Monday 17 October 2011

NG Kerk-sinode verloën die waarheid

Op 12.10.11 het die Algemene Sinode (AS) van die NG Kerk soos volg besluit: "Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer" (AS-agenda, a.14.7), met ander woorde, die bestaan van satan mag ontken.

Jesus self getuig van die bestaan van satan. Ontkenning van satan maak Jesus tot leuenaar, is 'n aanslag op Bybelse geloofwaardigheid, is 'n verwerping van die geloofsbelydenisse van die NG Kerk, is 'n verbreking van NG Kerkleraars se legitimasie-belofte, maak ruimte vir die bemagtiging van dwaalleraars in dié kerk, vernietig die geloofwaardigheid van dié kerk in  die oë van lidmate en is daarom niks anders as 'n godslasterlike en dus sondige besluit nie. Enige sonde begaan teen die Woord van God, asook verwerping van die kerklike belydenisskrifte, soos in die geval van dié AS-besluit, is volgens artikel 61 van die Kerkorde tugwaardig.

Dr.Henrietta Klaasing sê op Kerkbode-aanlyn (KBA) as satan nie bestaan nie, was daar geen sondeval nie; en geen sondeval, geen verlossing nodig vir die mensdom nie. Jesus se kruisdood en sendingwerk deur die eeue was dan verniet. Ds.Jan Louw vra op KBA "...waarom die belydenisskrifte so belangrik is wanneer die kinderdoop verdedig moet word, maar van minder belang wanneer dit gaan oor die bestaan van satan?"

'n "Beeld"-peiling (13:10) na die waarde wat die AS-besluite vir mense het, het die volgende aangetoon: Baie waarde: 9% ; Geen waarde: 63% ; Neem kennis: 29%. 'n Soortgelyke "Die Burger"-peiling (13:10) na die AS se ja-stem vir Belhar het die volgende opgelewer: Ondersteun: 20% ; Verwerp: 27% ; Onbetrokke: 53%.

Lidmate moet ernstig kennis neem van die Bybelse opdrag: "Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid" (1 Tim.3:15b). Die AS het die waarheid verloën.               (ngn)








No comments:

Post a Comment