Wednesday, 30 April 2008

Is evolusie nou teologie se basis?

Dr. Jurie van den Heever se artikel,  "Mens bly soek redes vir spesiale en unieke status" (DB,26.04.2008), het betrekking. Hierin sê hy : "...daar word toenemend vanuit...die wetenskap gepoog om te verklaar wat dit eintlik beteken om 'n mens genoem te word."  Hy wys op enkele interessante wetenskaplike verklarings waarby bepaalde ooreenkomste tussen mens en dier inbegrepe is. So word beweer dat ons  "ten minste 99% van ons genetiese materiaal met sjimpansees deel."

Opsommend sê Van den Heever :  "Hoe meer ons omtrent ander diere uitvind, des te moeiliker raak dit om onsself as uniek te beskou. Die oplossing is...om eens en vir altyd ons evolusionêre verwantskap met ander organismes te erken...en...dit (is) duidelik dat waar die mens eens simbolies neffens God gestaan het, deel ons soveel kenmerke met ander werweldiere...dat ons in werklikheid neffens die sjimpansee staan."

Professor Gaylord Simpson van die Harvard Universiteit in die VSA sê dat evolusie te kenne gee dat lewe vanself ontstaan het uit lewelose nie-organiese konglomerate en daarna  "toevallig"  in 'n "oersop" ontwikkel het tot 'n eensellige amoeba. Laasgenoemde het dan oor miljoene jare ontwikkel tot álle lewensvorme   -   'n hoër vorm telkens uit 'n laere totdat ook die mens op dié wyse sy verskyning gemaak het.

P.J.Pelser beweer in sy boek,  NG Kerk : Reformeer of...Disintegreer?  dat die evolusieteorie tot kontemporêre geloof gemaak is en die sentrale plek in mense   -   en veral wetenskaplikes   -   se denke inneem. Dit het selfs al tot die teologiese denke van ons dag deurgedring.

So, byvoorbeeld, maak dr. Hennie Mouton van Denel skriftelik beswaar by prof. Julian Müller, hoof van die departement praktiese teologie van die Universiteit Pretoria, nadat hy 'n lesing van prof. Wentzel van Huyssteen   -   vroeër van die Universiteit van Port Elizabeth en nou van die Universiteit van Princeton in die VSA   -  op 1 Augustus 2005 bygewoon het :  "...wat vir my eenvoudig ontstellend is, is dat evolusie die absolute basis van die praktiese teologie departement van UP se lering is, en dat ons voornemende predikante met daardie basis opgelei word..."

Teenoor die evolusionêre wetenskap van ons dag is die Bybelse uitgangspunt dié van Goddelike skepping. Die moderne wetenskap het egter die aller-maatstaf vir / van waarheid geword ; ook kweekskole en teoloë word nie onaangeraak gelaat nie. Jesus se vraag :  "Maar sal die Seun van die mens by Sy koms nog geloof op die aarde vind?"  (Lukas 18:8b) verdien ons dringende aandag.

Monday, 21 April 2008

Persoon en posisie

Die begrippe  "persoon"  en  "posisie"  is wedersyds aangewys op mekaar en daar word, redelikerwyse, gedink in terme van die regte persoon vir/in die regte posisie. Met toenemende behoeftes en kulturele vooruitgang as voorwaardes daartoe, word daar voortdurend nuwe samelewingsposisies geskep, en het persone van Europese oorsprong in die verlede baie sodanige posisies in Suid-Afrika help skep. Opvallend van ons huidige samelewing is dat, in vele gevalle, persoon en posisie egter in disharmonie verkeer   -   posisieroof   -   en, as gevolg daarvan, ons stagnasie en verval ervaar.

Elke posisie stel sy eie unieke gesagseise as voorwaardes waaraan die persoon moet voldoen om dié posisie suksesvol, en in almal se belang, te beklee. Verkeerde persone wat nie in posisies pas nie, is 'n euwel en onding in ons samelewing, en word posisies nie net disfunksioneel gemaak nie, maar ook in oneer gebring. Dit strem ontwikkeling en vooruitgang terwyl die burgery die spit moet afbyt.

Wanneer mense om legitieme redes nie ontsag het vir die persoon in 'n gesagsposisie nie, word die gesag   -   geleë in die posisie   -   ondermyn. Beswaarmakende kritici word dan baie gou beskuldig van rassisme. Professore wat toelaat dat studente hulle familiêr op die voornaam aanspreek, bring hul gesagsposisies in gedrang, want  "familiarity breeds contempt".

