Monday 20 April 2015

Partybelang offer Zille op rasaltaar

Uit die berig: "Zille 'uit oor ras', was glo in hoek vasgekeer", en met Zille wat sê: "Ek wil nie uittree nie, ek wil nie gaan nie, glo my" (DB,14.04), blyk dit dat die raselement van die DA se nie-rassigheidsbeleid haar genoop het om te bedank. Die kwesbare achilleshiel van nie-rassigheid is 'n belangrike rede vir haar vertrek.

Die SA-samelewing, getuigend eerder van 'n veel-  of meerrassige as nie-rassige aard,  is duidelik nog ligjare verwyder van gereedheid vir 'n nie-rassige politieke bestel. Nie-rassigheid berus op die onoortuigende aanname dat alle mense, ongeag onweerlegbare verskille, tot slegs een enkele ras behoort: die menslike ras. Dit staan onverdraagsaam teenoor enige poging tot rasse-onderskeiding, etnisiteit en volksheid   -   staan die "melting pot/reënboogidee" voor   -   in plaas van die bestaansuniekheid van rasdiversiteit te erken én te respekteer.

Die nie-rassigheidsbegrip verwoord 'n verdraaide voorstelling van die raswerklikheid. Dit is 'n kunsmatig menslike skepping as strategiese middel tot 'n doel. Die Afrika-rasvisie ontken en verwerp dié onnatuurlike nie-rassigheidskonstruksie, en opereer rasonderskeidend binne 'n meerrassigheidskonteks. Voorbeelde: Wanneer Mugabe sê: "Ek wil nie 'n wit gesig sien nie" (DB,11.04), en xenofobiese oproermakers wit-  en Indiërmense toesnou: "F...f! Afrika is vir Afrikane!" (DB,17.04), getuig dit juis van 'n anti-nie-rassige sentiment.

Nie-rassigheid beteken beslis nie rasbevryde rasloosheid nie, maar leen sigself tot pragmatiese rasmanipulering. Die beweerde voorskriftelike ingryping in die rassamestelling van die nie-rassige Protea-krieketspan in sy halfeindstryd teen Nieu-Zeeland   -   geldende ook vir sovele ander sportsoorte   -   stel die kwesbaarheid van nie-rassigheid aan die kaak wanneer meriete deur die voete van ras vertrap word.

Dieselfde geld ook die kwesbaarheid van 'n lewensvatbaar beperkte nie-rassigheidsbeleid in die politieke konteks. Verskansing daarteen word gesoek in die pragmatiese prysgawe van wit DA-leierskap en toename in swart partyondersteuners. Dit, onder meer, verduidelik Zille se bedanking. Sy moes reeds geruime tyd daarvan bewus gewees het dat sy, in partybelang, haarself uiteindelik teensinnig op die rasaltaar sou moes offer.



No comments:

Post a Comment