Waarskynlik is ek een van weinig - dalk selfs die enigste - wat meen dat Frits Gaum se artikel, "Vier strominge in kerk" (DB,19.12), nie werklik 'n realistiese bydrae tot die heersende situasie in die NG Kerk lewer nie. Waarom dié bewering? Dink 'n mens ietwat "behaviouristies", dit wil sê in terme van oorsaak en gevolg, dan is dit duidelik dat Gaum se "strominge in die kerk" bloot die reaksie van lidmate beskryf op die rigting wat die huidige kerkleiding inslaan.
Gaum se weergawe van kerklike gebeure is slegs wat ek 'n lidmaat-tipologie sal noem vanweë hul reaksie op die kerkleiding. As hy dit "reaktiewe strominge" sou noem, gaan ek akkoord, maar hy doen dit nie. Die werklike ontstaan-"strominge" is die sluise van "anderse" en "vernuwende" kerklik transformerende denkstrominge wat oopgemaak is/word deur die kontemporêre teoloë en kerkleiers. Dìt is die "ware strominge", strominge waardeur lidmate meegevoer word wat nie primêr deur hulle losgelaat is nie, maar wel deur die geestelike leiers binne die kerk. Dìt is die "bron" van die strominge; nie die lidmate nie. Die "lidmaat-strominge" is slegs die reaktiewe uitvloeisels op die "leierskapstrominge" binne die kerk. Laasgenoemde is die "ware strominge" waarop Gaum die lesers moes wys; nie die "reaktiewe lidmaatstrominge" nie.
Gaum ontleed die simptome in die kerk, stel dan 'n lidmaat-tipologie saam, en bied dit aan die leser as "strominge in die kerk". Nee, Gaum, lidmate kyk daarby verby en vra na die onder- en agterliggende kerklik-transformerende oorsake van dié simptome as die "werklike strominge" in die kerk en soos deur die kerkleiers teweeggebring. (ngn)
No comments:
Post a Comment