Ek verwys na Jan-Jan Joubert se artikel: "Hoe die Groot Krokodil sy byt verloor het" (30.08). Hierin verwys hy na wyle oud-pres. PW Botha as "die kortgebakerde ou vuurvreter (met sy)...boelie geaardheid (asook dat)...die meerderheid van die land se bevolking hom absoluut verafsku het."
Ook sommige NP-ondersteuners het nie geredelik kon identifiseer met Botha se leierskapstyl nie, dog partylojaliteit sou nie toelaat dat die kind met die badwater en al uitgegooi word nie.
'n Vraag aan Joubert is egter of hy Botha enigsins billik gebalanseerd en krities konstruktief probeer beoordeel het, gemeet aan die nasionale eise, uitdagings en bedreiginge waarmee enige staatshoof - binne die unieke tydperk van sy ampstermyn - gekonfronteer word? Hierdie billike balans ontbreek opvallend.
Botha kry geen erkenning vir sy beskerming van die SA-burgery tydens die stedelike terreur van die ANC en die beskerming van ons landsgrense teen vyandige sosialisties-kommunistiese insypelaars nie. Vir hom het die ideologie van sosialisme-kommunisme gevaar gespel; vir sy opvolgers nie.
In sy artikel toon Joubert 'n ongevoeligheid vir Botha se naasbestaandes wat dit waarskynlik met ontsteltenis en as 'n openbare verleentheid moes gelees het. Joubert hou ook die bestaande verdeeldheid in Afrikanergeledere tussen die Botha- en De Klerk-ondersteuners lewendig. Dit is te betreur.
Waarom nie veel eerder hedegerig, in plaas van verledegerig, krities fokus op ons huidige demokrasie - gekenmerk deur vele eienskappe van bestaande kleptokrasieƫ en chaoskrasieƫ - wat die Bothabedeling vervang het nie? Joubert kan 'n konstruktiewe bydrae lewer tot die oplossing van SA-probleme deur na die oorsake daarvan in die hede te soek eerder as in die verlede.
No comments:
Post a Comment