Monday, 31 December 2012

Nee dankie vir Zuma-reinigingseremonie

'n Gesonde liggaam, én gees, vereis gereelde reiniging. Deur homself vroeër met 'n stortbad voorkomend teen vigsinfeksie te "beskerm", het pres. Zuma die reputasie van "stortkop" oor homself gebring, dikwels deur Fred Mouton in sy hekelsketse uitgebeeld.

In "Zuma wil nasie nou laat reinig" (DB,29.12), betree hy egter die terrein van geestelike reiniging waardeur hy die "morele waardes van die nasie" wil herstel. Voorvalle soos die "Marikana-tragedie, die verkragting van vroue en politieke sluipmoorde" inspireer hom daartoe. Diegene wat hulle nie wil laat reinig nie, koester dan kwansuis "wrokke" (teen wie/wat?).

Met die doel om morele en belangrike Afrika-waardes te herstel, word 'n nasionale reinigingseremonie beoog. Deur met die geeste van afgestorwe voorvaders tydens die "Ukuvala-umkhokha"-ritueel te kommunikeer, kan die tradisionele en kulturele gebruike sodoende herstel word (Mail & Guardian,28.12).

Weinig kom tereg van die veelgeprese "Ubuntu"-waardes indien gelet sou word op 'n vergelyking tussen die selfverrykende ANC-leierskap en hul kreperende ondersteuners. Waarom sal 'n reinigingseremonie dié
situasie dan omkeer? Só 'n seremonie is maar net weer 'n geleentheid vir 'n ANC-jol op belastingbetalerskoste, en die jongste Zuma-uitlatings is bloot simptome van die euforie waarmee hy op die
Mangaung-golfkruin ry.

Christengelowiges vind die uitnodiging tot geestelike reiniging, sowel as 'n waarskuwing daaromtrent, in die Bybel. Jesaja 1:18 bied die uitnodiging: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu..." Jesaja 8:19 waarsku: "En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê... - moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie...?"

Sonder enige sweem van wrok: Dankie,mnr. Zuma, maar ek wil géén aandeel aan u reinigingseremonie hê nie.

Friday, 28 December 2012

Zuma staan vir tradisionele magsbehoud

Vir die Europese westers-georiënteerde mens is dit duidelik dat die Afrikamens vandag - waarskynlik meer as ooit tevore - bedreig word deur 'n potensiële verlies aan sy tradisionele kultuur, en derhalwe ook die mag wat daaruit voortkom. Dit is juis dié mag wat die ANC aan bewind hou. Verlies van die Afrikakultuur en sy mag, kan die einde van die ANC beteken.

Wat Zuma dus betref, dui alles daarop dat hy oor 'n besonder sterk en behoudende Afrikabewussyn beskik en hom, soos Steve Biko en sy "Black Consciousness Movement" vroeër, beywer vir die behoud van die Afrikakultuur (wat sekerlik sy reg is) en die tradisionele mag voortvloeiende daaruit.

Beriggewing oor "Zuma in twis oor ras, honde" (DB,28.12), gaan dus oor veel dieper sake as oppervlakkige verskille tussen die wit en swart rasse. Hy rig hom veral op sy eie kultuurgenote ten einde hulle te waarsku teen die prysgawe van die Afrikakultuur, dat die swart ras en swart kultuur steeds solidêr moet bly en die mag wat dit monster, ingespan moet word teen die gevare van vreemde kultuurbedreiginge. Laasgenoemde is juis goed bekend aan die Afrikaner en kenmerkend van sy geskiedenis.

Om werklik mens te wees - en dit te bly - vereis ook om nié van jou eie kultuurnaelstring geaborteer te word nie. Dit is iets hiervan wat ek meen Zuma in sy opmerkings te kenne wou gee. As staatspresident laat hy hom egter op 'n uiters lomp en ondiplomatiese wyse daaroor uit. Dat hy egter staan vir onbetwisde tradisionele Afrikamagsbehoud, met die onaangetasde Afrikakultuur as voorwaarde daarvoor, is baie duidelik.

Wednesday, 19 December 2012

Gaum se "strominge in die kerk" bevraagteken

Waarskynlik is ek een van weinig   -   dalk selfs die enigste   -   wat meen dat Frits Gaum se artikel, "Vier strominge in kerk" (DB,19.12), nie werklik 'n realistiese bydrae tot die heersende situasie in die NG Kerk lewer nie. Waarom dié bewering? Dink 'n mens ietwat "behaviouristies", dit wil sê in terme van oorsaak en gevolg, dan is dit duidelik dat Gaum se "strominge in die kerk" bloot die reaksie van lidmate beskryf op die rigting wat die huidige kerkleiding inslaan.
 
