Monday 29 July 2013

Plakkaat propageer twyfelagtige verslag

Nadat ek "Verslag ontbloot (wit) mites oor plaasaanvalle" (DB,29.07) in "Die Burger" gelees het, lees ek   -   op pad dorp toe   -   die plakkaat "Mites oor plaasmoorde blootgelê" teen 'n lamppaal. Ek vind dit meer as net gewoonweg interessant.

Ek kan my nie herinner wanneer laas daar 'n "Die Burger"-plakkaat teen lamppale verskyn het wat kom vanuit sy weeklikse "Boeke"-rubriek nie. Ek vind dit vreemd, en besef dat dié plakkaat beslis 'n bepaalde boodskap aan alle lesende verbygangers moet oordra. En die boodskap?   -   plaasaanvalle op wittes is bloot mites. Ek vind dit as van 'n subtiel propagandistiese aard.

Onder die begrip "mite" verstaan ek, volgens die HAT, 'n fabel of 'n storie sonder grond. Is dit wat "Die Burger" propagandeer, gebaseer op Sean Christie se verslag waarin die resensent erken dat "daar 'n geweldige gebrek aan inligting en konsensus is"; dat daar belangegroepe is wat dit eens is "dat die aanvalle weens rashaat is en wit mense is die teiken"; "Christie se beskrywing ... is soms misleidend" en sy verslag "beklemtoon die noodsaaklikheid vir meer inligting" ?

Ongetwyfeld is dit 'n amateuragtige verslag wat nié met erns bejeën kan word nie. Ek vind dit daarom onbegryplik dat soveel ooglopende prominensie aan so 'n hoogs twyfelagtige verslag verleen kan word. Hiermee het "Die Burger" se oordeel hom in die steek gelaat. Dit is duidelik dat dié verslag die moontlikheid van sensasiewekking en misleiding in hom omdra. Ek vind dié plakkaat daarom as onsensitief teenoor vele van "Die Burger"-lesers en 'n jammerte.






1 comment:

  1. Prof Piet Croucamp het vanoggend oor RSG se Praat Saam ook op neerhalende toon verwys na misleidende getalle van moorde op wit vrouens en het Africa check glo as gesaghebbende bron aangewys - hy het selfs die eerste gedeelte van so skuinsweg aangehaal. Hier is die sogenaamde gesaghebbende AC se bewerings:

    http://www.africacheck.org/2013/07/17/racial-scare-mongering-makes-light-of-womens-murders-2/

    ReplyDelete