Die begrip transformasie beskryf een van die mees uitstaande kenmerke van die nuwe S.A. Dit laat geen lewensfeer onaangetas nie; ook nie die kerklik-geestelike nie. Wag daar dalk vir laasgenoemde kontekstueel-transformerendes 'n ontnugtering aan die einde van hul lewensreis? Op grond waarvan dié bevraagtekenende vraag? Die bestaande Skrif- en Godsbeskouing word tans só radikaal getransformeer dat die oue en die nuwe haas onversoenbaar en wedersyds uitsluitend is.
Die eeue-oue meganiese interpretasie dat die Bybel God se geïnspireerde Woord óór en vìr die mens is, word nou verwerpend vervang met die organiese interpretasie wat beweer dat die Bybel bloot mensewoorde oor God en mens is. Dit is presies wat, onder meer, prof. Wilhelm Jordaan in sy "Ruimer denke, nes geloof, kán jou lewe verryk" (Beeld,25.06), beweer. Hy sê dat "...bepaalde Christelike godsdiensbegrippe...(en) God se eienskappe... sterk beïnvloed (én verryk) is deur gelykluidende (af-)godestories..." Jordaan erken dat kinders en jongmense geskok word wanneer hulle "...gekonfronteer word met (dié) vernuwende denke waarvan hulle nog nooit gehoor het nie." Hy versoek Christene om nie "...hardnekkig vol te hou (met) 'my geloof en godsdiens' aanbid die enigste ware God en is die enigste saligmakende waarheid" nie.
Dié "vernuwende" geloofsdenke bring Christengelowiges by 'n kruispad. Ek, wat nie dié "nuwe" getransformeerde geloofsroete - wat die Bybel tot mites en mensewoorde reduseer en 'n Godsbeeld konstrueer in sameflansing van vreemde afgodsbeelde - wil inslaan nie, verkies om eerder Paulus se raad aan Timoteus - "Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo" (2 Tim.3:14) - te volg.