Vanweë posisieroof vind Robert Mugabe homself in 'n roofposisie. Wanneer persone in diens van Eskom duidelik nié opgewasse is vir hul posisies nie   -   en nog met buitensporige bonusse daarvoor vergoed word   -  roep so 'n praktyk van posisieroof, ten koste van die burgerlike bevolking, ten hemele. 'n Lang lys van sulke roofposisies, ten koste van ons almal, kan saamgestel word.

Beklee die regte persoon die dekaansposisie van 'n Teologiese Fakulteit wat vir eerstejaar-teologiestudente sê : "Ons het niks met julle geestelike lewe te doen nie ; ons moet julle net akademies vorm" , en : "Julle moet weet die stories van Abraham en andere in die Ou Testament is fiksie en het nooit werklik gebeur nie" ?

Vele samelewingsposisies   -   die pilare waarop 'n gesonde en welvarende bevolking normaalweg rus   -   verkeer tans in gevaar vanweë onbekwame en ongeskikte persone wat in sulke posisies aangestel is. Hiervoor moet die aanstellingsinstansie primêr verantwoordelikheid aanvaar.

Die sinneloosheid van verkeerde persone in samelewingsposisies blyk nie net 'n eietydse verskynsel te wees nie. Ook Salomo het dié anomalie tussen persoon en posisie raakgesien en toe soos volg opgemerk : "Ek het slawe te perd gesien en vorste te voet op die grond soos slawe" (Prediker 10:7).                            (ngn)

Friday, 18 April 2008

'n Kwessie van standaarde

Om jou in die openbaar oor jou dorp   -   wat jy met baie mense met potensieel uiteenlopende menings deel  -   uit te laat sonder om kritiek op die lyf te loop, is byna onmoontlik. Die jongste voorbeeld hiervan is Pieter Terblanche se brief, "Uitenhage gaan erg agteruit" (DB,11.04.2008), en Jason Lloyd se brief, "Uitenhage nie vervalle nie" (DB,17.04.2008), in reaksie op Terblanche se brief.

My indruk van beide briewe is dat die subtiele partypolitieke ondertone in albei gevalle nie misgelees kan word nie. Hieroor wil ek egter geen kommentaar lewer nie en distansieer ek myself van enige partypolitieke swaardkruising.

As dorpsbewoner kan ek nie van Terblanche verskil wat betref sy waarneming van agteruitgang op ons dorp nie. Dié verval is egter nie van 'n plotselinge aard nie, maar het geleidelik ingetree en moet waarskynlik aan 'n kompleksiteit van faktore toegeskryf word. Wat my van Terblanche se brief tref, is dat dié agteruitgang 'n stadium bereik het dat hy nie langer daaroor kan swyg nie.

'n Belangrike vraag is egter: Voor wie se deur(e) moet die geleidelike verval van Uitenhage gelê word? Uitenhage, as dorpsgebied, omvat 'n middedorpse sakegebied sowel as verskillende omliggende woonbuurtes waar, onderskeidelik, wit, bruin en swart mense woon. In die lig van voorgenoemde, kan daar dus nie ongekwalifiseerd na verval op Uitenhage gekyk word nie. Dus, waar presies is dié opvallende agteruitgang?

My afleiding uit beide briewe is dat dit veral gaan om die middedorp en sakegedeelte daarvan. My eie waarneming sê vir my dat geboue nie meer heeltemal in stand gehou word soos voorheen nie, en dat die voorkoms van rommelstrooiende besoedeling toeneem. Maar dan hoor ek ook dat die Afrikaanse Sakekamer   -   waar koppe seker by mekaar kan kom en oplossings gesamentlik bedink kan word   -   nie meer bestaan nie.

Is dit nie ook 'n geval van   -   soos wat een kultuurgroep sigself toenemend onttrek uit die middedorpse sakegedeelte   -   hul plek geleidelik ingeneem word deur ander kultuurgroepe met 'n andersoortige perspektief op standaarde nie? 'n Kernvraag is dus: Wie se standaarde sal geld? , 'n vraag wat, trouens, hedendaags oral ter sprake kom, en 'n vraag wat implisiet inbegrepe is in beide Terblanche en Lloyd se briewe.

