Monday 17 February 2014

Raadgewer Mouton se advies lyk bra verdag

Tydens die opening van die US se Bestuurskoolontwikkeling (USB-BO)se entrepreneurskap-oorbruggingsjaar, sê Jannie Mouton: "As jy negatief is oor Suid-Afrika, emigreer, want jy irriteer my." (DB,12.02). Ek vind dit hoogs aanmatigend, getuigende van uiters swak smaak   -   asook 'n potensiële verleentheid vir jou gasheer   -   om vir 'n bepaalde groepering van persone, om watter rede(s) ook al, te sê: "jy irriteer my...emigreer".

Wat my tref, is die wyse waarop hy 'n naskoolse oorbruggingsjaar, deurgebring in Engeland, vergelyk met 'n soortgelyke jaar in Afrika. Van sodanige jaar in Engeland sê hy dit "is tydmors". Daarteenoor sê hy: "gaan op in Afrika...Wanneer jy terugkom, sal jy 'n gesogte persoon wees."

Die bestaan van 'n "negatiewe" groepering dienaangaande, kan waarskynlik nie ontken word nie. Mouton ontken/ignoreer duidelik die bestaan ook van 'n nugterdenkend realistiese groepering van jongmense   -   met visie en ambisie   -   met die ideaal om hoër te wil uitstyg met hul Godgegewe gawes en talente as wat die voetboeie van die ANC se regstellende-aksie program hulle toelaat.

Té dikwels word sodanige realisme moedswillig vertolk   -   in 'n opportunistiese omgewingsklimaat (soos by USB-BO)   -   as 'n vorm van negatiwisme en dislojaliteit aan S.A. Mouton blyk homself hieraan skuldig te maak. Dat daar talentvolle jongmense is wat hul lewensperiskope instel, hoër as die gemiddelde, op die toekomshorison van die omringende onstabiele Afrikavaarwaters, kan nie ontken word nie.

Is ontwikkelende derdewêreld (Afrika)-kundigheid, ervaring en entrepreneurskapspotensiaal dan meerderwaardig teenoor dié van 'n ontwikkelde eerstewêreld (Europese)-kundigheid, ervaring en potensiaal? Mouton se advies blyk nie vir my te berus op 'n appels-met-appels-vergelyking nie, maar eerder op napratende ideologies-pragmatiese oorwegings. Dié advies blyk in dieselfde kategorie te wees as dié van die hoogsbetaalde onderwysadviseurs wie se aanbevelings oor uitkomsgebaseerde onderwys op dieselfde denkpatroon geskoei was, die mislukking waarvan reeds deur die ANC in die openbaar erken is.






No comments:

Post a Comment