Gedurende die afgelope 2020-Erfenismaand het die ANC se voorneme om uiteindelik alle spore van die Euro- en Afrikaner-kultuurerfenisse binne die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap uit te wis, nog duideliker geword. Toenemende onverdraagsaamheid daarteenoor stuur die boodskap dat dié erfenisse nie veel langer geduld gaan word nie.
Selfs die staatspresident laat hom onvleiend, ondersteun deur minister Nathi Mthethwa - "Minister of Cultural Revolution" (politicsweb) - uit teenoor gemelde kultuurerfenisse. Verdere momentum aan propaganda is moontlik vanweë Patrick Tarriq Mellet, lank werksaam in die ANC-strukture, se pas verskene boek, "The Lie of 1652".
Die gedwonge verskuiwing van kultuurgroepe deur die vorige bedeling, is veroordeel tot 'n misdaad teen die mensdom. Maar nou die vraag: die verskuiwing van die Euro- en Afrikaner-kultuurerfenisse na "temaparke", bevat dit dan nie dieselfde gemeenskaplike element van gedwonge verwyderende verskuiwing nie?
Daar is reeds vroeër al begin met die gedwonge verwydering van beelde en skilderye van gemelde kultuurgemeenskappe na die donker kelderverdiepings van die parlement en sommige universiteite. Is dit nie 'n duidelike teken van kultuur- en rasgebaseerde erfenisse-segregasie (skeiding) nie?
Die ANC se valse omarming van ons multikulturele samelewing - met weinig omgee vir ander kulture behalwe die eie - word as kultureel onverdraagsaaam ontmasker. As ideologies gedrewe samelewingsoffers aan Asazel, word die Euro- en Afrikaner-kultuurerfenisse, handopleggend deur die ANC, na "temaparke" verban om daar te sterf.
Indien ons eers- en daaropvolgende geslagte nie dié ANC-pogings tot uitwissing van ons erfenisse gaan teenstaan nie, gaan dit vernietig word. 'n Jaarlikse braaidag kan dit nie red nie.
No comments:
Post a Comment