Friday 19 February 2016

Rina 'n verskoning aan dokters verskuldig

Rina (DB,11.02) maak die stelling: "Pasiënte en siekefondse word gemelk", en vra dan: is dokters se "werk deesdae net 'n beroep om geld te maak?" Sedert Rina se stelling en suggestiewe vraag, het 'n debat op gang gekom. Met Alexa (DB,18.02) wat sê: "Dis tyd dat die geldhonger en arrogante artse op hul plek gesit word", word die grense van aanvaarbaarheid daarmee oorskrei.

In antwoord op Rina, sê Dokter Ook Maar Mens (DB,13.02) "...ek is 'n dokter...met 'n roeping in my hart". Sy selferkende roepingsbewustheid is van 'n hoër etiese orde as Rina se beroepsgedagte. In 'n dalende volgorde van arbeidsetos kan die begrip "werk" (Eng. :job) onderaan daaraan toegevoeg word. Alle professies word gekenmerk deur beoefenaars wat   -   volgens innerlike ingesteldheid   -   in dié etos-dalende kategorieë van roeping, beroep en werk (job) geplaas kan word. Dit geld ook ander professies; dus ook die mediese professie.

Ongelukkig tref Rina nie hierdie onderskeid nie, maar skiet veralgemenend vanaf die heup in die bondel   -   en kwe(t)s sodoende die onskuldiges   -   op 'n lukraak mogge-treffe grondslag ten einde die kind met badwater en al uit te gooi. Haar veralgemenende stelling diskrimineer onbillik teen minstens sommige dokters, terwyl sy ten opsigte van ander moontlik reg mag wees.

Ek beskou dit as 'n ernstige oordeelsfout om lede van 'n noodsaaklike, onmisbare en gerespekteerde professie   -   of enige ander professie   -   te beskuldig sonder deeglike vergewissing van, en verskaffing van, stawende feite ter ondersteuning van sodanige aantygings. Indien daar wel skuldiges is, ontmasker hulle dan, maar 'n veralgemenende beskuldiging is onaanvaarbaar.

Op grond van haar onbewese stelling, meen ek dat Rina 'n verskoning aan dokters verskuldig is.










1 comment:

  1. Ek dank die Here vir 'n besonder simpatieke en uiters deeglike longspesialis, Dr Justus Killian, wat nie net na longe kyk nie, maar na die hele mens. Hy het my trane gesien, na my stories oor my liewe man se kwale geluister. Bloedtoetse laat doen om te sien waarom my man so "vergeetagtig" en lusteloos geword het. Dit was toe van die simptome van 'n onderaktiewe skildklier. Met die regte medisyne het hy baie gou beter geword.

    ReplyDelete