Covid-19 het materiële rasseongelykheid, vanweë komplekse redes, sterk beklemtoon. In sy Versoeningsdagtoespraak lê pres. Ramaphosa 'n twyfelagtige verband tussen besit en versoening. Lofwaardig, maar versoening teen watter prys, en wie betaal daarvoor?
Volgens die president en die ANC kan rasseversoening deur materiële gelykheid verkry word. Word versoening deur materiële pariteit gewaarborg? Kan versoening en materiële besit op 'n glyskaal geplaas word? Sal selfs multi-miljoenêrstatus Julius Malema laat afsien van sy wraakgevulde haatspraak in ruil vir rasseversoening?
Mense was nog nooit, is steeds nie, en sal ook nooit materieel gelyk wees nie. Selfs Christus het gesê dat die armes altyd by ons sal wees, dog ons moet na hulle omsien. Die ANC behoort selfondersoek te doen na sy eie aandeel aan die knellende nasionale armoede.
Vanwaar moet die materiële middele kom waarvolgens die ANC materiële rasseongelykheid wil uitwis? Word dit nie gevind nie, is materieel afwaartse gelykmaking van alle rasse die mees waarskynlike.
Armoedeverligting word moontlik deur vollediger ontsluiting van mensepotensiaal deur beter gehalte onderwysvoorsiening, beheerde bevolkingsgroei, werkskepping en gesonde ekonomiese beleid.
Onderweg na rasseversoening kan die ANC begin deur hom vir rasseverdraagsaamheid en vreedsame naasbestaan te beywer. Soos met sovele van sy ander ondernemings, is die ANC ook oorambisieus en onrealisties omtrent versoening.
Versoening is essensieel nie van materiële aard nie, maar wel van spirituele aard. ANC-pogings tot versoening word spiritueel deur die gees van sosialisme-kommunisme gelei. Teen laasgenoemde is vele Suid-Afrikaners onversoenbaar gekant.
No comments:
Post a Comment