Tuesday, 28 April 2009

Tegniese skool 'rus volkome toe'

Die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar op Uitenhage het pas sy 114de jaarlikse herdenkingsbyeenkoms gehou. Dit was my voorreg om dié toonvenstergeleentheid te kon bywoon.

Wat 'n fees op sigself was die ordelik-gedissiplineerde en hoflike gedrag en netjiese voorkoms van die leerlinge nie!

Op 14 Oktober 1893 het ds. D.J.Pienaar, tydens 'n ringsitting van die NG Kerk te Graaff-Reinet, 'n beskrywingspunt ingedien oor die voorgenome oprigting van 'n "Industriële skool te Uitenhage in verband met onze kerk".

Dié beskrywingspunt is in voorstelvorm deur die ring aanvaar en ds. Pienaar tot kollektant vir dié saak benoem. Vanweë sy vurige ywer open dié "ambagskool" op 2 April 1895, en word aanvanklik slegs houtwerk aangebied waartoe handvaardigheidsvakke soos wamakery, smedery, skoenmakery, tuinbou en kleremakery spoedig toegevoeg is.

Mettertyd het dié skool hom ontworstel aan die staigmatisering as 'n ambagskool vir sukkelende leerders, en hoef beslis nie vir enige ander skooltipe terug te staan nie.

Akademiese en tegniese onderwys staan nie langer teenóór mekaar nie, maar wel aanvullend tot mekaar om in die diverse behoeftes van 'n ontluikende nasionale samelewing te voorsien.

Die skoolleuse, "Volkome toegerus", is van Paulus aan Timoteus (2 Tim. 3:17, OAV) gerig. Paulus sien in Timoteus (2 Tim. 1:5) "...dieselfde geloof wat in jou ouma...en in jou ma...was".

Soortgelyk is ds. Pienaar se ywer en ondernemingsgees steeds sigbaar in dié skool.

'n Mens kan net wonder wát ds. Pienaar oor ons huidige dominees se betrokkenheid by onderwys in die algemeen te sê sou hê.

As ouergemeenskap   -   voriges en huidige   -   betuig ons graag ons dank en waardering ook in die openbaar, want skole is openbare instellings, teenoor dié skool vir die puik opvoeding en onderwys wat ons kinders van u ontvang het.

Dankie aan die skoolhoof en sy toegewyde personeel, onder die seënende Hand van ons Meester, vir u lofwaardige roepingsvervulling. Bou só ons toekoms.

Tuesday, 21 April 2009

Klubhuise by skole onder verdenking

Ek deel die bekommernis van Bekommerde Ouer, "Brief was nie 'n klipgooiery" (DB,17.04), maar dink die vinger word nie heeltemal op die wond self   -   die ouers   -   geplaas nie. Daar moet in beginsel na die verhouding tussen ouers, kinders, die skool en drankmisbruik gekyk word.

Wanneer 'n man en vrou 'n kind verwek, word hulle, prinsipieel, die primêre plig van ouerskap opgelê. Dis 'n omvattende verantwoordelikheid wat hulle op niemand anders mag afskuif nie.

Die talle verwaarloosde straatkinders bring ons tot die besef dat vir talle "seksueel ryp volwassenes", hierdie kinders waarskynlik weinig méér beteken as die korstondige orgasmiese genot waarmee hul verwekking gepaard gegaan het.

"Volwassenes" word sigbaar toenemend onvolwasse betreffende ouerskap, en dit terwyl ouers die primêre sleutelhouers van hul kind se toekoms is.

Soos skoolopvoeding en onderwys, is ook die ouerlike opvoeding nóóit neutraal nie, maar staan dit altyd in diens van "iets" wat navolgenswaardige opvoedingsrolmodelle vereis. Hoe lyk ons huidige ouerrolmodelle?

Die skool verkeer in die kritiese opnebare oog en is maklik om te teiken, met die ouerhuis egter veilig agter die horison van openbare kritiek.

Ouers mág vra of die jongste klubhuisgier by skole moraliteits-opbouend en  -versterkend bydra tot hul kinders se opvoeding en onderwys. Kinders wéét dat ouers en onderwysers (beide rolmodelle!), soms binne sigafstand, drank daarbinne geniet.

Het die professionele ouer-onderwyser-vennootskap verskuif na 'n onprofessionele een tot nadeel van kinders?

Is die Trojaanse drankperd by huise, met eie drankkabinette en kroeggeriewe, nie ten dele verskuif na die skoolklubhuis nie?

En die jeug, wat hulself aan drank vergryp by feeste soos die KKNK, is hulle nie allereers die "grootmaak-produkte" van ouerhuise nie?

