Tuesday 11 October 2011

Belhar kwalifiseer nie as gereformeerd

"Die Burger" (10.10) wys NGK-lidmate op prof.Piet Naude se ope brief in "Kerkbode" waarin hy andermaal aanvaarding van die Belharbelydenis (BB) bepleit. Betekenisvol dat sy brief saamval met die huidige Algemene Sinodesitting.

Wat die BB betref, vra ds. Theo Danzfuss die volgende kritiese vrae in sy artikel, "Evaluering van die Belharbelydenis (3)", in "Waarheid en Dwaling", mondstuk van die Vereniging vir Gereformeerde Lewenswandel, onder die oorkoepelende vraag: Hoe vergelyk die Belharbelydenis met die algemene kenmerke van 'n gereformeerde belydenis? 1. Is Belhar 'n "repetitio sacrae Scripturae"?, met ander woorde, 'n "naspreke van die spreke van die Skrif". Danzfuss sê Belhar gebruik begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid en vul dit met nie-Bybelse betekenisse. Dit maak ook geen erns met die konteks van 'n teksvers nie.  2. Is Belhar 'n noukeurige geformuleerde belydenis?, met ander woorde, trek dit 'n duidelike lyn tussen waarheid en dwaling. Danzfuss sê nee.  3. Kan Belhar op die "Quia"-standpunt onderteken word?, met ander woorde, "omdat" dit met die Bybel ooreenstem en nie "in soverre" dit daarmee ooreenstem nie   -   die "Quatenus"-standpunt. Selfs drs.Bam en Smit, wat leiding verskaf het aan die BB-opstellers, het erken dat die formulering daarvan dubbelsinnig is.  4. Is Belhar 'n belydenis met 'n algemene karakter? Danzfuss sê nee. "As ons dit vergelyk met gereformeerde belydenisse, is die kontras soos dag teen nag...Belhar is 'n situasiegebonde protes teen sekere sosiaal-maatskaplike probleme."  5. Is Belhar 'n "Regula Fidei"?, met ander woorde, onderskei dit tussen ware geloof en dwalinge/kettery. Danzfuss sê nee; daarvoor is die BB te eensydig.  6. Hoe tyd- en plekgebonde is Belhar? 'n Ware gereformeerde belydenis is nie tyd- of plekgebonde nie en verouder nooit. Die BB voldoen nie hieraan nie.  7. Is Belhar 'n formulier van eenheid of verdeeldheid? Die BB verdeel Christengelowiges.

Ter gevolgtrekking sê Danzfuss die BB vertoon géén kenmerk van 'n ware gereformeerde belydenisskrif nie.



No comments:

Post a Comment