Friday 11 November 2011

Kantlynkritiek is die makliker opsie

Beide Petrus en Cobus Meintjies (DB,10.11) verkwalik Jannie du Toit vir sy brief, "Sulke stellings 'n teken van eindtye" (DB,08.10). Petrus noem Du Toit selfs 'n "klipchristen" (skynheilige Christen/vrome huigelaar). Hieruit mag ons seker aflei dat Petrus se eie nie-glasgeloofshuis stewig staan; daarom dat hy mag klipgooi. Hoe sal ons ooit weet of daar nie in Petrus se "klipgreep" dalk méér vingers na homself as na Du Toit wys nie?

Sowel Petrus as Meintjies beweer dat Du Toit onverdraagsaam is "...wat Christenskap 'n slegte naam gee" (Petrus), en "Ons kan nie respek vir die Christendom só afdwing nie (Meintjies). Miskien sal dit beide Petrus én Meintjies ontstel om ook van God se onverdraagsaamheid in die Bybel te lees   -   selfs meer as dit   -   ook van God se haat. Moet ons Hom dan nie in alles navolg nie?

Daar is vandag dié Christene wat kompromie met die wêreld aangaan en konsensus daarmee wil bereik   -   'n Christenkomponent wat verlammend verdoof is deur die invloede van die humanisme, liberalisme en sekularisme en só hul Goddelike opdrag tot kragtige getuienislewering versaak.

Petrus en Meintjies, wáár hoor julle vandag nog die protestantse stem van beswaarmaking teen onbybelse dinge? Dit is opvallend hoedat protestants-ingestelde Christene vandag deur mede-Christene gekritiseer word met 'n gesindheid van: Ons kan toesien hoedat aanstoot gegee word aan die "onsigbare" God, maar nié aan mense nie! Ek kan nie enige besware van julle onthou teen, byvoorbeeld, Sondagsontheiliging   -   ingestel op sinsgenot soos in Sondagsport, oop winkels en selfs drankwinkels   -   en só jul gehoorsaamheid aan Hom bewys. Waar's die konsekwentheid?

Nee, vriende, erken gerus dit is 'n veel makliker opsie om as passiewe Christen-"toeskouer" vanaf die kantlyn te kritiseer as om self aan die Christelike "geloofspel" (met sy duidelike "spelvereistes") deel te neem en jouself, sodoende, aan openbare kritiek bloot te stel.                      (ngn)




No comments:

Post a Comment