Sunday 2 October 2011

NG Kerk keer die rug op Afrikanervolk

In sy ringsaanvaarde voorlegging, "Afrikaanse armes sal met privaat inisiatief gehelp moet word", tydens die NGKerk-ringsitting van Louis Trichardt (12-13.08), verduidelik ds. Petrus Kriel waarom die NGKerk teen die Afrikanervolk draai en verarmde Afrikaners nie ondersteun nie.

Kriel sê Afrikanerarmoede is die gevolg van die ANC-owerheid sowel as geestelike instellings se strukturele geweld teen volksgenote. Die staat diskrimineer op velerlei wyses teen arm NGKerklidmate as "voorheen begunstigdes". Hierbenewens staan ook kerke toenemend afsydig teenoor verarmende Afrikaners.

Voor 1994 het Afrikaners én -kerke hulself as behorende tot die Afrikanervolk beskou. Kriel sê tans is daar 'n nuwe gemeenskapsvorming in Afrikanergeledere. Waar verskille tussen ryk en arm Afrikaners voorheen nie so sterk beklemtoon is nie, is daar nou 'n materieel-bepaalde "klasseverdeling" onder Afrikaners. Arm lidmate is op diskriminerende ANC-hulp aangewese. Vermoënde lidmate, veral met sakebelange, vind dit voordelig om eerder met die armoedevraagstuk in ander gemeenskappe te assosieer. Talle Afrikaanse instellings is reeds tot ANC-nasiebouprojekte verbind.

Saam met die NG Kerk hou welvarende Afrikaners hulself voor as deel van 'n nuwe "geestelike elite" wat eerder ander gemeenskappe as die eie gemeenskap wil dien. Kriel beweer die Afrikanervolk mag sigself nie meer kerklik as volk identifiseer nie, maar eerder as individue in 'n breër gemeenskap in "vrye assosiasie" sonder enige gemeenskapsverbintenis, en as deel van 'n "geestelike gemeenskap" waarin "kleur" en "kultuur" geen rol speel nie. Die Afrikanervolk verteenwoordig dan kwansuis 'n "volksmentaliteit" van die "apartheidskerke", en dit is sonde.

Kriel sê Christelike kerke se strukturele geweld teen arm Afrikaners is om hul armoede as "'n geestelike saak te regverdig". Hiervoor sorg die "boetedoeningsinstelling van die moderne Christelikheid". ANC-gunssoekende kerke sal later ANC-taal móét praat. Kerklike hulp moet bydra tot "heling" en "versoening" met Afrikagemeenskappe. Hulp aan arm Afrikaners dra nie daartoe by nie en daarom word hulle in die kerk se welsyn "regverdig" gemarginaliseer.






No comments:

Post a Comment