Dit is duidelik 'n kwessie van standaarde, en die vraag wat daaruit voortvloei, is: Wie gaan die wedloop om standaardstelling wen   -   Europa of Afrika?                        (ngn)

Wednesday, 16 April 2008

Ondersoek gees wat kerk lei

Dit kan geredelik aanvaar word dat sommige kerkleiers deur die eeue heen in hul denke, spreke en handelinge beïnvloed is ook deur die tydsgees van hul dag. Wat derhalwe in die geledere van ons huidige kerkleiding kan gebeur, sou dus geen uitsondering en nuwigheid wees nie. Laasgenoemde vertoon ongetwyfeld kenmerke van die kontemporêre tydsgees soos reeds daarna verwys in 'n vroeëre brief, "Evolusie teologie se basis?" (DB,30.04.2008).

Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog word die wêreldgemeenskap deur 'n nuwe tydsgees gekenmerk waarvan die invloed ook na die kerk sou deurwerk. In die nuwe benadering tot wêreldvrede wat gevolg het, is ook aan die kerk 'n instrumentele rol daartoe toegeken.

So word die Wêreldraad van Kerke (WRK) gestig om veral as spreekbuis teen Marxisme tydens die na-oorlogse Koue Oorlog te dien. Die onvervalste verkondiging van die uit-genade-reddende Boodskap van Christus moes egter geleidelik plekmaak vir 'n horisontalistiese en humanistiese broederskap in kerkgeledere.

As 'n filiaal van die WRK word die Suid-Afrikaanse Raad van kerke (SARK) in 1970 gestig. Op 'n vroom wyse kondig dié liggaam sy selfopgelegde opdrag aan as: "To call together a body of experts to examine the implications of applying Christian principles to the major areas of our national life."

Hierdie "body of experts" het dit egter goed geag om die Evangeliewoord tot 'n "social gospel" te omvorm. Die kansel moes plekmaak   -   deur af te wyk van Jesus se primêre sendingopdrag   -   vir hierdie sélfopgelegde opdrag tot sosiale en politieke verandering. Die Bevrydingsteologie is 'n goeie voorbeeld hiervan. Tereg mag daarom gevra word waar die lofwaardige Godonterende vrugte van dié (afgewykte) Christelike voorneme vandag in ons samelewing gevind kan word.

Enige poging om die Evangelie van Jesus Christus   -   evangelie beteken "goeie nuus", en hierdie goeie nuus is dat God ons liefhet   -   aan te wend vir 'n ander doel as waarvoor die Geïnspireerde Woord van God bestem is, naamlik om mense teen hul verkeerde weë te waarsku en hulle met God deur Jesus Christus te versoen, moet ten sterkste veroordeel word. 1 Johannes 4:1 waarsku ons juis daarteen om nie enigeen te glo wat daarop aanspraak maak dat hy oor die Gees van God beskik nie, "...want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is." Dit impliseer ook 'n dringende en volgehoue ondersoek na die gees waardeur die kerk gelei word.            (ngn)

Saturday, 12 April 2008

Verslag van 'n buitelander

Met die Reitz 4-gebeure aan die Vrystaatse Universiteit nog vars in die geheue, is dit insiggewend om van die selfdeurleefde indrukke van die Nederlandse skrywer   -   Tommy Wieringa   -   kennis te neem ná die onlangse polisieklopjagte op Stellenbosch, indrukke wat hy ongetwyfeld met hom saamneem op sy terugreis na Europa.

In  " 'n Blik van buite op Breyten se apologie" (DB,08.08.2008), wys Wieringa, Nederlandse skrywer, daarop dat  "Breyten Breytenbach...twee Nederlandse skrywers (om) verskoning gevra (het)"  vir die polisie se hardhandige optrede in onlangse klopjagte op Stellenbosch. Wieringa, wat sélf dié polisiegeweld beleef het, berig eerstehands daaroor soos volg :  "In die Mystic Boer...was die publiek wit   en die polisiemag wat ons oorrompel het, was swart...ek (het) gesien hoe polisiebeamptes mense met hul swaar stewels skop, op die kop en in die ribbekas, soos jy 'n vuur doodtrap.

"Die instinktiewe haat teenoor die ander is nie beperk deur selfbeheersing of 'n beleid oor die gebruik van geweld wat jy van 'n owerheidsfunksionaris sou verwag nie. Ek het studente hoor vra   -   vrae wat nie met woorde nie, maar met klappe beantwoord is.

