Tuesday, 31 December 2019

Maak 2020 die jaar van waarheid




Die talle padsterftes, lewelose liggame langs snelweë aangetref, asook lyke gevind in die veld volgens nuusberigte het, enersyds, die waarheid van die dood, maar ook, andersyds, ook die dood van die waarheid in dié tyd in fokus geplaas.

Die druk op waarheid is aan't toeneem. Hy wie se geboorte ons met Kersfees herdenk het, het gesê: "Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore..." (Joh. 18:37). Kersfees staan dus duidelik in die teken van waarheid en wil óns ook herinner om vir/van die waarheid te getuig.

Vooruitstrewende samelewingsontwikkeling berus sterk op die wetenskaplike soeke en ontdekking van toepaslike waarhede en implementering daarvan in samelewingsbelang. Die norm vir lewe en vooruitgang is waarheidsoeke. Dit maak die bestyging van die beskawingsleer moontlik.

Hoe sien Suid-Afrikaners se ingesteldheid teenoor waarheid daaruit? Talle simptome wil daarop dui dat dit veel te wense oorlaat. In sy eenbedryf toneelstuk, "Ruwe erts", sê H.A. Fagan: "Dis ruwe erts, maar ek sien daar greintjies goud in blink"   -   simbolies ook van toepassing op Suid-Afrika.

Gun ons as landsburgers die versugting dat waarheid sal seëvier aan die einde van die Zondokommissie se ondersoek na staatskaping deurdat die waarheidsvyande ontmasker en gestraf sal word. Dit sal daardie "greintjie goud" verteenwoordig waarop ons hoop gevestig kan word dat meerdere sulkes daaropvolgend "ontdek" sal word sodat waarheid mettertyd in alle samelewingsektore sal triomfeer.

Met getuienislewering oor waarheid as besondere kenmerk van Sy geboorte, waarom dan nie 2020 verklaar tot "Jaar van die waarheid" nie?




Sunday, 22 December 2019

Onderskei tussen haat en teregwysing




Vanweë die sekulêre grondwet van SA kon boer Damian Engelbrecht nie deelname aan die TV-program, "Boer soek 'n vrou", ontsê word nie, dog die openbare polemiek in reaksie daarop was wel voorsienbaar.

Hy sê: "...ek is klaar met die Christendom, maar nie met Jesus nie..." Hy wil nie langer 'n Christen wees nie "...omdat Christene so liefdeloos en met haat...te velde trek teen gay mense" (Naweek 20.12). Sy redenasie oor nie-Christenwees is moeilik te begryp. Jesus is tegelyk Christus, daarom word Sy volgelinge Christene genoem, ook steeds Damian.

As mense is ons lewenslank oral gebind aan kontekstuele (spel-)reëls en/of gedragskodes. Dit geld ook vir Christengelowiges soos vervat in die Bybel wat sigself, in beide die Ou en Nuwe Testament, duidelik uitspreek oor selfdegeslag verhoudings. Dit plaas die Bybel in die brandpunt van dié polemiek.

Die Bybel is die enigste en primêre "arbiter/skeidsregter" tussen dié botsende standpunte. Selfonderwerpende aan die Bybelse gesag oor dié aangeleentheid, moet beide Damian en sy kritici tot selfondersoek kom en op grond daarvan met groot versigtigheid uitsprake lewer.

Sy belewing van liefdeloosheid en haat van mede-Christene berus natuurlik op hoe hy self laasgenoemdes se opmerkings subjektief vertolk, en die vraag is of hy absoluut korrek daaromtrent is. Dis moeilik te bedink dat alle opmerkings daaraan skuldig sal staan. 

Alles het te make met ons gesindheid jeëns Jesus, Sy Woord en ons medegelowiges. Die Bybel leer ons om die daad te veroordeel; nie die dader nie. Dit berus by God. Ten einde mekaar reg te help, het ons egter ook die opdrag tot vermaning en teregwysing van ons medegelowiges ontvang.

Duidelike onderskeiding tussen liefdelose haat en opdragtelike teregwysing kan Damian baie help.

