Wednesday 17 July 2013

Eens gevestigde geweld word onbeheerbaar

Kan ek en ds.Grigor dalk feitelik saamstem betreffende die volgende, óf in goeie gees daaromtrent verskil: eerstens,dat die voor- en na-Robbeneilandse Mandela nie identies is nie, maar wel aansienlik van mekaar verskil, en, tweedens, dat die voor-Robbeneilandse Mandela 'n prominente geweldstigter was wat, deur die gebruik van ekstreme geweld, die destydse regering omver wou werp? Indien ons kan, mag ons vorder.

Ongeag die "tegniek" wat ek dan, volgens ds.Grigor (DB,17.07), in my aanvanklike vraagstelling sou gebruik het, bly die vraag egter steeds onveranderd, naamlik: is geweld deel van die Mandela-nalatenskap?

Dalk kan ons bly vorder as ek my nalatenskapsgedagte uitbrei en kwalifiseer as synde Mandela se groot invloed op die aanwending van geweld in SA, asook op die volgehoue voortsetting daarvan, met ander woorde, wat hy nalaat deur sy voorbeeld en invloed wat hy vroeër op sy volgelinge uitgeoefen het ten opsigte van geweld. 

Het ons (ook Mandela) altyd en volkome beheer oor die invloed wat ons   -  bewustelik óf onbewustelik   -   uitoefen op mense? En kan ons dié invloed soos 'n ligskakelaar willekeurig aan- en afskakel? Ek dink beslis nie so nie. Presies dieselfde beginsel geld ook vir die voortbestaan van Mandela se voor-Robbeneilandse geweldsinvloed. Dit is hierdie deel van sy nagevolgde vroeëre invloed, waaroor hy nié beheer het nie, wat ek sien as sy nalatenskap van geweld. Woorde eens gespreek, is nié herroepbaar; dade ook nie uitwisbaar. Ons praat van "gedane sake het geen keer".

Kon Paulus volkome daarin slaag om die invloed van sy voorbeeld as vervolger van Christus se kerk, ná sy Damaskus-ervaring, totaal uit te wis, of het sy vroeëre voorbeeld oorblyfsels nagelaat van sy eertydse vervolging van Christene? Slaag Mandela dan beter hierin as selfs die Bybelse Paulus? Is dit dan só moeilik om Mandela se onvermoë tot beheer oor die invloed van sy vroeëre geweldspropagering te begryp as sy nalatenskap van geweld?                     (ngn)




1 comment:

  1. Wat jy sê maak baie sin Tommie, inderdaad nie iets wat mens met 'n skakelaar kan aan of af sit nie. Ek hou by wat ek op ander plekke al gesê het: Mandela het nog nooit vergifnis gevra vir dit waaraan hy aandadig was nie (vergelyk bv met hoe Adriaan Vlok sy berou getoon het).

    ReplyDelete