Heftige teenkanting ten spyt, blyk die NG Kerk obsessief te wees om die Belharbelydenis deur te stoomroller. Kerkleiers soek naarstiglik na weë en middele daartoe. Dit is die indruk verkry uit "NG Kerk 'het moontlik 'n formule vir Belhar-angel' " (DB,25.07). "Voorstel bring nuwe hoop vir eenheid in kerke" (DB,26.07), wek die indruk dat met "formule" eintlik "konsensus" bedoel word waaromtrent "sleutelmense (kerkleiers) met uiteenlopende standpunte reeds hul instemming daarmee (met konsensus) getoon" het.
Konsensus oor 'n saak waaromtrent Christengelowiges diepgaande verdeeld is? Hou die Bybel vir ons voor dat konsensus deel van God se Wil en werkswyse is vir Sy kerk? Stel Hy die voorbeeld deur konsensuele ooreenkomste met ander (af-)gode te sluit?
Die NG Kerk se fokuspunt verskuif geleidelik vanaf God (vertikaal) na die mens (horisontaal). Bybelse gesag word vervang deur die gesag van lidmate (mense) wat "vry" is om sélf te kan kies. Die geëmansipeerd verhumaniseerde kerk bind sy naelstring aan Skrifgesag af. So word by die laaste algemene sinodesitting besluit dat lidmate nou sélf kan besluit oor die bestaan van Satan, dus: óf jy glo die Bybel, óf jy verwerp wat die Bybel oor Satan sê. Dieselfde strategie word nou gevolg ten opsigte van Belhar - mense spreek die laaste woord, nie die Bybel nie.
Gaan die NG Kerk voorkant toe potensiële aangeleenthede waaromtrent lidmate óók diepgaande verdeeld is - soos homoseksualisme, evolusionisme en spiritistiese mistisisme - ook op dieselfde konsensus-grondslag hanteer? Hoe tegelyk ironies én tragies dat die NG Kerk, wat beweer dat hy eenheid nastreef, homself weerspreek deur juis "inhuisige" verdeeldheid te kies tot vertrekpunt vir sy toekoms.
Die NG Kerk se geloofwaardigheid kom onder ernstige verdenking by sy lidmate. Die gevolg is die vervreemding van 'n aansienlike getal van sy lidmate, waarvan die duisende wat dié kerk reeds verlaat het, getuig. Ten spyte daarvan hou die NG Kerkleierskap hardnekkig vol op hul nuwe ingeslane weg.
Die Vrystaat het die regte pad – die kerkordelike pad – rakende Belhar aangewys met hul onlangse streeksinode: Artikel 1 van die Kerkorde handel oor die belydenisgrondslag van die kerk en wat daar genoem word is die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die sinode van Dordrecht in 1618/1619, naamlik die 37 artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.
ReplyDeleteOm artikel 1 te verander (en Belhar dus deel van hierdie reeds bestaande belydenisse te maak), moet die kerkordelike besluitnemingsproses gevolg word. Die AS moet in Oktober vanjaar ’n voorgestelde nuwe formulering van artikel 1 opstel en met ’n tweederdemeerderheid goedkeur; daarna moet lidmate dit met ’n tweederdemeerderheid goedkeur. Dan moet elke kerkraad dit met ’n tweederdemeerderheid goedkeur.
Indien minstens twee derdes van kerkrade van alle NG gemeentes en al die streeksinodes dit met ’n tweederdemeerderheid goedkeur, gaan dit terug na die AS. Dan moet die AS die verandering van die kerk se belydenisgrondslag finaal met ’n tweederdemeerderheid goedkeur.
Is hierdie nou weer ‘n slinkse manier van die liberale kerkleiers om hierdie kerkordelike pad te systap?