Die afgetakelde, ideale rolmodel-ouer blyk doof te wees vir sy kind se noodkreet.

Ouers, steek gerus die hand in eie boesem, en versoek u onderwyser-vennoot om dieselfde te doen.

Wednesday, 15 April 2009

NVG se kapitulasie wys ANC slaag

Versiendes het geweet dat daar op 2 Februarie 1990 onstuitbare kragte en magte in Suid-Afrika losgelaat is.

Mense is valslik mislei om te glo dat die voorafgaande "duiwel" gedood is sónder dat 'n plaasvervangende "duiwel" in die plek daarvan kon kom ; mense wat naïef gedink het hulle lewe in Europa, nie in Afrika nie.

Die ANC-skerpioen het aanvanklik 'n vriendelik-glimlaggende en versoenende gesig vertoon   -   ook vir die internasionale gemeenskap en in só 'n mate dat dié gesig tot wêreld-ikoon verhef is.

Intussen was die ANC se skerpioenlyf, en veral die dodelik giftige angel daarvan, tydelik en netjies gekamoefleerd versteek vir die siende blindes.

Met sy uittartende vriendekring, waaronder Zimbabwe, Kuba en China, word dié kamoeflering mettertyd ontbloot en die ANC ontmasker as deel van dié sosialistiese en kommunistiese orde.

Sosialistiese, totalitêre state, in verskillende gedaantes, is tipies aan Afrika. As deel van Afrika was dit net 'n kwessie van tyd voordat die ANC se geveinsde vriendskap met Westerlinge blootgelê sou word, en hy sy minagting vir die Westerse demokrasie en die denkprodukte darvan te kenne sou gee.

Suid-Afrika se (ANC-gemanipuleerde) grondwet, en ook ons (ANC-geminagte) regstelsel, waaroor die ANC so hoog opgee, is niks anders nie as rookskerms waaragter "konstitusioneel-legitiem" en doelgerig geknoei word met die doel van burgerlike misleiding.

Misleides glo graag dat die aanvanklike ANC-gesig ad infinitum die ware messiaanse gesig van die ANC is en sal bly. Cope is 'n duidelike bewys dat sommiges se oë begin oopgaan.

Die tradisionele militêre Zoeloe-gevegsformasie was dié van 'n bul waarvan die "horings" (gevegsflanke) die vyand mettertyd moes omsluit.

Die ANC pas dié strategie suksesvol toe. Die krisisse wat ons beleef, dui op die toenemende omsingeling deur dié "horings" waarvan die kapitulasie van die NVG (Nasionale Vervolgingsgesag) die jongste voorbeeld is.

Thursday, 9 April 2009

Zuma-uitspraak ook anders vertolk

In die polemiek oor mnr. Jacob Zuma se uitspraak oor wit Afrikaners gaan dit nie daaroor of dit 'n "oefening in onderdanigheid" was soos wat die Afrikaner Volksparty (AVP) in "Ons vra niks van Zuma" (DB, 04.04.09) beweer nie, óf dat dit "as haatspraak beskou (kan) word" soos Dave Steward van die F.W.de Klerk-stigting in "Skerp reaksie op Zuma-uitlatings 'walg' ANC" (DB, 04.04.09), beweer nie.

Waaroor dit wél gaan, is : 1) presies wát het Zuma van Afrikaners gesê en 2) wat het hy daarmee bedoel? Wát hy gesê het, weet almal presies, maar oor sy bedóéling kan ons net ten beste gis. Hiervan is die veroordelende interpretasies van die AVP, DA, OD en De Klerk-stigting goeie voorbeelde.

Kom ons vra onsself hoe politieke partye sou reageer indien Zuma dit wat hy gesê het, wel van Engelssprekendes gesê het. Sou dit steeds dieselfde vlaag van kritiek ontlok?

Kom ons dink ook aan 'n ander vertolkingsmoontlikheid waar Zuma primêr Zoeloesprekend is, en ons laat toe dat sy uitlatings, waarskynlik, etniese (volkse) taalkonnotasies in hulle kon omdra.

As wit Afrikaner dink ek aan myself as synde lid van 'n (etniese) volk, terwyl as ek aan swart mense dink, dink ek aan hulle as lede van 'n (etniese) stam. Oor die jare het vakliteratuur dit so aan ons oorgedra. Vir my is volk dus wat vir Zuma stam is.

Wanneer Zuma verwys na Afrikaners as "die enigste ware wit stam van Afrika" in "Afrikaners is enigste wit stam in Afrika" (DB, 03.04.09), dan sê hy daarmee vir my : "Afrikaners is die enigste wit volk van Afrika."

