Monday 13 April 2015

Mag wysheid seëvier in beelde-vendetta

Beeldevernietiging is dikwels kenmerkend van ideologies geïnspireerde politieke rewolusies. Plaaslik hoef daar nie verder gesoek te word as die ANC se nasionale demokratiese rewolusie (NDR) as klimaatskeppend vir die huidige landswye naams-  en beeldevernietiging nie. Die ANC-transformasienetwerk is ingestel op die algehele vernietiging van alle oorblyfsels uit die vorige bedeling.

Enige bestaande simboliese bewyse van Europese bydraes tot die ontwikkeling en opbou van die SA van vandag, word vervang met die illusie dat die verlede géén bydrae gelewer het tot die nuwe SA nie. Die verlede is irrelevant en verdien geen erkenning nie. En, siedaar, bevry van alle Euro-geassosieerde verledesimbole, verrys die nuwe SA-feniks triomfantelik uit die as van die vernietigde vorige bedeling.

Standbeelde weerspieël die heroïese verlede van volkere en bestaan voort selfs nadat sulke volke reeds verdwyn het, en word dikwels   -  as wêrelderfenis   -  vir die nageslag bewaar. Dit is 'n luukse wat duidelik nie die SA-verlede beskore is nie. Die verlede is uitgewis! Viva, lank lewe die rewolusionêre toekoms!

Waarin lê die oplossing vir ons beelde-vendetta? Streng hantering volgens grondwetlike voorskrifte? Die toelating van ANC-manipulering van die magsmiddele tot sy beskikking? Summiere kapitulasie sonder enige beswaarmaking? Mini Kodesa's op 'n streeksgrondslag oor ons standbeeldetoekoms? Of, soos reeds gesuggereer, verskuiwing na ruimtes soos beeldeparke  -   ruimtes soortgelyk aan Robbeneiland en bemark as besienswaardighede teen betaling aan buitelandse toeriste?

Die inherente konflikpotensiaal opgesluit in die toekomslot van SA-standbeelde, moet nie onderskat word nie. Dit kan egter deur alle rolspelers óf met wysheid (leef-en-laat-leef), óf met dwaasheid (vernietigend soos tans) benader word. Mag wysheid egter seëvier in dié beelde-vendetta.






No comments:

Post a Comment