Saturday, 4 February 2012

GKSA wakkerder teen dwaling as NG Kerk

In Beeld (18.01) is berig dat "betrekkinge tussen die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die NG Kerk een van die ergste laagtepunte sedert...1859 bereik (het)...nadat die GKSA...'n voorgestelde samewerkingsooreenkoms tussen dié twee kerke afgekeur het."

Dr.Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê "hy het uit die vergadering gehoor daar was vrese dat leerstellige dwalings uit die NG Kerk die GKSA kan binnesluip." Volgens Gerber is dié besluit "'n klap in die gesig" van die NG Kerk.

Vanselfsprekend sal die NG Kerk dié aanklag ontken, dog dr.Henrietta Klaasing, lidmaat van die NG Kerk, sê die volgende op Kerkbode-aanlyn: "Die Gereformeerde Kerk moet geloof word vir die sterk standpunt teen dwaalleer. In die NG Kerk is daar oor die afgelope jare kommentaar gelewer...oor dwaalleer in die NG Kerk. Selfs boeke is (daaroor) geskryf (asook) 'n hele reeks DVD's gemaak oor Nuwe strominge in die teologie. Ten minste 'hoor' mense in die Gereformeerde Kerk...die dwaalleer-waarskuwings" waarop NG Kerkleiers nié ag slaan nie, ten spyte van   -  en ironies genoeg   -   hul sogenaamde "Seisoen van luister".

In aansluiting hierby wys ds.Slabbert le Cornu, GKSA-predikant, in "Pro Regno" (09.01) op kenmerke van die SARK waarvan die NG Kerk 'n lid is en dr.Kobus Gerber in die bestuur daarvan dien. Le Cornu sê van die SARK: "Dit is 'n valse verdraaide evangelie wat die SARK aanhang...'n bevrydingsteologie (en) niks anders as die ANC in gebed nie...intergeloof georiënteerd, en hoe meer jy 'saamwerk' met ander gelowe...hoe meer neem jy hul standpunte in (en) waar in die Skrif sien ons profete, apostels, Israel/die vroeë kerk met valse godsdienste saamwerk?"

Die GKSA blyk wakkerder ingestel te wees teen leerstellige dwaling as sy susterskerk, die NG Kerk.    (ngn)