Tuesday, 30 December 2008

Bevry ons van wolf in skaapsklere

Piet Jacobs, ketelmaker van die Vrystaatse goudveld en geestelike leier in Woord in Aksie-geledere, vertel 'n kontemporêr toepaslike storie van die wolf wat, vanweë ouderdom, só maer en uitgeteer was dat hy nie langer meer sy prooi self kon vang nie. Hy móés dus 'n plan maak.

'n Goeie vriend van Wolf gee hom toe raad. Hy moes hom soos 'n skaap laat vermom en só toegang tot Boer se skaaptrop kry. So ontwerp 'n geleerde professor toe vir hom 'n netjiese skaapvermomming. Met dié vervalste skaapkleed aan onder die kudde, kry 'n skaap   -   ongelukkig vir Wolf   -   die wolfsreuk, raak benoud aan die blêr, en daar vlug die hele trop.

Die professor moes toe maar wéér help en so verander hy toe Wolf se reuk na dié van 'n skaap s'n. Met Wolf se volgende roofpoging herken een van die skape ongelukkig sy wolfstem, en so misluk dié poging ook.

Wéér moet die professor help, en opereer aan Wolf se stembande en doen so 'n skaapstem-oorplanting op Wolf. Nou is Wolf se voorkoms, sy reuk en sy stem volmaak aangepas by dié van sy prooi. In sy volgende roofpoging, en ongelukkig vir Wolf, sien een van die skape dat dié  "skaap"  in die skaaptrop dan die spoor van 'n wolf trap, en daar vlug almal weer.

Die les uit dié eenvoudige storie? Ek kan lyk, ruik en praat soos 'n skaap, maar die spoor wat ek nalaat, verraai my ware identiteit as vyand van die kudde.  Esegiël 22:23-31 beskryf voortreflik die wolwespektrum van regeerders, priesters, amptenare, profete en burgers in ons land. Heel gepas word dit ook gesê : Ware vrede is nie die afwesigheid van oorlog nie, maar wel die aanwesigheid van God.

Sóós in Jacobs se storie was Suid-Afrika se  "wolwe"  vanjaar dikwels bedrieglik in skaapsklere vermom. Mag 2008  die einde inlui van die wolwe-in-skaapsklere-era, en 2009 ons nader bring aan die bevryding van wolweregeerders,  -amptenare,  -burgers en  -teoloë, en ons lei na wáre vrede.

Tuesday, 23 December 2008

Boesak span sy seile na die wind

In eiebelang beoefen jy 'n beroep ; in belang van jou medemens volg jy 'n roeping   -   so lui die gesegde. In dr. Boesak se geval blyk die winsmotief voorrang bo die diensmotief te geniet ; dat hy veel eerder 'n speler in die politieke beroepsliga as in die kerklike roepingsliga wil wees. Boesak se skaamtelose gelyktydige flankering met die ANC én Cope, gedryf deur eiebelang, is baie opmerklik. Hy bied homself aan die hoogste bieër van dié twee wat hom die grootste persoonlike voordeel bied.

By uitnemendheid 'n opportunis en pragmatis, span Boesak sy seile na dié windrigting waarin die politieke winde van verandering tans die gunstigste vir hóm waai. So word daar berig in  "Boesak-betowering" (DB,17.12.2008), dat hy 'n opruiende toespraak by Cope se stigtingsvergadering gehou en 'n helde-ontvangs hom te beurt geval het, en  "Die charismatiese Boesak...die skare in beswyming gehad het met sy retoriek."

Vooraf het die ANC hom  "met verskeie aanbiedinge genader, (maar hy) Het gesê daar is te veel vervreemding tussen my en die ANC", en tog darem ook nie só 'n groot afstand dat dit hom daarvan weerhou het om die ANC te versoek om in die ambassadeurspos by die Verenigde Nasies aangestel te word nie.

Boesak is by uitstek 'n platform-soeker. As aktivis en opruiende orator wil hy gehóór word. Die beperkende ruimtes van kansel, kerk en teologie pas nie langer sy selfgewaande statuurgrootte nie. Boesak speel baie duidelik 'n dubbele rol   -  soms die verpolitiseerde geestelike ; dan weer die begeesterde politikus   -   wat kerk en teologie beslis nie ten goede kom nie. Wil hy nie maar  "die skape van Sy weiding"  finaal vaarwel toeroep, en so ook die US-kweekskool, en hom voltyds as beroepspolitikus aan die politiek wy nie?