Gaum se weergawe van kerklike gebeure is slegs wat ek 'n lidmaat-tipologie sal noem vanweë hul reaksie op die kerkleiding. As hy dit "reaktiewe strominge" sou noem, gaan ek akkoord, maar hy doen dit nie. Die werklike ontstaan-"strominge" is die sluise van "anderse" en "vernuwende" kerklik transformerende denkstrominge wat oopgemaak is/word deur die kontemporêre teoloë en kerkleiers. Dìt is die "ware strominge", strominge waardeur lidmate meegevoer word wat nie primêr deur hulle losgelaat is nie, maar wel deur die geestelike leiers binne die kerk. Dìt is die "bron" van die strominge; nie die lidmate nie. Die "lidmaat-strominge" is slegs die reaktiewe uitvloeisels op die "leierskapstrominge" binne die kerk. Laasgenoemde is die "ware strominge" waarop Gaum die lesers moes wys; nie die "reaktiewe lidmaatstrominge" nie.
 
Gaum ontleed die simptome in die kerk, stel dan 'n lidmaat-tipologie saam, en bied dit aan die leser as "strominge in die kerk". Nee, Gaum, lidmate kyk daarby verby en vra na die onder-  en agterliggende kerklik-transformerende oorsake van dié simptome as die "werklike strominge" in die kerk en soos deur die kerkleiers teweeggebring.                       (ngn)
 
 
 

Monday, 17 December 2012

Kan SA hom van dié absurditeit bevry?

Die berig "Studerende LP's druip in groot getalle" (DB,15.12), het betrekking. Ek vind dit onaanvaarbaar dat "honderde hoogs betaalde (sowat R875 000 per jaar!), maar swak gekwalifiseerde parlementslede" die burgery sal verteenwoordig in 'n parlementêre bedeling gevestig op 'n grondwet wat wêreldwyd hoog geroem en as een van die mees progressiewes beskou word. Watter soort leierskap laat dit toe? Iewers is daar beslis 'n gróót fout.
 
Uit beriggewing word dit duidelik dat dié groot aantal parlementariërs   -   275 van 400 LP's   -   nié toegerus en bekwaam is vir hul taak nie; vandaar "dat 275 LP's vanjaar vir Unisa se kursus in regeerkunde en leierskap ingeskryf het" waarvan 82 (30%) gedruip het. Hierdeur maak ons onsself belaglik in die oë van die eerste wêreld waarvan ons so graag deel wil wees, en in dié se welvaart deel, maar self nie daartoe opgewasse is nie.
 
In sy boek, "Historiese Wordingskunde", gebruik F.J.Potgieter die uitdrukking "psythokratiese stemverheffing" waarmee hy na die derde wêreldse "babbelende, demokratiese gepeupel" in die VVO-vergadersale verwys. Ons karig-geletterde parlementariërs laat my aan iets hiervan dink.
 
Wat anders as besonder duur "rubberstempels" van die ANC-regime kan dié ongekwalifiseerdes wees? Watter werklike verskil sou dit teweegbring om hulle met "His Master's Voice"-geprogrammeerde robotte te vervang? Sulke robotte sal nie sit en slaap nie, nie massaal eet en drink nie, benodig nie luukse huisvesting, vliegkaartjies of goue handdrukke nie.
 
Is SA se parlementêre geskiedenis ooit vooraf deur so 'n laagtepunt gekenmerk? Wat sê dit van wetgewing wat deur só 'n parlement deurgevoer word? Is SA daartoe in staat om homself van dié absurditeit te bevry?                      (ngn)
 
 

Thursday, 13 December 2012

God, nie teoloë, spreek die finale woord

Lidmate van verskillende kerklike denominasies moet hulself afvra of die kerk waartoe hulle behoort 'n ware of 'n valse kerk is. Dit geld ook lidmate van die NG Kerk (NGB,Art.29). Die lees van Julian Müller, afgetrede teoloog, se artikel, "Nuwe taal vir ou kerk" (DB,12.12), beklemtoon die noodsaaklikheid van dié vraag.
 
