Wednesday 9 November 2011

Die gevaarkant van geleidelikheid

Almal ken taal, dog in geïsoleerde taalomgewings sal nie almal weet van taleverskeidenheid nie. In multitalige omgewings sal ook nie almal bewus wees van taal as 'n kragtige instrument in haas alle lewenskontekste nie, hetsy gesproke of geskrewe.

In essensie bestaan tale uit woorde/begrippe waaruit dit opgebou word. Woorde is betekenisvol, dit wil sê "gelaai" met betekenis waarvan die essensie "teken"   -   soos in be-"teken"-is   -   is. Woorde is derhalwe "tekens" of simbole vir iets anders en roep, dog ook nie altyd nie, konkrete "beelde" by ons op. "Hond" roep die "beeld" (prentjie) van 'n onderskeibare (van alle ander) viervoetige dier op. "Liefde" roep nie maklik, benewens 'n abstrakte emosie en 'n soms sigbare manifestasie, 'n konkrete "beeld" daarvan op nie. Woorde is daarom boustene waarmee elke mens 'n "greep" op die/sy "wêreld" moet kry. Daarom is woordeskatbou vir kinders so belangrik vir die uitbreiding en verbreding van sy/haar eie leefwêreldlike verstaanshorisonne.

Woorde, en hul kontekstueelbepaalde be-"teken"-isse, is bepeinsenswaardig, begrippe om oor diep na te dink oor waarheen dit ons denke voer. Pseudomorfose word gebruik wanneer die oorspronklike betekenis van 'n woord verander ("beroof") word en dit nou 'n ander be-"teken"-is verkry wat die denke in 'n ander rigting stuur.

In die konteks van die Christelike geloof en teologiebeoefening, tref ons hedendaags toenemend voorbeelde van pseudomorfose aan waar bestaande woorde behoue bly, maar nuwe betekenisinhoude verkry. So, byvoorbeeld, verkry die wetenskap geleidelik 'n sterker greep as geloof binne hierdie konteks. Vyftig jaar gelede maak 'n ouderling beswaar teen plekke waar kinders Sondae met hul kollektegeld roomys kan koop. Hierteenoor vind Cas Vos, afgetrede dekaan van die fakulteit teologie aan die U.P., dit "baie vermaaklik" om Adam Mansbach se "Go the F..ck to Sleep" as "slaaptydboek vir moeë ouers", te vertaal na "F...ken" gaan slaap" (DB,07.11).

Hoe gevaarlik geleidelik het dinge nie verander nie.



No comments:

Post a Comment