Thursday 13 October 2011

Moderator steun Ontluikende Kerk

Prof. Nelus Niemandt is tot moderator van die NG Kerk verkies (DB,11.10). In hóm het dié kerk nou 'n uitgesproke denk- en geesgenoot van die Ontluikende Kerk (Emerging Church) tot leier verkies. Hoe weet ons dit? Sy geesgenootlike vriend, prof. Stephan Joubert, skryf in sy voorwoord tot Niemandt se boek, "Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede", dat die skrywer "uitgediende kerklike maskers...rondom ons almal afhaal...deur nuwe geloofspraktyke vir ontluikende kerke op ons etenstafel neer te sit..." Dit het Joubert se "kop van voor af geswaai...(met) 'n klompie radikale nuwe insigte..."

Van die Ontluikende Kerk, waaromtrent hyself en Niemandt ewe opgewonde is, sê Joubert die volgende: "...die jonger generasie sien die kerk as 'n struikelblok om die Here te dien...(hulle) is nie lojaal aan 'n denominasie nie", en die kerk moet aanpas by veranderde tye   -   "Dis wat die emergent church sê."

Die kerk moet nuwe gespreksgenote vind soos die Boedhiste, die vinnigste groeiende spiritualiteit in die wêreld. Ons leef in die tyd van die post-Christendom. Volgens Joubert beweer Peet Kruger, algemene hoof van News 24 se koerante, dat tradisionele Afrikaanse kerke se stem nie meer ernstig opgeneem en as nuuswaardig beskou word nie.

Joubert sê: Luister na die Boedhiste en lees hul geskrifte want "Hulle het dalk ook waarheid. Waarheid is nie net in die Christendom nie. Jy kan waarheid vind by ateïsme." En "mens stig nie kerke nie...(maar) begin net 'n nuwe movement en jy infiltreer alles wat jy kan...en op 'n nuwe manier die Evangelie neersit...Daarom gaan ek nie ander ouens se spiritualiteit aanvat en my waarhede postuleer nie...(en) die emerging church sê kom ons luister...(en) dis reg as jy glo soos jy glo. Ek gaan jou nie probeer verander nie..."

Dit is dus geen geheim dat die nuwe moderator die Ontluikende Kerk steun nie.                (ngn)



No comments:

Post a Comment