Müller sê die NG Kerk kan nie op die "ou manier" voortgaan nie, moet homself "herontdek", en sy geloof in "nuwe taal" verwoord. Die huidige voortstuwende en allesverswelgende transformasie-tsoenami oorspoel sowel die teologiese denke as die kerklike lewe van die dag. Die kerklike "ou manier" moet plat gevee word sodat 'n nuwe kerklike "phoenix" uit die modder kan verrys   -   "herontdekkende" homself en pratende 'n "nuwe taal".
 
Müller se kerkbeskouing swyg oor die kerk as die Liggaam/Bruid van Christus as die Hoof daarvan. Aangaande myself kan daar nooit van die kerk gepraat word sonder 'n dankbare afhanklikheidserkenning, eerbied en gehoorsaamheid aan die Goddelike Eienaar daarvan nie. Met 'n Godheid wie se karakter nooit verander nie   -   en so ook Sy Woord   -   kom Müller se verwerping van die "ou manier" nie net vreemd, maar ook onoortuigend en verdag voor.
 
NGK-lidmate moenie deur Müller verwar word nie. Neem eerder ter harte wat Paulus vir Timoteus gesê het: "...bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo (2 Tim.3:14). Soos wat? Soos wat Jesus self gesê het: "...die skape volg hom (die herder) omdat hulle sy stem ken...en nooit 'n vreemde sal volg omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie" (Joh.10:4-5). Ignoreer daarom die "vreemde stemme" in die kerk. God, nie teoloë nie, spreek die finale woord.
 
 

Wednesday, 12 December 2012

Hang dan maar dié etiket om my nek

"T.C.Breitenbach, wat is 'n  'manlike beroep' ?", wil L.Lombard (DB,11.12) by my weet. Ek kan u nie definisiegewys antwoord nie, en gee bloot my mening waaruit u u eie afleiding kan maak.
 
Die beroepswêreld word gekenmerk deur 'n eie ontwikkelingsgeskiedenis waarin mans dit vir etlike eeue oorheers het. Met die opkoms van liberalisme het agente in diens daarvan   -   soos "Women's Lib" en die "emansipasie van die vrou"   -   tradisioneel geslagsgeoriënteerde beroepsdifferensiasie geërodeer tot 'n meer gelyke beroepsveld. Vroue het toenemend voorheen "manlike beroepe" betree. Beteken dit nou dat daar géén "manlike beroepe" oorgebly het nie en dat "feminisme" finaal daarmee klaargespeel het?
 
Geslagtelike beroepsrolle hang ten nouste saam met kultuur en  -verskille. Vanuit my kultuurkonteks sien ek nie graag dat 'n vrou se vroulikheid en/of moederlikheid deur 'n beroep nadelig aangetas sal word nie. (Waarom maak mans nie damestoilette skoon nie, maar vroue wel manstoilette? "Natuurlik" hoort hulle nie daar nie. So kon die gewraakte Reitz-voorval voorkom gewees het.) Ek sien ook nie graag vroue in hoë-risiko en gevaarvolle beroepsomgewings nie (operasionele beroepsoldaat of ondergrondse mynwerker).
 
Ek is gekant teen vroue in die rol van minister van verdediging en as hoof van die SAPD in mansgedomineerde beroepsomgewings. Dis hoogs onwaarskynlik dat sulke vroue self deur al die range vanaf onder tot bo-uit gevorder het, en daarom nié oor die uiters noodsaaklike beroepskennis, -vaardighede en  -ervaring beskik vir die suksesvolle funksionering van óf die SAW óf die SAPD in landsbelang nie. Dit is te wyte aan die ANC se "onnatuurlike" praktykmaking van geslagsgelykheid in 'n omgewing waar dit nie alleen tot groter kwesbaarheid lei nie, maar waarvoor die ganse SA-samelewing die prys moet betaal.
 
Indien enigeen my die "seksis"-etiket vir my standpunt wil omhang, staan dit hom/haar vry om so te doen.
 
 
 

Tuesday, 11 December 2012

Geloftedag 'n toets vir Afrikanertrou

Volgens 'n studiestuk van die "Navorsingsafdeling van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting", was die boek "Redelijke Godsdienst" van Wilhelmus Brakel sowel bekend as gelees deur beide Andries Pretorius én Sarel Cilliers. Daarin word die aflê van geloftes, en die voorwaardes daarvoor, behandel. Synde 'n verbintenis aan God, moet dit nagekom word (Ps.76:12; 50:14).
 
