Friday 5 July 2013

Is geweld deel van Mandela-nalatenskap?

Vanweë oorvloedige bewyse daartoe sal weinig Suid-Afrikaners waarskynlik ontken dat S.A. 'n deur geweld gekenmerkte land is, geweld wat 'n verskeidenheid van vorme aanneem in haas elke domein van ons nasionale lewe. Selfs in die buiteland is ons beeld een van gewelddadigheid soos onlangs bevestig deur die werping van ontlasting in die Kaapstadse lughawegebou; selfs ook hier op Uitenhage in die omgewing van die munisipale kantore tydens die ontwrigtende staking van munisipale werkers.

Kan hierdie algemene geweldsverskynsel heeltemal losgemaak word van die persoon van die tans kritiek-sieke Mandela? Ek lees dat Mandela reeds tydens wyle P.W.Botha se termyn vrygelaat kon word mits hy geweld en gewelddadigheid sou afsweer, maar hy wou nie. Geweld en doodslag is sinoniem aan sosialisme-kommunisme. Selfs toe hy in F.W.de Klerk se termyn vrygelaat is, was dit sonder die afswering van geweld.

'n Charismatiese leier, soos Mandela, het 'n geweldige groot invloed op volgelinge. Toe keiser Konstantyn die Grote hom tot die Christendom bekeer en dié kerk tot staatskerk gemaak het, is sy voorbeeld deur duisende heidene as pseudo-bekeerdes gevolg tot nadeel van die volgehoue suiwerheid van dié kerk en sy leer. Op soortgelyke wyse is die Mandela-era, al het hy nie amptelik geweld afgesweer nie, gekenmerk deur die pseudo-verwagting van 'n vreedsame en geweldlose toekoms. Na sy vertrek van die polities-staatkundige toneel het geweld egter ontploffend geëskaleer terwyl Mandela self daaroor geswyg het. Watter verskil sou dit nie kon maak aan alle landsburgers se lewenskwaliteit indien Mandela vanaf die begin 'n sterk anti-geweld standpunt ingeneem en konsekwent daarby gebly het nie.

Sal die geskiedenis geweld uitwys as deel van die Mandela-nalatenskap? Ons is geregtig om dié vraag te vra.








1 comment:

  1. Tommie, dit is duidelik dat jy nie die feite van die geskiedenis reg het nie. Jy vra: “Sal die geskiedenis geweld uitwys as deel van die Mandela-nalatenskap?” Ek is nie seker dat ek jou vraag verstaan nie, maar aanvaar dat jy hier bedoel die toekomstige geskiedenis. Jy vra immers: SAL die geskiedenis…” In daardie geval: Hoe sou toekomstige verwikkelinge dan sterker/beter kon wys op die Mandela-naletenskap? Daarom sou jou vraag vir my meer sin maak indien jy iets sou gevra soos: “KAN die geskiedenis…” Dan praat ons immers van ‘n geskiedenis van dinge in die verlede.

    Indien so, wat is die feite van die geskiedenis? Wat is jou bronne? Pro-apartheids- en pro-regeringsberiggewing? Dit is vir my duidelik dat jy nooit sy boek gelees het nie, want nêrens weerlê jy enige van Mandela se “geskiedskrywing” en vertellinge nie. Jy gee die indruk dat jy jou inligting slegs uit een hoek gekry het en verkies om ander inligting te ignoreer.

    Volgens Mandela het hy ‘n hewige stryd gehad met (en selfs ongewild geraak onder) sy makkers omdat hy geägiteer het vir elke moontlike vreedsame oplossing. Die Afrikane het geweldig gely onder die dwinglandy van die apartheidsregering – gedwonge verskuiwings en menige vorm van geweld. Toe hy geweier het om geweld af te sweer, was dit voorwaardelik: Indien die regering sy geweld teen swartes sou staak en sou ophou om hulle te onderdruk en van hulle menswaardigheid te stroop. In effek het hy gesê: “Ons sal ophou terugslaan as julle ophou om ons te slaan”. Ek sou dieselfde gedoen het as ek in sy skoene was.

    Selfs toe hy aanvanklik toegestem het dat geweld met geweld beantwoord moes word, het Mandela aangevoer dat dit so min as moontlik lewens sou eis – ten spyte van die feit dat baie swartes toe reeds hulle lewens verloor het. Hy het gepleit dat slegs harde teikens soos installasies, geboue en ander toerusting gesaboteer word, sodat lewensverlies tot ‘n minimum beperk word.

    Tommie, dit sou net regverdig wees as jy ook van Mandela se kant van die storie sou kennis neem. Lees gerus sy boek “Long walk to freedom”. As jy dit wil lees, sal ek dit vir jou leen.

    Mandela het bitter swaar gekry vir baie jare – fisies en emosioneel - nie omdat hy aggressief, veglustig of barbaars is nie, maar omdat hy die moed gehad het om op te staan vir sy en sy mense se regte. Ek dank God vir sy volgehoue wegbeur van geweld en sy strewe na vrede. Ek het baie groot respek en agting, en hoë waardering vir hom. Sonder sy insette sou ons land al lankal verwoes gewees het. Hoe meer kritiek jy oor Nelson Mandela uitspreek sonder om die feite wat hy noem te weerlê, hoe duideliker word dit dat jy nie objektief oor hom en sy karakter kan oordeel nie.

    Nou is hy oud, moeg en gedaan. Hy kan homself nie verdedig nie. Moeg vir politiek en struweling. Gun hom sy vrede, want dít is waarvoor hy die grootste gedeelte van sy lewe opgeoffer het.

    ReplyDelete