Daar mag seker ook na die  "Boesak-fenomeen"  verwys word soos wat daar vroeër na die  "Buchan-fenomeen"  verwys is.

Wednesday, 17 December 2008

Afrikanervolk, hou Geloftedag in ere!

Het daar enigiets onuitwisbaar gegraveer oorgebly in die historiese geheue van die Afrikanervolk wat betref die verraderlike moord op Retief en sy manne op 6 Februarie 1838 as die aanleidende gebeure tot die vooraf Gelofte en die Slag van Bloedrivier van 16 Desember 1838?

Tot watter mate het ons   -   nageslag van die Voortrekker-pioniers   -   ingesuig en verstrengel geraak in 'n samelewing van alkoholmisbruikende, sportmal, TV-benewelde, statusbewuste, geldverslaafde en geloofsontspoorde individue, simptomaties van ons disintegrerende volksolidariteit?

Die nuwe politieke en staatkundige bedeling het Geloftedag gekaap vir die doeleinde van 'n (mislukkende) horisontalisties mensgesentreerde ideologie, gerig op die kwasi-versoening tussen skepsels dikwels juis van 'n onversoenbare aard (sien 2 Korintiërs 6:14-16).

Die eens geestelike lewensaar en transendentale naelstring wat 'n volk-in-wording en sy God innig aan mekaar gebind het, is afgebind, en ons   -   as nageslag   -   neem daarmee verlief. Ons staan skuldig voor God aan troubreuk teenoor Hom en die Gelofte voorafgaande tot 16 Desember 1838. Hy sê immers baie duidelik in Sy Woord vir ons : "As jy aan God 'n gelofte gedoen het, moet jy nie versuim om dit te betaal nie. Hy hou nie van ligsinnige mense nie." (Prediker 5:3)  En ook verder :  "...'n eed in die Naam van die Here moet jy nakom". (Matteus 5:33)  Levitikus  19:12  sê dat die aflê van 'n vals eed in Sy Naam die Naam van God ontheilig.

Wil ons 'n ligsinnige nageslag wees? Nee, beslis nie! Wil ons die Gelofte van 16 Desember 1838 tot valse eed maak? Nee, beslis nie! Wil ons die Naam van God ontheilig? Nee, beslis nie! Kom dan, Geloftevolk, laat ons Geloftedag ernstig bejeën en dit in ere hou. Slegs die God van 16 Desember 1838   -   die onveranderlike Een   -   kan ons nakomelinge in hierdie gewelds-geteisterde land laat oorleef en enduit bewaar.

Monday, 8 December 2008

Max benodig 'n Damaskus-ervaring

Murray La Vita sê in sy artikel,  "Die bevryding van Max du Preez" (DB,28.11.2008), Du Preez het  "...op die stoep van sy huis gesit. En toe begin hy huil. 'n Nag lank (oor) tonele van die volkslagting (in) Rwanda".

Die Rwandese volkslagting was die  "sneller"  vir Max se tranevloed, en toe word gebeure uit die vorige Suid-Afrikaanse bedeling summier gelyk gestel aan dié van Rwanda   -   'n uiters onvanpaste, verwronge en onbillike vergelyking.

Ironies genoeg beroep Du Preez hom op sy stoere Afrikaner-afkoms, maar hy benut tog elke moontlike geleentheid om sy wit mede-Afrikaners te verguis.

Hierteenoor sê prof. Jonathan Jansen, 'n voormalige  "struggle"-deelgenoot (Rapport,23.11.2008) : "Hy's siek en sat vir mense wat apartheid die skuld gee vir alles."  Met sy aanstelling as dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, het hy  "...gegaan om die wit kinders te transformeer. En toe transformeer die wit kinders my."  'n Wit eerstejaarstudent vra hom een oggend voor klas of sy vir hom kan bid.  "En ek huil jong, en sê maar natuurlik kan jy vir my bid, kind."

Sowel Du Preez as Jansen het gehuil, maar om uiteenlopende redes. Die verskil tussen dié twee se   "gehuil" lê opgesluit in die Damaskus-metafoor.  "Saulus"  du Preez het nog nie 'n wáre ontmoeting met sy eie mense gehad nie ; "Paulus"  Jansen, daarenteen, wel met Du Preez se mense.

