Ek deel die bekommernis van Bekommerde Ouer, "Brief was nie 'n klipgooiery" (DB,17.04), maar dink die vinger word nie heeltemal op die wond self - die ouers - geplaas nie. Daar moet in beginsel na die verhouding tussen ouers, kinders, die skool en drankmisbruik gekyk word.
Wanneer 'n man en vrou 'n kind verwek, word hulle, prinsipieel, die primêre plig van ouerskap opgelê. Dis 'n omvattende verantwoordelikheid wat hulle op niemand anders mag afskuif nie.
Die talle verwaarloosde straatkinders bring ons tot die besef dat vir talle "seksueel ryp volwassenes", hierdie kinders waarskynlik weinig méér beteken as die korstondige orgasmiese genot waarmee hul verwekking gepaard gegaan het.
"Volwassenes" word sigbaar toenemend onvolwasse betreffende ouerskap, en dit terwyl ouers die primêre sleutelhouers van hul kind se toekoms is.
Soos skoolopvoeding en onderwys, is ook die ouerlike opvoeding nóóit neutraal nie, maar staan dit altyd in diens van "iets" wat navolgenswaardige opvoedingsrolmodelle vereis. Hoe lyk ons huidige ouerrolmodelle?
Die skool verkeer in die kritiese opnebare oog en is maklik om te teiken, met die ouerhuis egter veilig agter die horison van openbare kritiek.
Ouers mág vra of die jongste klubhuisgier by skole moraliteits-opbouend en -versterkend bydra tot hul kinders se opvoeding en onderwys. Kinders wéét dat ouers en onderwysers (beide rolmodelle!), soms binne sigafstand, drank daarbinne geniet.
Het die professionele ouer-onderwyser-vennootskap verskuif na 'n onprofessionele een tot nadeel van kinders?
Is die Trojaanse drankperd by huise, met eie drankkabinette en kroeggeriewe, nie ten dele verskuif na die skoolklubhuis nie?
En die jeug, wat hulself aan drank vergryp by feeste soos die KKNK, is hulle nie allereers die "grootmaak-produkte" van ouerhuise nie?
Die afgetakelde, ideale rolmodel-ouer blyk doof te wees vir sy kind se noodkreet.
Ouers, steek gerus die hand in eie boesem, en versoek u onderwyser-vennoot om dieselfde te doen.
No comments:
Post a Comment