As kultuurskepping van die Afrikanervolkslewe het die viering van Geloftedag, as volksfees, 'n sterk godsdienstige karakter openbaar. Die Passiespele in Oberammergau dra dieselfde karakter. As oudste Afrikanerfees het Geloftedagherdenking vanuit die staanspoor sentraal gestaan in die Afrikanervolk se kultuurstryd. Synde 'n gelofte aan God, het godsdiens daarom altyd 'n prominente rol in feesprogramme gespeel.
 
Vanaf 1995 is die amptelike benaming, "Geloftedag", vervang met "Versoeningsdag". In 'n Versoeningsdagtoespraak het oud-pres. Mandela die tradisionele Geloftedag-fokus ingrypend verskuif na "inter-afhanklikheid van mekaar as vrye en gelyke landsburgers". Vir die ANC-regering is Geloftedag bloot 'n eksklusiewe volksfees van 'n rasseverdelende aard.
 
Beide die FAK en die NG Kerk (onder dr. Freek Swanepoel) sou nou die kerngedagte van Geloftedag met dié van ANC-"versoening" probeer kombineer. Die Ned. Herv. Kerk sou egter die viering, soos in die verlede, voortsit. In 1997 besluit die ATKV om op dié dag versoening oor kultuurgrense na te streef en 'n meer inklusiewe karakter daaraan te gee, dog sonder om afbreuk aan die oorspronklike Gelofte-idee te doen.
 
Die voorgemelde ANC-verskuiwing van Geloftedag na Versoeningsdag het onvermydelik tot verdeeldheid tussen Afrikaners gelei. Volgens gemelde studiestuk het die pers dikwels die indruk geskep "dat Geloftefeesvierings rassistiese byeenkomste van ver-regse Afrikaners was."
 
16 Desember 2012 plaas Afrikaners opnuut voor die keuse van 'n primêr eksklusief-bindende gelofte-nakoming teenoor God, óf 'n sekondêr-inklusiewe horisontalistiese nastrewing van versoening met alle kultuurgroepe wat beslis nié die kern van die Geloftesluiting onder lewensbedreigende en volksuitwissende omstandighede was nie. Dié Geloftedebat gaan voortduur en Afrikanertrou deurentyd toets.
 
 
 

Tuesday, 4 December 2012

Staak dobbelspel met voedselvoorsiening

Die verband tussen voedselvoorsiening en plaasveiligheid in SA is duidelik. Volgens die TLU is 'n honderd plaasaanvalle reeds tot begin Oktober vanjaar geregistreer in vergelyking met 85 in 2011. Volgens 'n Landbousensus was daar in 2007 37 289 wit boere wat tot 22 400 verminder het. Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies voorspel dat die getal kommersiële boere oor vyftien jaar tot 15 000 kan verminder.
 
Die huidige getal wit boere en plaaswerkers voorsien voedsel aan 55 miljoen mense . Tans is daar 1 256 000 swart bestaansboere, saam met 35 000 swart gemeenskapsboere, waarvan hul produksie slegs in die eie en gesinsbehoeftes voorsien. Oor die afgelope twee jaar het die getal hongergeteisterdes suid van die Sahara vanaf 170 tot 230 miljoen toegeneem. Die gevaarligte flikker onheilspellend.
 
Alhoewel die ANC-regering seer sekerlik sal/behoort te weet dat voedselsekerheid 'n sleutelvoorwaarde vir sosiale en politieke stabiliteit is, word steeds toegelaat dat liedjies soos "Kill the Boer" dié noodsaaklike sekerheid destabiliseer. Voeg hieraan toe die ANC se grondhervormingsplanne, toenemende besoedeling van waterbronne, arbeidswetgewing, agteruitgaande infrastruktuur, korrupsie in die landbousektor en dergelike meer, en dit   -   onder meer   -   verklaar die daling in die kommersiële boeretal van wie ons afhanklik is vir voedselvoorsiening.
 
Onder geen omstandighede mag die ANC langer daarvan 'n dobbelspel maak deur nié die oorblywende boere se voortbestaan tot nasionale prioriteit te maak nie. Net hulle staan tussen ons en hongersnood. Dit verg daarom die dringende aandag én daadwerklike optrede van die regering en ministerie van Polisie.                      (ngn)