Jan Kemp se brief : "Skepper se werk in natuur te sien" (DB,21.02.2009), stem tot nadenke. Wat volg, is géén kritiek nie - sien iemand dit wel so, is my antwoord : Kritiek impliseer 'n kriterium, en vervul die Woord dan sódanige funksie - maar ek reageer nietemin daarop.
Kemp sê : "Of jy nou in die Bybel se skeppingsverhaal glo of aan die Koran of watter denominasie se geskrifte, maak nie saak nie."
Dié standpunt vertolk ek as neutraal van aard, en lees ek nié die belydenis van 'n Christengelowige - wat die Drieënige God as enigste ware God erken - daarin nie, want dit "maak nie saak nie".
Vir my het die Skeppergod beslis 'n naam. Kemp verwys deurgaans na "Skepper" sónder 'n naam ; dus oop vir enige interpretasie en, sodoende, ook vir moontlike wanvertolking. Kemp sê verder : "Gaan saam met my veld toe en ek laat jou die skepping en die Skepper ervaar." Met 'n "naamlose Skepper" kan dié stelling só maklik as panteïsme vertolk word.
Volgens die panteïsme is elke berg, klip, dier, plant of mens 'n uitdrukking en deel van die Skepper se diffuse wese. Hy is één met sy werke en is oral te vind ; 'n onpersoonlike mag wat in die heelal en natuur tot openbaring kom, alles beskik en 'n doel daaraan gee - onpersoonlik en naamloos.
Ek dink nie Christengelowiges moet hoegenaamd probeer om alle gelowe sinkretisties-akkommoderend ter wille te wees deur die Naam van óns God, wat ons uit sowel natuur as Skriftuur leer ken, te verswyg nie. As Alskepper is Hy ook Eienaar van alles, almal én Sy Naam.
Waarom is ons so halsstarrig om Sy Naam openlik in die openbaar te bely? (Sien gerus Lukas 12:8-9). Noem die Skepper op Sy Naam, want Hy hét een.