Monday 31 October 2011

Hoeveel diesulkes op huigelkansels?

Die geskiedenis, waarby inbegrepe ook die kerkgeskiedenis, herhaal sigself. Van dit wat vandag in die kerk aan't gebeur is ten opsigte van sommige leraars se huigelary en verraad teenoor Christus en hul roeping, is daar talle soortgelyke voorbeelde in die Bybel. 'n Voorbeeld hiervan is waar God by monde van Esegiël (34:7,10) sê: "...die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie...Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug..."

Daar is diegene wat beweer dat daar vandag leraars is wat Christus vir materiële gewin en mense-aansien verraai. Hierdie bewering word dan ook gedeeltelik gestaaf deur beriggewing in "Rapport" (23.10), "Predikante bieg oor twyfel", waarin vyf predikante anoniem juis dit deur hul bekentenisse in 'n nuutverskene boek, "Hier staan ek", erken. Hulle bieg dat "...in hul harte glo hulle nie meer wat hul werk se posbeskrywing van hulle vereis nie." Van hulle sê: "Ek kan nie meer bid nie...Ek lees nie meer die Bybel nie" en glo ook nie meer in Jesus se maagdelike geboorte, opstanding uit die dood of 'n hiernamaals nie. Nog een vind eerder aanklank by "die kontemplatiewe spiritualiteit van die Katolieke mistici." Nog een sê, soos die Moslems en Budhiste ook sê, Jesus is " 'n navolgenswaardige leermeester"   -   en dis al! Hulle durf hul Christus-verloënde oortuigings nie openbaar maak nie ter wille van "My loopbaan...". Loopbaan?   -   'n loopbaan van huigel en om lidmate te mislei? Hoe kan sulke predikante met hul gewete saamleef in ag genome ook die aflegging van hul legitimasie-eed?

'n Kritieke vraag is: Hoeveel soortgelyke dominees bevind hulself vandag op kansels, besig met hul vernietigingswerk? Broer Andrew van "God se Smokkelaar"-faam het gesê: "Either you get radical for Jesus Christ, or you get out (of the Church)". Dit geld ook dié huigelleraars.                        (ngn)






No comments:

Post a Comment