Monday 24 February 2014

Hoe lees dié dosent dan tog so verkeerd?

Ek reageer op dr.W.S.H.du Randt se brief (DB,21.02). Koning Leeu het Muis se onwelkome "sinledige pluimpie" as 'n "integriteits"-aantastende pluk aan sy snorbaard vertolk. Sjoe! En toe val die houe van "blatant begriplose en irrelevante laster" oor Du Randt se "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" op Muis se rug.

Verwysende na "wetenskaplikheid", behoort Du Randt te weet dat, volgens Karl Popper se krities-rasionalistiese wetenskapsmodel, wetenskapsbeoefening vanaf "vermoedens" (conjectures) na "weerlegging" (refutations) beweeg. In my skrywe (DB,10.02)   -   in reaksie op sy skrywe (DB,06.02)   -   het ek juis blote "vermoedens" daaroor uitgespreek, soos, byvoorbeeld, dat daar 'n kentering by hom gekom het in sy siening van Afrikaners (hy erken ruiterlik dat Goosen (FAK/AB) se insigte dien as "waardevolle korrektief op sy (Du Randt se) oordele") en dat hy waarskynlik uitgesluit was van die elite AB-geledere. Baie betekenisvol reageer hy hoegenaamd nié op dié vermoedens om dit te weerlê nie, maar wend hom tot 'n vulkanies-vuurspuwende woorde-uitbarsting.

Nêrens voer ek enige "bespiegeling" (vermoede) aan oor sy "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" óf sy "politieke, kulturele en literêre integriteit" nie. Dit is 'n duimgesuigd valse beskuldiging. Hoe is dit dan dat dié "wetenskaplike...letterkundige dosent" tog só verkeerd kon lees? Hy beskuldig my van "irrelevante laster in die slotparagraaf" waar ek vra: "Sou hy ook sy jarelange beïnvloeding van studente tot sy sienswyse van Afrikaners, deur sy vak, ná heroorweging wou verander   -   indien hy sou kon?" Ontken Du Randt die bewustelike en/of onbewustelike beïnvloeding van studente deur dosente? Indien dié noodwendig onvermydelike beïnvloeding wel aanwysbaar is, is dit "laster"?

Hy verwag van my om op Google, sy webwerf, CV en intreerede oor sy "wetenskaplikheid as letterkundige dosent" te gaan lees. Met watter doel? Om regverdiging daarin te vind vir sy aanval op my positief kredietverlenende erkenning aan hom? Laat ons negatief wanvoorstellend vertolkende reaksies probeer vermy.                      (ngn)




No comments:

Post a Comment