades gelede, is hy vandag verseker van 'n goeie bed, TV-vermaak en 'n gebalanseerde voedseldieet.              (ngn)