In eiebelang beoefen jy 'n beroep ; in belang van jou medemens volg jy 'n roeping - so lui die gesegde. In dr. Boesak se geval blyk die winsmotief voorrang bo die diensmotief te geniet ; dat hy veel eerder 'n speler in die politieke beroepsliga as in die kerklike roepingsliga wil wees. Boesak se skaamtelose gelyktydige flankering met die ANC én Cope, gedryf deur eiebelang, is baie opmerklik. Hy bied homself aan die hoogste bieër van dié twee wat hom die grootste persoonlike voordeel bied.
By uitnemendheid 'n opportunis en pragmatis, span Boesak sy seile na dié windrigting waarin die politieke winde van verandering tans die gunstigste vir hóm waai. So word daar berig in "Boesak-betowering" (DB,17.12.2008), dat hy 'n opruiende toespraak by Cope se stigtingsvergadering gehou en 'n helde-ontvangs hom te beurt geval het, en "Die charismatiese Boesak...die skare in beswyming gehad het met sy retoriek."
Vooraf het die ANC hom "met verskeie aanbiedinge genader, (maar hy) Het gesê daar is te veel vervreemding tussen my en die ANC", en tog darem ook nie só 'n groot afstand dat dit hom daarvan weerhou het om die ANC te versoek om in die ambassadeurspos by die Verenigde Nasies aangestel te word nie.
Boesak is by uitstek 'n platform-soeker. As aktivis en opruiende orator wil hy gehóór word. Die beperkende ruimtes van kansel, kerk en teologie pas nie langer sy selfgewaande statuurgrootte nie. Boesak speel baie duidelik 'n dubbele rol - soms die verpolitiseerde geestelike ; dan weer die begeesterde politikus - wat kerk en teologie beslis nie ten goede kom nie. Wil hy nie maar "die skape van Sy weiding" finaal vaarwel toeroep, en so ook die US-kweekskool, en hom voltyds as beroepspolitikus aan die politiek wy nie?
Daar mag seker ook na die "Boesak-fenomeen" verwys word soos wat daar vroeër na die "Buchan-fenomeen" verwys is.
No comments:
Post a Comment