Monday 30 March 2015

Waarheidstransformasie lei tot krisisse

Post-1994 SA word deur transformasie, een van die kragtigste wapens in die NDR-arsenaal, gedryf met feitlik geen samelewingsektor wat nie daardeur geraak word nie.

Dit is geen bedrieglik intuïtiewe aanvoeling dat ook waarheid getransformeer word nie. Onmoontlik om te kwantifiseer, weet ons egter   -   afleibaar vanuit die bedenklike waarheidsmiskenning in die wapen- , Gupta-  en Nkandlaskandaal, kwalifikasievervalsings, Eskomverskonings, korrupsie, en 'n legio meer gevalle   -   hoedat skynwaarheid en waarheidsontkenning toenemend veld wen. Hoevele kere, veral betreffende ondersoekbevindinge, vra ons onsself af of dit waar, en of dit toesmeerdery is.

Waarom floreer dié bedrieglike waarheidstransformasie, en het ons elkeen nie ook 'n plig om waarheid te beskerm nie? Edmund Burke antwoord soos volg: "All that is needed for the forces of evil to triumph is for enough good men to do nothing...(and) to remain silent." Psalm 45:5b antwoord met 'n duidelike opdrag: "Knoop die stryd aan vir die waarheid."

George Orwell wys op die risiko verbonde aan die beskermende verdediging van waarheid wanneer hy sê: "The further a society drifts from truth, the more it will hate those that speak it." Plek-plek in Europa word Orwell korrek bewys waar waarheidstransformasie reeds so ver gevorder het dat waarspraak as haatspraak veroordeel word. SA brandmerk waarspraak as polities inkorrek.

Allerlei krisisse in SA word beklemtoon, dog, indien nog nie in 'n waarheidskrisis nie, is ons sterk op pad daarheen. Onderliggend aan al dié krisisse lê die waarheidskrisis, die direkte gevolg van waarheidstransformasie.








No comments:

Post a Comment