Om jou in die openbaar oor jou dorp - wat jy met baie mense met potensieel uiteenlopende menings deel - uit te laat sonder om kritiek op die lyf te loop, is byna onmoontlik. Die jongste voorbeeld hiervan is Pieter Terblanche se brief, "Uitenhage gaan erg agteruit" (DB,11.04.2008), en Jason Lloyd se brief, "Uitenhage nie vervalle nie" (DB,17.04.2008), in reaksie op Terblanche se brief.
My indruk van beide briewe is dat die subtiele partypolitieke ondertone in albei gevalle nie misgelees kan word nie. Hieroor wil ek egter geen kommentaar lewer nie en distansieer ek myself van enige partypolitieke swaardkruising.
As dorpsbewoner kan ek nie van Terblanche verskil wat betref sy waarneming van agteruitgang op ons dorp nie. Dié verval is egter nie van 'n plotselinge aard nie, maar het geleidelik ingetree en moet waarskynlik aan 'n kompleksiteit van faktore toegeskryf word. Wat my van Terblanche se brief tref, is dat dié agteruitgang 'n stadium bereik het dat hy nie langer daaroor kan swyg nie.
'n Belangrike vraag is egter: Voor wie se deur(e) moet die geleidelike verval van Uitenhage gelê word? Uitenhage, as dorpsgebied, omvat 'n middedorpse sakegebied sowel as verskillende omliggende woonbuurtes waar, onderskeidelik, wit, bruin en swart mense woon. In die lig van voorgenoemde, kan daar dus nie ongekwalifiseerd na verval op Uitenhage gekyk word nie. Dus, waar presies is dié opvallende agteruitgang?
My afleiding uit beide briewe is dat dit veral gaan om die middedorp en sakegedeelte daarvan. My eie waarneming sê vir my dat geboue nie meer heeltemal in stand gehou word soos voorheen nie, en dat die voorkoms van rommelstrooiende besoedeling toeneem. Maar dan hoor ek ook dat die Afrikaanse Sakekamer - waar koppe seker by mekaar kan kom en oplossings gesamentlik bedink kan word - nie meer bestaan nie.
Is dit nie ook 'n geval van - soos wat een kultuurgroep sigself toenemend onttrek uit die middedorpse sakegedeelte - hul plek geleidelik ingeneem word deur ander kultuurgroepe met 'n andersoortige perspektief op standaarde nie? 'n Kernvraag is dus: Wie se standaarde sal geld? , 'n vraag wat, trouens, hedendaags oral ter sprake kom, en 'n vraag wat implisiet inbegrepe is in beide Terblanche en Lloyd se briewe.
Dit is duidelik 'n kwessie van standaarde, en die vraag wat daaruit voortvloei, is: Wie gaan die wedloop om standaardstelling wen - Europa of Afrika? (ngn)
No comments:
Post a Comment