Om histories aanwysbare redes loop die Engelse en Franse, as nasies, nie oor van liefde vir mekaar nie. By geleentheid het Napoleon Bonaparte spottenderwys na die Engelse as " 'n nasie van winkeliers" verwys. So sal elke nasie/volk waarskynlik, volgens elkeen se besondere kenmerke, tipeer kon word.
As wat sou ons as nasie in S.A. tipeer kon word? Nkandla-beriggewing werp toenemend lig op waarom ons in S.A. 'n nasie van sakkrappers geword het. Nommer Een is duidelik die voorste (selfverontskuldigende) sakkrapper in S.A. - Sakkrapper Nommer Een - wat na hartelus in die S.A.-geldsak krap. Met hom, en deur sy voorbeeld, aan die spits, het hy reeds 'n baie groot gevolg van mede-sakkrappers rondom hom opgebou met 'n domino-effek op alle bestaande vorme van nasionale-, provinsiale- en plaaslike owerheidsgeldsakke in S.A.
Die etiek van hierdie sakkrapperbende word skynbaar gerig deur die oortuiging van "jy mag jouself help aan dit wat nie joune is nie, maar jy mag net nie uitgevang word nie". Die oortreding lê nie in die "vat" (sakkrap) nie, maar in die "uitvang".
Die sakkrappers in die vullissakke op ons sypaadjies - al mors hulle en word ons vir hulle vies - krap daarin omdat hulle arm en honger is, én hulle doen dit openlik. Dat ons nog nie voldoen aan die hoëre funksies van suksesvolle "kopkrap" in S.A. nie, maar wel aan die laere funksies van sakkrap, is duidelik. Dit maak van S.A. 'n nasie van sakkrappers.