(ngn)


  



Tuesday, 17 December 2019

Politieke korrektheid is 'n bedrieglike euwel



Politieke korrektheid (pol kor) praat nie in reguit taal nie, maar pas "uitfiltrering" van waarheid toe. Dit is nie goed te praat nie, en ons kan maar net wonder oor watter gewetenstipe sigself bemoei met dié waarheidsmanipulering.

Prof. Anton van Niekerk definieer pol kor as "...'n soort geveinsdheid ... wat daarvan wegskram om ... onreg en onbevoegdheid by die naam te noem, en wat ... ter wille van gedienstigheid ... sake só voorstel dat die waarheid ... verdoesel word ..."

Volgens hierdie definisie word ongemaklike waarhede uit die openbare domein gehou en deur die skyn van geloofwaardigheid vervang. Pol kor, as slaafse transformasieagent, vind veral 'n sterk bondgenoot in die media.

Pragmatiese omgang met waarheid is 'n kenmerk van pol kor. Waarheid geld wanneer dit sekeres pas; pas dit hulle nie, word die gedienstige verdoeselingsagent teen waarheid ingeroep. Dit dryf 'n verdelende wig tussen landsburgers in met polariserende gevolge.

Pol kor het 'n ruïnerende uitwerking op die so nodige nasionaal versoenende welwillendheid tussen rasse-  en kultuurgroepe wat slegs sporadies, kortstondiglik deur sportprestasies, bereik kan word. Korruptes skuil graag daaragter as handige skildwering terwyl potensiële fluitjieblasers daardeur geïntimideer word.

Hoe raak pol kor die jeug onderweg na volwassenheid? Moet ouers gedweë toesien hoedat hul kinders met halwe waarhede breinspoelend geïndoktrineer word totdat hulle geen snars meer weet wat die waarheidsfeite aangaande hul voorouers se bydrae tot die opbou van SA was nie? Is die vakonderrig in Geskiedenis vandag dalk 'n voorbeeld hiervan? Ek vra maar net.

Enige deelname aan pol kor versterk dié bedrieglike euwel.                                         




Wednesday, 4 December 2019

SA kan steeds by Plato (500 v.C.) leer



In sy grotallegorie of -mite wys Plato, Griekse wysgeer 500 v.C.,op volslae onkunde as die resultaat van gebrekkige opvoeding en onderwys.

Plato beskryf 'n klomp vasgekettingde mense sittende teen 'n grotmuur met slegs 'n uitsig op die oorkantse grotwand. 'n Brandende vuur agter hulle werp lig op dié grotwand. Wanneer iemand/'n objek agter en tussen hulle en die vuur beweeg, werp dit 'n skadu op die grotmuur voor hulle. Al wat hulle sien, is dié skadu's, gee name daaraan, en gee só vorm aan die werklikheidsafskynsel in hul grotbestaan.

Die donker grotomgewing met die skadubeelde van die onsigbare ware werklikheidsbeelde, simboliseer die gebrek aan ware insigtelike kennis. Vasgevangenheid in voormelde word deur die kettings gesimboliseer. Die skadubeelde is simbole van pseudo kennis.

Plato sê dié vasgekettingdes moet losgemaak en omgedraai word na die ligbron van die vuur waarin hulle mense/objekte as die ware werklikheid kan sien; onderskeibaar van die skynegtheid van die skadubeelde.

Die kerntema van Plato se allegorie is mense se onkunde aangaande die ware werklikheid en funksionering daarvan; vasgevang in onkunde en gebrekkige insig wat skynwerklikheid bied. Dit is nie toevallig dat hierdie mite ontstaan in die konteks van opvoeding en onderwys met toepassingsmoontlikhede ook in ander kontekste nie.

Die toepaslikheid van dié 2500 jaar-oue allegorie vir die SA onderwys-  en skolestelsel is voor die handliggend. Maar wat ook van kontekste soos dié van die SAL en Eskom   -   asook dergelikes  -  met hul reeds kwarteeu-oue rekords van volgehoue mislukking? Word daar met insigtelike kennis of dié van skyninsig, in lig-  of in skadu-omgewings, geopereer? 'n Platoniese "losmaking" en "ommekeer" is dringend nodig in landsbelang.                                   (ngn)