In 'n vroeëre brief (DB,15.09.2007) is daar gewys op die ooreenkomste wat die kerkherenigingstappe toon met die polities-staatkundige aanloop tot die nuwe Suid-Afrika.
Ten spyte van die NP-leiers se mooiklinkende versekeringe aan hul kiesers van "ingeboude wigte en teenwigte" , het die proses onstuitbaar en onomkeerbaar voortgerol, tot dié mate dat die NP self vernietig is, van sy leiers tans saamleef met die swaard van vervolging bo hul hoofde, terwyl nog ander oorgeloop het na die ANC-kamp.
Kom ons gaan uit van die veronderstelling dat kerkhereniging wél plaasvind. Die vraag is dan : Wat gebeur daarna? Oor een saak is daar egter min twyfel, en dit is dat die NG Kerk se leiers géén waarborg kan gee dat die meerderheid van 'n bepaalde gemeente, en selfs nie die kerk as geheel nie, op die lange duur uit oorwegend Westers-georiënteerde, wit Christene sal bestaan nie.
Die moontlikheid bestaan dus dat wit Christene uiteindelik oorspoel kan word en daarmee saam 'n proses van kerklike verafrikanisering aan die gang kan kom. Met afrikanisering moet afskeid geneem word van 'n eeue-oue Westerse kerklike tradisie en identiteit. En verder : Met die kerklike deur eers oopgemaak vir die Belhar-belydenis, hoe gaan die kerk 'n volgende belydenisskrif, komende vanuit die swart dogterskerk, kan wegwys?
Laat ons by wyse van enkele voorbeelde aan die hand van dr. Wiets Beukes, gewese dosent in Volkekunde aan die UP, kennis neem hoe 'n kerklike bedeling daar uitsien waar verafrikanisering plaasgevind het.
Vanweë die belangrikheid van die verwantskapstelsel vir en groepsolidariteit onder swartes, is almal verwant aan mekaar. So kon Ignatius Lekganyane, hoof van die ZCC-kerk (afgestig van die AGS van Suid-Afrika), in Moria aanspraak maak op huweliksreg met vroue wat hom met die oog op genesing besoek - omdat hulle as vroue of susters gesien word. Lekganyane integreer ook 'n Nuwe Testamentiese boodskap met eeue-oue swart geloof waarvolgens lewendes boodskappe uit die doderyk kan ontvang.
Beukes beweer dat, vir swart mense, godsdiens en politiek mekaar aanvul. Afwykende vertolkings van sekere Bybeltekste kom voor ; daar is 'n aandrang dat die Westerse kerkliturgie by swart behoeftes moet aanpas, asook 'n onvermoë / onwilligheid om Christelike waardes te verwerk / aanvaar. Uiteindelik lei dit alles tot 'n swart teologie.
Kerkhereniging blyk nie sonder risiko te wees nie. Is dié risiko nie té groot vir die voortbestaan van die kerk in ons land nie?
No comments:
Post a Comment