Tuesday, 17 September 2019

Watter gees het SA tans in sy greep?

'n Foto kan 'n duisend woorde vervang. Met sy skets op die voorblad van Die Burger (13.09) doen Fred Mouton presies dit. Hy skets 'n "monster", simboliserend van die skokkende nasionale geweld- en misdaadsyfers soos onlangs aangekondig.

Daar is tans 'n RSG-advertensie wat beweer dat ons gewete ons sal pla as ons nie ons TV-lisensies betaal nie. Hoe verblydend om te hoor van die moontlike voortbestaan van die persoonlike gewete, maar wat van die nasionale gewete?

Die gewetenskwessie is van die allergrootste belang vir ons dag. Waarom? Na die mate waartoe wettelose gedrag toeneem, móét dit verdiskonteer word ook in terme van die mate waartoe gewetenloosheid toeneem.

Benewens die duidelike verband tussen die gedragsensurerende gewete en wetteloosheid, sien Christene  -  sensusgewys die getalsterkste geloofsgemeenskap in SA  -  die verdere verband raak tussen die gewete en die gees wat dit beheer, dus: gees, gewete, gedrag (Rom 9:1;Gal 5:25).

Gedrag word bepaal deur die geestestipe wat op die gewete beslag lê. Mense, sowel vlees as gees, kan deur die onsigbare geesteswêreld manipulerend beïnvloed word indien jy jouself daartoe leen (Efes 6:12).

Mouton se simboliese figuur herinner aan 'n menslike voorkoms, maar dit is beslis nié. Let op die ore, oë, neus, mond, tande, hande, vingers en -naels. Vir Mouton moet dit dus 'n gees versinnebeeld. Herken ons dié gees?




Tuesday, 10 September 2019

Dié krisis raak ons almal




Die ANC is die hoofoorsaak van die teenswoordige onluste-krisis. Hiertoe dra by, onder meer, die ANC-leierskapskrisis, faksies se binnegevegte, onvermoë tot besluite-implementering en herhaaldelike leë verkiesingsbeloftes.

Die stereotiep-geworde "together we can do more" ter wille van "a better life for all" het vir die mees agtergeblewenes na 'n kwarteeu niks opgelewer nie. Die opgeboude frustrasie van teleurgestelde verwagtinge kom nou tot uitbarsting.

Die gebrek aan instromingsbeheer van Afrika-immigrante   -   ANC "pay back time"-beleid   -   plaas bomenslike druk op ons beperkte natuurlike hulpbronne. Uiteindelik deel al hoe meer in al hoe minder van die SA-koek. 'n Ontploffende bevolkingsaanwas vererger dié situasie.

'n ANC-verdeling in 'n Ramaphosa-  en Zuma-kamp en binnegevegte in 'n leierskapstryd, verdeel ook vanselfsprekend die tradisionele ANC-ondersteunersbasis in twee faksies. 'n Klimaat van wedersydse wrewel en antagonisme tusssen dié kampe vind uitdrukking in 'n woedeverskuiwing vanaf gepolariseerde partygenote na die "vreemdelinge" van buite SA.

Die kenmerkende solidariteitsmuur van Afrika-nasionalisme begin krake vertoon. Afrikastate se reaksie op geweld teen hul burgers alhier getuig daarvan. Vir die langdurig bedroë lojale ANC-ondersteuners het selfoorlewing 'n belangriker prioriteit as solidariteit geword. 

Ace Magashule, ANC sekr-genl, stook onlustepotensiaal verder aan met sy opmerking dat wittes ook "vreemdelinge" is. Die implikasie hiervan is duidelik   -   'n onbedekte dreigement jeëns wittes.

'n Belangrike vraag is egter of die ANC dié komplekse krisis ontlontend suksesvol sal kan bestuur? Dié krisis raak ons almal.



Tuesday, 3 September 2019

Los die verlede en fokus krities op die hede



Ek verwys na Jan-Jan Joubert se artikel: "Hoe die Groot Krokodil sy byt verloor het" (30.08). Hierin verwys hy na wyle oud-pres. PW Botha as "die kortgebakerde ou vuurvreter (met sy)...boelie geaardheid (asook dat)...die meerderheid van die land se bevolking hom absoluut verafsku het."

Ook sommige NP-ondersteuners het nie geredelik kon identifiseer met Botha se leierskapstyl nie, dog partylojaliteit sou nie toelaat dat die kind met die badwater en al uitgegooi word nie.

'n Vraag aan Joubert is egter of hy Botha enigsins billik gebalanseerd en krities konstruktief probeer beoordeel het, gemeet aan die nasionale eise, uitdagings en bedreiginge waarmee enige staatshoof  -  binne die unieke tydperk van sy ampstermyn  -  gekonfronteer word? Hierdie billike balans ontbreek opvallend.

Botha kry geen erkenning vir sy beskerming van die SA-burgery tydens die stedelike terreur van die ANC en die beskerming van ons landsgrense teen vyandige sosialisties-kommunistiese insypelaars nie. Vir hom het die ideologie van sosialisme-kommunisme gevaar gespel; vir sy opvolgers nie.

In sy artikel toon Joubert 'n ongevoeligheid vir Botha se naasbestaandes wat dit waarskynlik met ontsteltenis en as 'n openbare verleentheid moes gelees het. Joubert hou ook die bestaande verdeeldheid in Afrikanergeledere tussen die Botha- en De Klerk-ondersteuners lewendig. Dit is te betreur.

Waarom nie veel eerder hedegerig, in plaas van verledegerig, krities fokus op ons huidige demokrasie  -  gekenmerk deur vele eienskappe van bestaande kleptokrasieë en chaoskrasieë  -  wat die Bothabedeling vervang het nie? Joubert kan 'n konstruktiewe bydrae lewer tot die oplossing van SA-probleme deur na die oorsake daarvan in die hede te soek eerder as in die verlede.