Wie hiermee wil fout vind, dat die Afrikaners   -   onder al die wittes in die land   -   hier tot die énigste wit volk ontwikkel het, moet met die geskiedenis gaan rusie maak en nie met Zuma nie.

Wednesday, 8 April 2009

Kerkfoefie rondom belydenisskrifte

Gesien teen die agtergrond van die datum, 1 April, waarop dr. Braam Hanekom se Godsdiens Aktueel-artikel, "Het die kerk nog belydenisse nodig?" (DB, 01.04), verskyn het, sou dit dalk vir 'n "April-grap" aangesien kon word, maar dit is allermins 'n grap, en is dit waarskynlik nie sonder skok en ontnugtering dat NG Kerk-lidmate dit gelees het nie.

Hanekom sê die Wes- en Suid-Kaaplandse sinode van die NG Kerk is "bekommerd oor die rol wat ons bestaande belydenisse tans in die kerk speel of nie speel nie". As hy beweer dat dié sinode "daarvan oortuig (is) dat min lidmate nog vertroud is met die inhoud daarvan", dan is my vraag aan Hanekom:  Wie is daarvoor te blameer : lidmate, of die besluitnemende sinodale kerkleiers?

Hanekom sê : "In die jare tagtig het 'n belydende stem uit ons eie konteks weerklink wat (sê ons) moet praat oor eenheid, die versoening van mense met mekaar en geregtigheid." My vraag hierop is : Is daar dan nog steeds diegene wat nié weet dat dié "belydende stem" dié van die revolusionêre Bevrydingsteologie was nie?

Hanekom wys daarop dat sy streeksinode die Belydenis van Belhar aanvaar het, en voeg daarby : "Ek glo dat Belhar ons op 'n vreemde manier kan help..." Vreemde manier? Veelseggend! Ja, ongetwyfeld 'n manier vreemd aan die NG Kerk. Hierdie "vreemde manier" van Belhar-hulp na kerkeenheid, verdien lidmate se noukeurige aandag.

Die "geestelike logika" van Hanekom blyk die volgende te wees : Indien NG Kerk-lidmate dan bly weier om saam te werk vir kerkeenheid vanweë hul besware teen die Belhar-belydenis, kom ons verwyder dan die struikelblok deur álle belydenisse te verwyder   -   ook die drie Formuliere van Eenheid   -   dan bly daar mos géén gronde meer oor vir beswaar teen kerkeenheid nie.

Met alle respek, dr. Hanekom, ek dink u onderskat lidmate se vermoë om deur u belydenisskrif-kerkfoefie te kan sien.

Wednesday, 1 April 2009

NG Kerk moet die politiek laat staan

In "Barbara Hogan kry sterk steun" (DB,27.03.09), word berig dat die NG Kerk "...die regering se besluit as 'n skande (beskou en)...Ons vra die ANC om...standpunt in te neem teen die regering se optrede teenoor die Dalai Lama", weens dié se weiering om 'n visum toe te staan.

Wil NG Kerk-leiers nie vir lidmate sê hóé God se Koninkryk gedien word deur in te meng met 'n ANC-politieke besluit oor 'n Boeddhis-geestelike leier wat nié Gods Woord tot lewenskaart en -kompas aanvaar nie? Is dit hul bedoeling om hom hier tot Gods Woord te bekeer?

Vanuit 'n geloofsoogpunt het die NG Kerk hoegenaamd niks met die Dalai Lama, of Christene met Boeddhiste, in gemeen nie.

Is Godsbelang, nie mensbelang nie, dan nie allesbepalend vir NG Kerk-denke in besluitneming en steunverlening nie?

Het die NG Kerk nie sy les geleer vanuit die eie geskiedenis hoe skadelik verbintenisse tussen kerk en politiek kan wees, en die spanning, onmin en verdeeldheid waartoe dit tussen lidmate lei nie?

Wil dié kerk 'n "allemansvriend" wees terwyl hy wéét dat hy midde-in 'n geestelike oorlogvoering met sy geestesvyande verkeer? Is dit wat God vir ons leer in Sy Woord, of is dit soos wat Jakobus 4:4b vir ons sê : "Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is"?

Waar in die Bybel vra God Sy kinders om Christen-ongelowiges in hul ongeloof te ondersteun? En waar vind ons dat nie-Christene die belange van Christene op soortgelyke wyse op die hart dra?

NG Kerk, bepaal jou by jou Goddelike opdrag : Woordverkondiging! Kyk weer wat Efesiërs 6:15 vir jou sê, en lê jou eerder toe op die "evangelie-verkondiging-skoeisel" van NG Kerk-lidmate, en los die politiek vir die politici.