"Ek het die vroulike polisiebeampte op 'n...nie-konfronterende toon gevra wat aan die gang is...Sy het my 'n geslote redenering gegee, totalitêr van aard : Nie ons nie, maar u is verantwoordelik vir wat ons aan u doen.

"Voordat ek die disko mog verlaat, is ek deurgesoek deur 'n polisiebeampte met rubberhandskoene...Ná die viriele geweld van knuppels en stewels het die handskoene effens verwyf voorgekom...Vir die draers verteenwoordig ons iets smerigs, iets wat hulle nie met hulle kaal hande wou aanraak nie...slegs met handskoene en stewels."

Wieringa eindig met : "Tog is dit uiteindelik nie die geweld wat my die meeste angs inboesem nie, maar die mensbeeld daaragter...die blik van 'n mens wat die ander reduseer het tot 'n objek waarop hy sy haat laat botvier, dié blik sal ek onthou."

Terwyl die Reitz 4-insident wêreldwyd publisiteit geniet het, kan dieselfde waarskynlik nié gesê word wat betref die dekking wat die Stellenbosch-voorval in die buiteland geniet het nie ; daarvoor het die polisie gesorg deur betyds fotomateriaal te konfiskeer.

Mag ons na hierdie voorval verwys as 'n walglike insident? Die feit bly egter : Bovermelde is die eerstehandse verslag van 'n buitelander wat beweer :  "dié blik sal ek onthou".

Monday, 7 April 2008

Skrifgesag in gedrang

By geleentheid is iemand gevra of hy in die God van die Bybel glo en dié se gesag aanvaar. Die antwoord was: Ek aanvaar 'n duisend maal eerder die bestaan van God Drieënig, die alomvattende gesag van Sy Woord, en rig my lewe daarvolgens in   -   om dan by my dood dalk te moet ontdek daar is geen God nie   - as wat ek die bestaan van die Godheid ontken, die gesag van Sy Woord verwerp en my lewe volgens eie oordeel inrig om dan by my dood   -   tot my onomkeerbare berou   -   te moet uitvind daar bestaan wel 'n God Wie se Woord gedagsdraend is waaraan ek my moet verantwoord.

Hierdie antwoord plaas die Bybel met sy onveranderlike inhoud (Matteus 5:18) as lewenskaart en  -kompas volledig in die kern van die menslike bestaan. Torring dus aan en verander die Skrifinhoud, en jy eindig met 'n veranderde Godsbeskouing; ons Godsbeskouing is 'n uitvloeisel van ons Skrifbeskouing.

Die grondtekste van die jongste Bybelvertaling(s) verskil ingrypend van dié van die 1933-  en 1953-Bybelvertalings. Vanweë vertalingsverskille lei dit tot interpretasieverskille en sodoende verhoog die gevaar van geskille tussen Christene.

Alhoewel Christene nié die tweede kategorie-antwoord in die inleidende paragraaf op boegenoemde vraag sal gee nie, is daar tóg diegene wat nie langer die Bybel in sy volledigheid aanvaar nie. Vir sommige het selfs die Ou Testament en sy gesag geheel verval. Vir sommige, wat nog slegs die Nuwe Testament aanvaar, begin laasgenoemde ook eers by Handelinge.

Voeg hierby die kwessie van opeenvolgende Bybelvertalings na behoefte en smaak   -   afsonderlik vir mans, vrouens en tieners. Tesame met die verdringing en vervanging van die Woord deur "geestelike" boeke in 
boekwinkels vir haas elke menslike probleem, verteenwoordig hierdie toename in Bybelvertalings 'n indirekte kommersialisering van die Skrif.

Dit pas die postmoderne mens om met 'n veranderde Skrif-  en Godsbeskouing te werk; dit stel hom in staat om enigiets uit die Bybel relativerend te verantwoord. Die standpuntverskille in die huidige gay-debat moet gedeeltelik aan die relativering van die Skrifgesag toegeskryf word. Of dit dus nou Laurie Gaum, Zackie Achmat of wie ook al is wat met gay-wees geassosieer word, die onderliggende grondverskil bly telkens dieselfde, te wete die standpuntsteller se vertrekpunt in sy Skrif-  en Godsbeskouing.

Een van die sentrale probleme rondom die gay-kwessie bly daarom steeds die algehele aanvaarding van die Skrif en sy gesag, maar van wátter weergawe daarvan? Hierdie onsekerheid bring die Skrifgesag in die gedrang.                                 (ngn)