Met sy geloofsgebaseerde mening oor demone as oorsaak van sekere geestesongesteldhede het dr.Chris Saayman (DB,17.10) die spreekwoordelike gefladder in die duiwe(ls)hok veroorsaak. Sy mening rig 'n uitdaging aan 'n sinodale NGKerkbesluit waarvolgens die keuse by leraars berus óf hulle in hul prediking die bestaan van Satan en demone wil erken, óf nie. Sy keuse is duidelik in 'n tyd gekenmerk deur toenemende bevraagtekening van geloofswaarhede.
Saayman se mening is gevolg deur fel kritiek. Hiervolgens blyk die mediese wetenskap der mate gevorderd te wees dat dit akkurate diagnoses kan maak ook oor geestesongesteldhede. Maar is dit werklik so? Is die menslike psige en gees reeds sodanig gedissekteer en geanaliseer dat daar met absolute sekerheid beweer kan word dat sekere toestande slegs met bepaalde breinareas verband hou, medies geneesbaar is en demoniese werkinge totaal uitgeskakel kan word? Bewoon dié klipgooiende kritici nie ook maar self glashuise nie?
Soos in die geval van ook ander wetenskappe, verklaar die mediese wetenskappe seker ook sommige siekteverskynsels - soos geestesversteurings - aan die hand van heersende teorieë. Kan sulke teoretiese verklarings wel met absolute sekerheid enige demoniese inwerking uitsluit? Dit is hoogs onwaarskynlik; die menslike gees styg uit bo sintuiglik waarneembare en verklaarbare dinge. Kolossense 2:8 waarsku gelowiges juis: "Pasop dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie."
By herbeskouing, kon dr.Saayman dalk meer indringend oor sy voorgestelde lys van demonies beïnvloedende geestesongesteldhede besin het. Reaksie daarop dui egter op 'n kontemporêre verskuiwing vanaf 'n geloof in Bybelse geloofswaarhede na wetenskaplik gegenereerde waarhede. Het Christus dalk na dié tendens verwys toe hy gesê het: "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Luk.18:8b).