'n Mes, 'n motorvoertuig en sterk drank is op sigself nié moordwapens nie, maar gekombineer met laasgenoemde (moordwapen), kan elkeen van die eersgenoemdes 'n potensiële moordtuig wórd. Geld dit dalk ook vir dans? Sónder Bybelse norme kan Christene nie dié vraag beantwoord nie.
Nadat Dawid vir Goliat verslaan het, "...het die vroue van Israel gedans en gesing" (1 Samuel 18:6-7). Dawid self dans uitbundig voor die ark van die Here en sê vir sy foutvinderige vrou : "...ja, voor die Here sal ek dans" (2 Samuel 6:5,21).
Ons moet die dansverskynsel nie oorvereenvoudig nie, maar eerder dink aan 'n veelheid van danskontekste wat, waarskynlik, bepaalde kontekstuele "boustene" met mekaar in gemeen het, soos 'n danslokaal, dansdrag, dansmusiek, dansversierings, 'n "dansgees" , asook dansverversings en ook 'n kontantkroeg. Dansorganiseerders kombineer dan sulke "boustene" volgens die bepaalde behoefte tot 'n doelmatige danskonteks vir 'n besondere geleentheid.
Die toonaangewende "gees" tydens 'n dansparty kyk ons egter baie maklik en gerieflikheidshalwe mis. Volksdanse en ontkleedanse vind onder die leiding van sulke uiteenlopende "geeste" plaas. Dawid en die vroue van Israel het duidelik in die teenwoordigheid van God se Gees gedans.
Aan 'n kerkraad, wat volgens Paul Theron (DB,11.02.2009), 'n dansparty reël "...om 'n oplossing te vind vir 'n geldkrisis in die gemeente", is die vraag dus : Watter "gees" het dié besluit geïnspireer? "Heilig" dié doel dalk die middel?
Verwysende na Bybelse norme sê Jakobus 4:17 : "As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde." Petrus sê ook profeties (1 Petrus 4:17) : "Die tyd vir die oordeel het aangebreek ; dit begin by die huis van God."
Is dit dalk vandag so dat Bybelnorme nié meer die lewenspraktyk bepaal nie, maar laasgenoemde eerder Bybelnorme wil voorskryf?
No comments:
Post a Comment