Me Helen Zille se stelling "dat daar geen plek in die DA is vir mense wat rassisties, seksisties, homofobies of xenofobies is nie" (DB,26.11), is - behalwe dat dit onrealisties optimisties is - 'n politiek korrekte stelling. Sulke politiek korrekte begrippe wat sy gebruik, word as etikette om die nekke van kritici gehang wat durf verskil. Voorbeelde: kritiek teen regstellende aksie maak jou 'n "rassis"; teen vroue in manlike beroepe, "seksisties"; teen homoseksualiteit, "homofobies", en teen sommige kultuurgroepe se gebruike, "xenofobies". (Kritiek teen liberale teologie maak jou "fundamentalisties".)
Die doelbewuste gebruik van dié, en soortgelyke, begrippe pas in die strategiese raamwerk van "kulturele Marxisme" wat gerig is op die algehele transformasie van die Christelik-georiënteerde Westerse samelewingspsige. Na WO 1 besef Karel Marx en Friedrich Engels dat marxisme/kommunisme nét kan slaag deur die Westerse Christelik-gebaseerde kultuurlewe te vernietig. Om dié kultuur te "verontchristelik" is die strategie van "kulturele terrorisme" ontwerp waarvan politieke korrektheid 'n onderdeel is.
Die bestaan van absolute (Christelike) waarhede word ontkennend verwerp; waarheid word gerelativeer; onaanvaarbaarhede moet met groot verdraagsaamheid geakkommodeer word; tradisionele waardes en norme word vervang; nasionalisme en patriotisme moet plekmaak vir multikulturalisme, en Westerse konserwatief-kapitalistiese samelewings word "gedemoniseer" as onderdrukkend en boos.
Zille word nie beskuldig van doelbewuste bevordering van "kulturele Marxisme" nie, maar dat sy haar deur politieke korrektheid, as 'n faset daarvan, vir die transformasie van die SA samelewingspsige beywer, is gewis en seker. Dit word dan ook bevestig deur haar indirekte pluimpie vir die ANC-regime wanneer sy sê: "enigeen wat meen die lewe was beter tydens die apartheidsera (as vandag)...hoort elders." (ngn)