Saturday 5 November 2011

Horisontalistiese godsdiensmisbruik

Vir die Christendom was en is die kruis   -   deur alle eeue en ook vandag nog   -   'n prominente geloofsimbool. 'n Kruis bevat twee balke, vertikaal en horisontaal, waarvan eersgenoemde die voorwaarde is vir laasgenoemde se volgehoue posisie en plek as deel daarvan. Vir Christene verteenwoordig die vertikale balk ons verhouding met God Drieënig; die horisontale balk ons verhouding met ons naaste   -   God eerste, dan medemens; nié andersom nie. Tans is daar kragte en magte baie hard aan die werk om hierdie prioriteitsorde om te keer.

In "ANC Today" (21-27.10) het Mathole Motshekga, lid van die ANC se NUK en ANC-hoofsweep in die Nasionale Vergadering, in die lig van die voorafgaande die volgende gesê: "From the 14th to the 18th October 2011 the International League of Religious Socialists (ILRS) held a conference in The Hague to develop strategies and a programme of action to mobilize the religious left for social transformation. The ANC's Commission for Religious and Traditional Affairs was invited to make a presentation on religion and politics in South Africa...to build a national interfaith movement for social transformation..."

Alhoewel onder "religion" nie nét die Christendom verstaan moet word nie, gee die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners te kenne dat hul wel Christene is. Wanneer Motshekga dus verwys na 'n "national interfaith movement for social transformation" dan impliseer dit beslis ook sommige Christene. Hierdie prioriteitsomkering van God (vertikaal) na mens (horisontaal) vind ons ook implisiet aanwesig in die Belharbelydenis wanneer dit verklaar: "Ons glo dat God Homself openbaar het as...die God van die noodlydende, die arme en...dat die Kerk as die eiendom van God moet staan...by die verontregtes" ; nie meer bekering tot God nie!

Voorbeelde van die toenemend vinnige verskuiwing van die vertikale dimensie van die Christendom na die horisontale deur godsdiensmisbruik kan vermenigvuldig word, dog beperkte ruimte maak dit onmoontlik.




No comments:

Post a Comment