Volgens 'n studiestuk van die "Navorsingsafdeling van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting", was die boek "Redelijke Godsdienst" van Wilhelmus Brakel sowel bekend as gelees deur beide Andries Pretorius én Sarel Cilliers. Daarin word die aflê van geloftes, en die voorwaardes daarvoor, behandel. Synde 'n verbintenis aan God, moet dit nagekom word (Ps.76:12; 50:14).
As kultuurskepping van die Afrikanervolkslewe het die viering van Geloftedag, as volksfees, 'n sterk godsdienstige karakter openbaar. Die Passiespele in Oberammergau dra dieselfde karakter. As oudste Afrikanerfees het Geloftedagherdenking vanuit die staanspoor sentraal gestaan in die Afrikanervolk se kultuurstryd. Synde 'n gelofte aan God, het godsdiens daarom altyd 'n prominente rol in feesprogramme gespeel.
Vanaf 1995 is die amptelike benaming, "Geloftedag", vervang met "Versoeningsdag". In 'n Versoeningsdagtoespraak het oud-pres. Mandela die tradisionele Geloftedag-fokus ingrypend verskuif na "inter-afhanklikheid van mekaar as vrye en gelyke landsburgers". Vir die ANC-regering is Geloftedag bloot 'n eksklusiewe volksfees van 'n rasseverdelende aard.
Beide die FAK en die NG Kerk (onder dr. Freek Swanepoel) sou nou die kerngedagte van Geloftedag met dié van ANC-"versoening" probeer kombineer. Die Ned. Herv. Kerk sou egter die viering, soos in die verlede, voortsit. In 1997 besluit die ATKV om op dié dag versoening oor kultuurgrense na te streef en 'n meer inklusiewe karakter daaraan te gee, dog sonder om afbreuk aan die oorspronklike Gelofte-idee te doen.
Die voorgemelde ANC-verskuiwing van Geloftedag na Versoeningsdag het onvermydelik tot verdeeldheid tussen Afrikaners gelei. Volgens gemelde studiestuk het die pers dikwels die indruk geskep "dat Geloftefeesvierings rassistiese byeenkomste van ver-regse Afrikaners was."
16 Desember 2012 plaas Afrikaners opnuut voor die keuse van 'n primêr eksklusief-bindende gelofte-nakoming teenoor God, óf 'n sekondêr-inklusiewe horisontalistiese nastrewing van versoening met alle kultuurgroepe wat beslis nié die kern van die Geloftesluiting onder lewensbedreigende en volksuitwissende omstandighede was nie. Dié Geloftedebat gaan voortduur en Afrikanertrou deurentyd toets.
No comments:
Post a Comment