Die berig "Studerende LP's druip in groot getalle" (DB,15.12), het betrekking. Ek vind dit onaanvaarbaar dat "honderde hoogs betaalde (sowat R875 000 per jaar!), maar swak gekwalifiseerde parlementslede" die burgery sal verteenwoordig in 'n parlementêre bedeling gevestig op 'n grondwet wat wêreldwyd hoog geroem en as een van die mees progressiewes beskou word. Watter soort leierskap laat dit toe? Iewers is daar beslis 'n gróót fout.
Uit beriggewing word dit duidelik dat dié groot aantal parlementariërs - 275 van 400 LP's - nié toegerus en bekwaam is vir hul taak nie; vandaar "dat 275 LP's vanjaar vir Unisa se kursus in regeerkunde en leierskap ingeskryf het" waarvan 82 (30%) gedruip het. Hierdeur maak ons onsself belaglik in die oë van die eerste wêreld waarvan ons so graag deel wil wees, en in dié se welvaart deel, maar self nie daartoe opgewasse is nie.
In sy boek, "Historiese Wordingskunde", gebruik F.J.Potgieter die uitdrukking "psythokratiese stemverheffing" waarmee hy na die derde wêreldse "babbelende, demokratiese gepeupel" in die VVO-vergadersale verwys. Ons karig-geletterde parlementariërs laat my aan iets hiervan dink.
Wat anders as besonder duur "rubberstempels" van die ANC-regime kan dié ongekwalifiseerdes wees? Watter werklike verskil sou dit teweegbring om hulle met "His Master's Voice"-geprogrammeerde robotte te vervang? Sulke robotte sal nie sit en slaap nie, nie massaal eet en drink nie, benodig nie luukse huisvesting, vliegkaartjies of goue handdrukke nie.
Is SA se parlementêre geskiedenis ooit vooraf deur so 'n laagtepunt gekenmerk? Wat sê dit van wetgewing wat deur só 'n parlement deurgevoer word? Is SA daartoe in staat om homself van dié absurditeit te bevry? (ngn)
No comments:
Post a Comment