Vanweë oorvloedige bewyse daartoe sal weinig Suid-Afrikaners waarskynlik ontken dat S.A. 'n deur geweld gekenmerkte land is, geweld wat 'n verskeidenheid van vorme aanneem in haas elke domein van ons nasionale lewe. Selfs in die buiteland is ons beeld een van gewelddadigheid soos onlangs bevestig deur die werping van ontlasting in die Kaapstadse lughawegebou; selfs ook hier op Uitenhage in die omgewing van die munisipale kantore tydens die ontwrigtende staking van munisipale werkers.
Kan hierdie algemene geweldsverskynsel heeltemal losgemaak word van die persoon van die tans kritiek-sieke Mandela? Ek lees dat Mandela reeds tydens wyle P.W.Botha se termyn vrygelaat kon word mits hy geweld en gewelddadigheid sou afsweer, maar hy wou nie. Geweld en doodslag is sinoniem aan sosialisme-kommunisme. Selfs toe hy in F.W.de Klerk se termyn vrygelaat is, was dit sonder die afswering van geweld.
'n Charismatiese leier, soos Mandela, het 'n geweldige groot invloed op volgelinge. Toe keiser Konstantyn die Grote hom tot die Christendom bekeer en dié kerk tot staatskerk gemaak het, is sy voorbeeld deur duisende heidene as pseudo-bekeerdes gevolg tot nadeel van die volgehoue suiwerheid van dié kerk en sy leer. Op soortgelyke wyse is die Mandela-era, al het hy nie amptelik geweld afgesweer nie, gekenmerk deur die pseudo-verwagting van 'n vreedsame en geweldlose toekoms. Na sy vertrek van die polities-staatkundige toneel het geweld egter ontploffend geëskaleer terwyl Mandela self daaroor geswyg het. Watter verskil sou dit nie kon maak aan alle landsburgers se lewenskwaliteit indien Mandela vanaf die begin 'n sterk anti-geweld standpunt ingeneem en konsekwent daarby gebly het nie.
Sal die geskiedenis geweld uitwys as deel van die Mandela-nalatenskap? Ons is geregtig om dié vraag te vra.