Thursday, 28 April 2016

SABC, "His Master's Voice", beheer 7de Laan

Retha (DB,27.04) sê 7de Laan is " 'n grillerige gemors" en vra daaropvolgend: "Wie is die beplanners van sulke siek platvloersheid? Hoekom is die slegte karakters hoofsaaklik wit mense? Aanvaar ons dit maar as die norm?"

In 'n "tvplus"-uitgawe (30.03-12.04) word in 'n artikel, "Sepie-opskuddings", lig gewerp op sommige van Retha se vrae. Die volgende is van die belangrikste:
1. Daar is "groot veranderings in die aard en fokus van sepies" aangebring.
2. 7de Laan se kykertal het vanaf 2.3 miljoen kykers in Maart 2007 gedaal tot 881 000 einde      
    Desember 2015. 
3. Nie net moet 7de Laan "nuwe kykers" vind nie, maar wel ook "die regte soort kykers".
4. "Die SABC het die finale sê in wie daardie kykers is, en hoe dit sal gebeur...in feitlik elke aspek...
    van die spelerlys tot die goedkeuring van storielyne."
5. "Die meeste van die geld wat die SABC kry, kom van adverteerders...(daarom) moet TV 
    aantreklik wees vir 'n jong gehoor wat koopkrag het en graag koop."
6. Die SABC-bestuur het "verreikende veranderings aan 7de Laan gelas... (soos) meer 'nie-wit',
    nie-Afrikaanssprekende karakters...(en) aanstel van swart skrywers (vir)...storielyne."
7. Dit lyk ook of 7de Laan "na donkerder, gewelddadiger storielyne mik", vandaar die PG13-
    waarskuwings.
8. Dit wil voorkom of "7de Laan vasgevang is in 'n situasie waar die waardes van sy kerngehoor 
    teenstrydig is met die waardes van die nuwe gehoor wat dit probeer lok."

Uit dié artikel word dit duidelik dat die SABC, His Master's Voice van die ANC, nou in volle beheer van dié getransformeerde sepie, en streng voorskriftelik daaromtrent, is. Met dié vermaaklikheids-vryheidontnemende dwangoplegging, word kykers uitgelewer aan breinspoelende indoktrinasie van regeringsweë   -   'n diktatoriale kenmerk.




Monday, 25 April 2016

Ons ly aan volkshistoriese miopie

Ons besoek 'n ernstig siek weermag-gepensioneerde swaer  -   wonende op 'n wildsplaas buite Thabazimbi in Limpopo   -   reeds drie maande in 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte, Pretoria.

Die afstand na die plaas is 1250 km en vandaar 'n verdere 200 km na Pretoria. Dié urelange rit bied ruim geleentheid vir allerlei denk-  en verbeeldingsvlugte. Die verbyflitsende landskap voer my gedagtes terug na twee besondere historiese gebeurtenisse uit ons Afrikanervolksverlede: die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

Voortsnellende deur die (tegelyk historiese) SA-landskap, probeer ek my voorstel hoe die Voortrekkers met hul waens, gesinne   -   aandgodsdiens by lantern-  en vetkerslig   -   en groot-  en kleinvee, al gevare-trotserend, die ongetemde wildernis binne getrek het. Verkenners sou vooruit die beste roete soek; veral waar spruite en riviere oorgesteek kon word. Later sou uit sweetmergelend moeitevolle ontbossing vrugbare landerye tevoorskyn kom. Hieruit dié gedagte: dink ons nageslag nog met dankbaarheid terug aan dié baanbreker-pioniers?

In groot gerief snel ons voort op ons roete deur 'n oorlogslandskap van bietjie meer as honderd jaar gelede. Met heelwat verbeelding word die murasies van afgebrande plaaswonings sigbaar, en galopperende perdehoefslae, knarsende Engelse soldatestewels, geweervuurknetter en fluitende liddietskrapnel hoorbaar. By Springfontein, Bloemfontein, Brandfort en Klerksdorp staan tentery op tentery en uitgeteerde kinders agter doringdraadversperrings van Britse konsentrasiekampe. Dieselfde gedagterefrein: hou ons nog hulle nagedagtenis in ere?