Wednesday, 3 December 2008

Suiwerheid van teologie is op die spel

Suid-Afrika is tegelyk 'n multi-kulturele én multi-religieuse land, bestaande uit verskillende kultuurgemeenskappe wat dinge nié altyd eenders sien en vertolk nie. Een daarvan is die Christelike geloofsterrein.

'n Kritieke vraag is : Durf Protestants-gereformeerde Christene die kultureel-bepaalde interpretasies van die Evangelie binne individuele kultuurgemeenskappe ignoreer?

In sy boek, Dominee, Are You Listening to the Drums?, sê A.S. van Niekerk : "Theology should pay attention to cultures...(and) Communication takes place in a cultural context ; the source of the message, the message itself and the receptor are all part of a cultural framework."  Verder : "...the theologies, philosophies and problems of Africa should also be allowed to play a role in shaping a truly South African theology...(and) Africa should become a partner in...this indigenous theology (therefore)...there will have to be co-operation between White (European) and Black (African) theology."

Dit plaas prof. Piet Naudé se vroeëre opmerking in skerper fokus wanneer hy sê : "As Khayelitsha en Stellenbosch, Bloemfontein en Botshabelo, Tukkies en Alexandra nie met mekaar versoen word nie, sien hy (Naudé) nie 'n oplossing nie" (DB,08.10.2008).

Van Niekerk blameer die  "wit teologie"   -   beperk tot 'n oorwegend  "wit konteks"   -   vir  "...a Black theology (to) come into existence to reflect a Black context. This theology aims at Black liberation, it rejects Western standards and examines African tradition for an alternative theological framework and for  'a totally new social order'."  En verder : "...the desperate suffering of Blacks...are to be blamed not only on the Whites but also on  'the White man's God'."

Is dit Bybels aanvaarbaar dat daar 'n  "alternative truly indigenous South African theological framework"  vir Christengelowiges ge-"shape" sal word? Is dit waarheen die  "nuwe teologie", onder meer, met die kerk op pad is? Indien wel, plaas dit teologiese suiwerheid op die spel, en sê ek nee dankie vir kerklike eenwording op dié sinkretistiese teologiese fondament.

Tuesday, 2 December 2008

God, of Darwin?

In minder as 'n honderd jaar het die geloofsbehoeftes van Afrikaanssprekendes, deur Jacques Kriel geïmpliseer, "geëvolueer" vanaf die Bybel in Afrikaans tot "Darwin in Afrikaans, asseblief" (BY, 29.11.2008).

Kriel bepleit 'n vertaling van Darwin se Christelik-ondermynende werke, On the Origin of Species  en  The Descent of Man, in Afrikaans. Kriel oordeel misleidend dat die Christelike geloof (tese) en die evolusieleer (antitese) tot 'n sintese versoen kan word. Hy skroom nie om natuur en Skriftuur van mekaar te skei en sodoende die soewereiniteit van God as Skepper, Sy skepping en Sy Woord te verkrag nie.

Die gesag van die Bybel word ontken volgens 'n prosedure waarvolgens God en werklikheid dualisties van mekaar geskei word; dan die skeiding tussen geloof en wete (kennis) en die deïstiese ontkenning van die reëele verband tussen God en werklikheid; dan die rasionalisme, empirisme en relativisme wat uitloop op 'n horisontalisme waarin die werklikheid ontgeestelik word.

Kriel is 'n goeie voorbeeld van beïnvloeding deur die leermeester; in sy geval prof. Degenaar wat sê "dat die Christendom met sy wêreldbeeld as uitgedien beskou moet word."

Kriel werp die Christelike geloof in een poel met die Judaïsme, Islam, Hinduïsme, Buddhisme en Afrika-godsdienste, want almal werk "met die begrip van 'n skepper-God (of skeppergode) en vertel almal skeppingsverhale." Dit is duidelik dat die evolusie-teorie die beoogde eenwêreld-godsdiens van die toekoms moet bevorder.

Die ruimte ontbreek om volledig op Kriel te reageer. Kriel sluit met die afdreiging dat "Sonder Darwin in Afrikaans sal Afrikaanssprekende studente...aan die agterste wetenskaplike speen moet bly suig!" Kriel, ons suig liewer aan die bors van ons geloofsmoeder, die alomvattende en gesagsvolle Woord van God.

Ons geslag word tans uittartend gekonfronteer deur die Goliats-evolusieleer en die Godloënende kampvegters daarvoor. Ons Christenjeug staan geoffer te word op die brandstapels van die evolusiegeloof terwyl ons geloofsleiers stilswyend toekyk.