Ek reageer op Petrus se skrywe (DB,26.02). Daarin verwys hy na my "vermaning...aan Rina", en eindig hy daarmee dat dit "uiters onsmaaklik (is)...om dié wat daarteen beswaar maak te kritiseer."
Indien Petrus my skrywe (DB,22.02) behoorlik sou lees, sal hy sien dat ek op Rina se ongesubstansieerde beskuldiging van álle dokters - en nie net "ene Dokter" - as synde siekefondsmelkers en geldgierige pasiëntuitbuiters te wees, gereageer het. My standpunt sentreer rondom die openbare verdagmaking van álle dokters op 'n veralgemenende wyse, en dit bly steeds my standpunt. Oor siekefondse het ek my nie uitgelaat nie - slegs suiwer oor die dokteraanklagte.
Die mediese professie verteenwoordig 'n konteks met eie spelreëls. Is Petrus en Rina ten volle op die hoogte daarvan? Het hulle 'n analise gemaak van die samestelling van dokters se goedgekeurde tariewe en die toelaatbaarheid van tariefheffings? Indien wel, as daar dan diegene is wat dié professie se spelreëls oortree, waarom hulle dan nie identifiseer en die regte kanale volg om hulle aan te kla nie, maar staak tog net die onaanvaarbare verdagmaking van die openbare beeld van álle dokters.
Petrus en Rina se werkswyse herinner aan die leerkrag met 'n klas van veertig leerlinge waarvan een leerling se geld verdwyn het, en nou - omdat die leerkrag planloos is, óf nie kan óf wil nie - al veertig leerlinge straf. Dis 'n onvergeeflike onreg; presies wat Rina en Petrus met dokters doen.
Bewaar SA tog daarvan dat iewers in die toekoms 'n "Doctors Must Fall"-beweging aan die gang sal kom. Sal ons juig as ons dokters landuit begin beweeg? Dit is nou vir Petrus en Rina om te bewys dat óf álle dokters aan geldgierigheid skuldig is, óf die onskuldiges om verskoning vra. Soos die Engelssprekendes sê: "I rest my case."