Die roete na ons siekebesoek aan 1 Militêre Hospitaal loop langs die Voortrekkermonument verby, by uitstek dié simbool van ons volkswording. My vraag: wat weet ons Afrikanerjeug van ons volksverlede, 'n verlede wat die ANC aan't uitwis is op skool, maar waaraan ouers self ook verwaarlosend aandadig is? Wat sal ons reaksie wees indien dié monument ons deur nasionalisering ontneem sou word? Ek vermoed een van verlede-rugkerende apatie, want ons ly aan volkshistoriese miopie.            (ngn)




Tuesday, 5 April 2016

Seksisme, rassisme is ongrondwetlike stalperde

Ek reageer op Corrie van Rooyen (DB,04.04) se skrywe. Ek maak beswaar teen haar onsensitief seksisties veralgemenende opmerking omtrent mans. Sy vertel van vier gerapporteerde gevalle van vroue (DB,31.03) wat hulle aan misdaadoortredings skuldig gemaak het, en sê dan: "Dit pla my dat vroue hulle nou net so sleg soos mans begin gedra."

Waar kom Van Rooyen daaraan dat sy so 'n stelling kan maak? Beskik sy oor enige legitieme bewyse daarvoor? Waarom sou mans slegter as vroue wees? Hoe definieer sy "sleg" in geslagskonteks? Dit is net seksistiese bevooroordeeldheid wat wil beweer dat mans "slegter" as vroue is. Haar seksisties negatiewe stereotipering van mans as "sleg", is gevaarlik.

Van Rooyen sal weet dat seksisme, soos ook rassisme, 'n menseregtelike skending is. Wanneer pres. Zuma (DB,04.04) by 'n droogtehulpberaad op Melmoth sê: "Swart mense moet saamstaan en vir 'n ander swart mens stem...", is dit niks anders as 'n ras-diskriminerende   -   en daarom 'n rassistiese   -   oproep tot kiesers nie. Dit, soveel te meer, omdat hy die skare toegespreek het as "president van die land, nie van die ANC" nie. Met dié ampsontoelaatbare uitlating bewys Zuma andermaal sy totale wanbegrip, én minagting, vir die grondwet.

Van Rooyen se seksisme en Zuma se rassisme is twee perde, albei behorende tot dieselfde ongrondwetlike stal.




Monday, 4 April 2016

"Nugterdenkende" skrywe, of Aprilgrap?

Barend (DB,01.04) sê hy is "keelvol verby gelees aan Maties se 'taal-penarie' (en)... ek, nugterdenkende van die Baai, sê...stuur al die belangrike mense...na die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit sodat hulle hier kan kom leer hoe...gestudeer kan word sonder dat taal 'n issue gemaak word."

Hoe "nugterdenkend" is dit regtig as jy nie besef dat 'n mens nie appels (Maties) met nie-appels (NMMU), ook op taalterrein, met mekaar kan vergelyk nie? Waarom sal taal 'n issue wees in 'n Engelstalig dominante omgewing soos dié van laasgenoemde? Taal is mos nie 'n issue in Engelstalige omgewings soos dié van Ikeys, Rhodes of Wits nie? Of wil Barend te kenne gee dat Afrikaans nog hoegenaamd 'n faktor by NMMU is?

Voor 1994 het die Oos-Kaap oor vyf universiteite beskik: Rhodes, Transkei, Fort Hare, 'n Vista-satellietkampus en UPE. Met die uitsondering van die UPE   -   50% Afrikaans en 50% Engels   -   was die res almal Engelsmedium. Die Afrikaans/Engelsverhouding van Oos-Kaapse universiteite was dus 90% Engels teenoor 10% Afrikaans.

Voor 1994 reeds was Engels dus die dominante universiteitstaal van die Oos-Kaap. Sedert 1994 het die druk op die 10% Afrikaans der mate toegeneem dat dit spoedig deur Engels vervang is. Daarby het soveel voornemende Afrikaanssprekende studente uitgewyk na tersiêre inrigtings te Stellenbosch, Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein waardeur die Afrikaanssprekende studentetal tot 'n onbeduidende getal verminder het.

Die NMMU het verengels, het dit nie, Barend? Daarteenoor is Maties in 'n dominant Afrikaanssprekende geografiese omgewing geleë, én vanaf sy ontstaan 'n volledig Afrikaanstalige universiteit. Dink "nugterdenkende" Barend die taalsituasies by Maties en die NMMU is werklik vergelykbaar? Kan dit dalk wees dat Barend se skrywe van 1 April sy bydrae tot die April-gekskeerdag is?